Die burgerregteorganisasie, Afriforum sê die EFF het vroeër vandeesweek ’n elektroniese bewys van betaling ten bedrae van R316 000 aan die organisasie gestuur.
Dié betaling spruit uit ’n kostebevel wat die EFF in September vanjaar opgelê is ná die uitgerekte grondbesettingsregsgeding wat AfriForum gewen het.
Volgens AfriForum blyk dit egter asof dié bewys van betaling vervals is.
Afriforum sê die dokument is so gewysig om valslik die indruk te skep dat die betaling uit ’n EFF-rekening gemaak is, terwyl dit in werklikheid deur ’n onbekende finansier betaal is.
“Hoewel die bedrag in AfriForum se rekening reflekteer, het Standard Bank reeds bevestig dat die betrokke betalingsbewys inderdaad gedokter is,” sê die organisasie se hoof van openbare betrekkinge, Ernst van Zyl.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid is opdrag gegee om die EFF se moontlike kriminele oortredings, insluitende vervalsing sowel as bedrog, te ondersoek.
bron:“Die EFF stuur vervalste bewys van betaling,” meen AfriForum – Pretoria FM