- This topic is empty.
-
AuthorPosts
-
2025-03-09 at 17:07 #463452
Nat Quinn
KeymasterAfrikaners van hoogverraad aangekla?
Afrikaners, Orania, Trump en die ANC: Wat is besig om te gebeur?
Verteenwoordigers van die Solidariteit Beweging en AfriForum is onlangs van hoogverraad aangekla. Die SAPD se spesiale ondersoekeenheid, die Valke, het bevestig dat hierdie sake ondersoek word. Intussen het ʼn sogenaamde regskenner op eNCA ook die mening geopper dat Solidariteit, AfriForum, en sommer Orania ook, skuldig bevind sou kon word op klagtes van hoogverraad.
Al hierdie drama volg na afloop van die nou beroemde (of berugte?) uitvoerende opdrag van President Trump van die VSA, wat druk op die Suid-Afrikaanse regering gaan plaas, finansiële bystand gaan staak, en moontlik vir Afrikaners “vlugtelingstatus” gaan bied. Aldus die klaers (soos die MK-party), is die Solidariteit Beweging se Amerikaanse skakeling ʼn poging om die gesag van die Suid-Afrikaanse regering deur buitelandse druk te ondergrawe. Orania se OPROEP TOT TRUMP sou kwansuis volgens die regskenner ook by hierdie “bondel beskuldigdes” ingegooi kon word.
Oproep tot Trump: Help ons hier Die term “hoogverraad” roep beelde uit Afrikaners se verlede op. Sou dit die beeld van die Slagtersnek-rebelle wees wat in die naam van “hoogverraad” teen die Britse Kroon gehang is, of die bekende beeld van Jopie Fourie wat vir dieselfde aanklag tereggestel is? Die Daily Maverick was vinnig om hoogverraad in die lig van die Boeremag te klassifiseer. Mens kan ook nie eintlik anders as om aan Mandela en die Rivonia-saak te dink nie.
Uit al hierdie voorbeelde, voorbeelde waar geweld en selfs oorlog aan die orde van die dag was, is daar steeds baie omstredenheid oor wie held en wie skurk is, wie verraaier en wie lojalis is.
In die lig hiervan is ons situasie heelwat beter. Die “aangeklaagdes”, in ons eie vredestyddrama, is nie eers in die konteks van verskillende narratiewe skuldig nie. Geen misdaad is gepleeg nie, niemand is skade (fisies of geestelik) aangedoen nie, ten spyte van ʼn paar ANC amptenare wat nou in die verleentheid sit.
Nóg Solidariteit, nóg Orania sal deur enige legitieme regbank skuldig bevind word van hoogverraad. Indien daar dus wel voortgegaan word met ʼn openbare proses wat ʼn de facto skuldigbevinding voorhou, of deur die howe hierdie valse saak aan te hou legitimiseer, sal dit wêreldwyd duidelik wees dat die Suid-Afrikaanse regering met ʼn heksejag besig is. Dit sal die Afrikanerstemme wat regeringsvergrype uitwys, versterk en reg bewys.
Orania se gewete en geskiedenis is skoon. Die Orania-opsie was nog altyd ʼn uitkoms vir Afrikaners wat ʼn vredevolle, volhoubare en bydraende oplossing probeer bou het. Professor Carel Boshoff, dr Chris Jooste en die ander pioniers het hulle altyd as ʼn vredeliewende, pro-gesprekvoerende “derde opsie” posisioneer.
Ons mág aan ons eie kant wees. Ons mág vir ander regerings (in Afrika, Europa, die VSA of waarookal) vra om ons erkenning te gee en ons saak te ondersteun.
Enige-een wat dit as verraad uitmaak, is bloot ontsteld omdat daar ingemeng word met hulle vermoë om Afrikaners te ondergrawe.
Regskenner meen Orania skuldig aan hoogverraad Foto Skermskoot van ‘n artikel wat die klagtes van hoogverraad aankondig.
BELANGRIK: Gebruik die skakel heel onder “View entire message” indien dit afsny as gevolg van lengte.
Heel onder aan die nuusbrief is skakels na al ons sosiale media platforms.
Tucker Carlson oor Orania
Op 3 Maart het Tucker Carlson, bekende Amerikaanse joernalis, ʼn onderhoud met dr Ernst Roets op sy YouTube-kanaal publiseer. Hierdie onderhoud wat al meer as 21 miljoen kyke oor verskillende platforms genereer het, het selfs ‘n bespreking oor Orania gehad. Bekende figure, soos Elon Musk, het ook die video en snitte uit die video gedeel.
Vir baie Afrikaners en Oraniërs voel dit asof ons volk ʼn nuwe fase van sy bestaan inbeweeg. Die wêreld se oë is weereens op Suid-Afrika en vir die eerste keer in ʼn lang tyd word Afrikaners weer by die naam genoem in internasionale gesprekke.
Nou word ons egter gekonfronteer met die vraag: Wat gaan ons met hierdie erkenning maak?
In ʼn onderhoud tussen Joost Strydom van die Orania Beweging en dr Ernst Roets, gesels hulle oor die gesprek met Tucker en wat daaruit geneem kan word.
