REIVILO, NOORDWES. – Alida Clapton (68) is dood en Frik Clapton (77), haar man, ernstig beseer tydens ‘n plaasaanval Vrydagoggend op die plaas Sekhtsane, ongeveer 20 km van Revilo in Kuruman se rigting.
Kapt. Aafje Botma sê dis nog onbekend presies wanneer die moord en huisroof plaasgevind het. Die polisie is besig met ‘n ondersoek.
Die voorman op die plaas het gisteroggend op die grusame toneel afgekom, waarna die polisie ontbied is. Alida Clapton is met vasgebinde hande en voete in die gang gevind. Sy is aangerand en het aan haar beserings gesterf.
Die manlike slagoffer is ook met vasgebinde voete en hande op die bed gevind. Hy was erg aangerand en is vir mediese hulp na ‘n hospitaal geneem.
Botma sê ‘n onbekende aantal verdagtes het deur ‘n gebreekte venster en diefwering toegang tot die huis verkry.
Die verdagtes het met vuurwapens en selfone in die Ford Ranger-bakkie wat hulle gesteel het in die rigting van Kuruman gevlug. Die bakkie is later in die area gevind.
Nog geen inhegtenisnemings is gemaak nie.
source:Gewelddadige plaasaanval – bejaarde vrou sterf, man ernstig beseer (find-it.co.za)