Kyk gerus na die hierdie onderhoud deur te klik op die volgende video:
Volksliedkompetisie kondig
wenners aan!
Op 27 Februarie 2025, tydens Orania se Majubadagvieringe, is ʼn hoendervleis-oomblik beleef. “Roepstem van Orania” is as wenlied van die Volksliedkompetisie aangekondig en bekendgestel.
Die Murphy-gesin van Orania, het met die louere weggestap deur sowel die lirieke- en melodiekompetisie te wen. Nie net is dit ʼn oorwinning vir hierdie gesin nie, maar ook vir Orania. Dit dra by tot ons gemeenskap se strewe na volksvryheid.
Die Volksliedkompetisie is in Januarie 2023 geloods en was ʼn lang en deeglike proses. ʼn Beoordelingspaneel is saamgestel en kundiges is as adviseurs betrek. Woordkunstenaar, Daniël Hugo, en musiekkenners, Gisela de Villiers en Anton Esterhuyse het ʼn groot rol gespeel in die verwerking van die finale produk.
Orania Kunsteraad (OKeR) het die proses binne die Volksliedkomitee gefasiliteer en is opgewonde om “Roepstem van Orania” met die wêreld te deel. Bladmusiek, asook opnames van instrumentale begeleiding en begeleiding met stem, is beskikbaar. Vir verdere inligting kan volkslied.co.za besoek word. Leoni de Klerk, nuutaangestelde uitvoerende beampte van OKeR, noem dat die OKeR-bestuur reeds hierdie volkslied uit volle bors tydens vergaderings sing en moedig alle Orania-instellings aan om dieselfde te doen.
Ons vir jou, Orania!
Luister na die Roepstem van Orania deur op die volgende video te klik:
Orania gesprek met ‘Forum en vriende’
Kan kultuur in ʼn vakuum oorleef? Kan ons aanhou Afrikaners wees as ons alles sou prysgee op die Afrika-kontinent en elders vestig?
Hieroor is verskillende (sterk!) menings. Dit is egter nodig om hierdie menings te bespreek en selfs te debatteer.
Die Nederlandse Politieke Party, Forum Voor Demokrasie (FvD), se internasionale been, Forum & Friends, het Joost Strydom van die Orania Beweging genooi om aan ʼn gesprek oor hierdie kwessie deel te neem. Hulle het veral in Orania se oorsprong en bestaansdoel belanggestel, en kon ʼn lewendige gesprek oor die tema en aanverwante onderwerpe voer.
Die gesprek, wat regstreeks uitgesaai is, kan hier gekyk word:
Orania serwituutpad: ʼn Teerpunt
Die Orania Dorpsraad se Ingenieursdienste beloof om binnekort met ‘n projek te begin waarna Oraniërs al vir baie jare uitsien: die teer van die serwituutpad.
Oraniërs is gewoond aan hitte en stof – die pad na vryheid is nie altyd ʼn teerpad nie! Inteendeel is die pad na vryheid dikwels ʼn opdraande weg waar dit moeilik is om koers te hou, maar juis daarom is dit die moeite werd. Stadig maar seker maak Oraniërs hul eie omgewing gemakliker.
Ondersoeke, verkeertellings, meningspeilings en spasie binne die begroting kan die Dorpsraad met die proses begin om die serwituutpad tussen die Eureka-kruising en die R369 te teer. Volgens ʼn plasing op die Orania Dorpsraad se Facebook-blad, word daar beoog om ʼn 8m breë pad hier te teer:
“Daar word dus beplan om bietjie later in die jaar die nuwe 8 meter breë teerpad te bou, wat baie gaan help met stof en wat ook minder skade aan inwoners se voertuie en besoekende vragmotors sal verseker.”
Infrastruktuurontwikkeling en -opgradering is ʼn duur, maar noodsaaklike element van ʼn groeiende gemeenskap. Oor die algemeen geniet water-, elektrisiteit-, en ekonomiese (soos hoëspoed internetverbindings) infrastruktuur prioriteit in Orania, maar soos wat die dorp uitbrei en groei, ontwikkel daar geleenthede soos dié.
Die byna ikoniese grondpad na die dorp vanaf die R369 sal dus binnekort ʼn nuwe baadjie aantrek en Oraniërs is baie opgewonde daaroor.
Foto’s Foto’s etlike minute vanaf mekaar op ‘n gewone weeksoggend in Orania geneem, om te wys hoe besig dié pad is (foto’s van Orania Dorpsraad Facebook-blad).
Majubadag op Orania
27 Februarie is ʼn vakansiedag in Orania. Op 27 Februarie word die slag van Majuba herdenk – een van die grootste oorwinnings in ons volk se geskiedenis.
Vanjaar herdenk die 144ste jaar sedert die slag van Majuba. In Orania het die tradisie ontstaan dat verskillende instellings om die beurt op ons kultuurhistoriese dae geleenthede aanbied. Vanjaar het Bo-Karoo Opleiding (BKO) ʼn Majubadag-viering by die Orania-koppie gefasiliteer.
Die geleentheid is geopen met Skriflesing en gebed, waarna die Murphy-gesin aangewys is as die wenners van die Volksliedkompetisie. ʼn Majuba-vertelling het gevolg vir oud en jonk om hul geheue te verfris of om die verhaal vir die eerste maal te hoor. Teen 10:00 het die pret begin met ʼn watergeveg tussen studente en kinders. BKO-studente in rooibaadjies soos Britse soldate aangetrek, was ideale teikens vir die kinders se waterballonne. Kinders en studente het die koppie bestyg met watergewere en hul eie Majuba-geveg gehad. Die geleentheid is afgesluit met ʼn vasvrae en prysuitdeling.
In Orania geniet ons praktiese vryhede soos om ons eie herdenkingsdae te kan vier. Om as ʼn gemeenskap bymekaar te kan kom en ons geskiedenis, erfenis en kultuur in die openbaar te kan uitleef. Dit is vir Oraniërs kosbaar.
Foto 1 Die Murphy-gesin word aangekondig as die wenners van die Volksliedkompetisie.
Foto’s 2 – 4 Dit is oorlog op die Orania-koppie!
Werksgebou: een verdieping op ‘n slag
Diegene wat onlangs verby die bouterrein van die Werksgebou gestap of gery het, sou opmerk dat die bouspan deesdae meer op die dak werksaam is as op die grond! Die ontwikkeling van die Werksgebou het ‘n punt bereik waar die betonblaaie vir die eerste vloer gelê is.
Vir hierdie taak, om swaar betonblaaie tot op die hoogte van die eerste verdieping te lig, moes ʼn 20 ton mobiele hyskraan gehuur word. Hierdie massiewe hyskraan toring bo die omliggende geboue uit en is ʼn taamlike belewenis om in aksie te sien. Volgens Niel de Klerk, hoof van ontwikkeling en belegging by die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM), bly een van die grootste uitdagings om konstruksiemateriaal en -produkte van buite Orania af te moet aankoop.
“Dit gebeur van tyd tot tyd op konstruksieprojekte dat items op ‘n kort kennisgewing benodig word. Die afstand wat Orania vanaf ander stede is veroorsaak dan dat vervoer nie beskikbaar is nie, of buitensporig duur is. Orania se nywerhede is nog nie van so aard dat meeste materiaal of produkte hier vervaardig word nie.”
Tog, waar moontlik, word plaaslike ondernemings altyd eerste ondersteun, voordat daar na buite uitgereik word.
Op hierdie stadium is die Werksgebou byna 15% voltooi en die span mik om die projek teen einde Julie 2026 gefinaliseer te hê.
“Die projek vorder fluks. Ons span is innoverend en kyk deurlopend hoe werk meer effektief gedoen kan word om die projek vinniger, veiliger en meer koste-effektief af te handel,” sê Niel.
Foto 1 Die manne begelei die huiskraan soos dit swaar betonblaaie na die eerste verdieping oplig.
Foto 2 Lugfoto van die Werksgebou waar die eerste verdieping se basis gelê is.
Oraniërs vier fees op Majuba
Tussen motreën, swepe wat klap en “Ken jy die land waar die Boerevolk woon” wat in die verte opklink, staan die Orania-vlag aan die voet van Majuba en wapper.
27 Februarie is nie meer net ʼn datum wat onthou word in ons geskiedenis nie, maar ʼn dag wat gevier word. In Orania is Majubadag ʼn vakansiedag wat elke Afrikaner in Orania laat terugdink aan die eerste Vryheidsoorlog. Dit gee vir verskeie Oraniërs die geleentheid om hulle reënjasse in te pak en self te gaan kamp opslaan daar waar die boere 144 jaar gelede geveg het. Vir baie is dit net ʼn uitstappie, maar vir ons is dit ʼn geleentheid om ons geskiedenis te beleef en bande met ons volk en erfenis te versterk.
Hierdie jaar het ongeveer 20 Oraniërs die vlag laat wapper op Majuba. Dit is een ding om in geskiedenisboeke van Majuba te lees, maar om self op daardie berg te staan, waar ons voorouers vryheid verower het, vuur die vryheidstrewe in ons net nóg meer aan. Dit help ons om soveel sterker met ons voorgeslagte te vereenselwig. Die samesyn en gemeenskap by Majuba is iets wat nie beskryf kan word nie, dit is iets wat beleef moet word. Tussen volkspele, cantus, sweep slaan en klim van die berg is dit merkwaardig om te sien hoeveel jongmense en studente ook aan die fees deelneem en ons geskiedenis vier – ʼn teken dat ons geskiedenis steeds voortleef in die harte van die jeug.
Die herdenking van Majuba is ʼn belewenis wat elke Afrikaner moet ervaar. Volgende jaar wapper die Klein Reus DV weer op die kruin van Majuba.
Foto’s 1 en 2 Oraniërs laat die Orania-vlag op Majuba wapper!
Foto 3 ‘n Groep Oraniërs wat by Majuba gaan kamp opslaan het, kom bymekaar vir ‘n foto.
Sluit aan as ‘n lid! KYK: Help Orania bou! Besoek ons webwerf! -
AuthorPosts
- You must be logged in to reply to this topic.