Vlakplaas se gemeenskap treur oor Louise-PLAASAANVAL

Home Forums THE ATTACKS AND MURDERS ON OUR SOUTH AFRICAN FARMERS. Vlakplaas se gemeenskap treur oor Louise-PLAASAANVAL

  • This topic is empty.
Viewing 1 post (of 1 total)
  • Author
    Posts
  • #384385
    Nat Quinn
    Keymaster
    Volledige berig wat in Vaalweekblad se uitgawe van 23 November 2022 verskyn het. 
    VANDERBIJLPARK. – Die plaasgemeenskap van Vlakplaas op die westelike uithoek van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, is diep geskok nadat ‘n geliefde egpaar, Johan en Louise Lamprecht, Saterdag 19 November gewelddadig aangeval is. Louise (74) is in die huis vermoor en Johan (75) is met kopwonde en verskeie beserings oor groot dele van sy liggaam in die Midvaal-Hospitaal opgeneem.
    Die egpaar het glo langer as 30 jaar op hul plaas gewoon. Inwoners van die gebied ken hulle as stil, netjiese mense wat nog altyd baie goed met almal oor die weg gekom het.
    Een van die buurvroue, mev. Annatjie Venter (67), sê sy het dadelik onraad vermoed toe ‘n plaaswerker se kind Saterdagmiddag rapporteer het dat daar gereedskap en ‘n juwelekissie met juweliersware voor die Lamprechts se huis lê. Dit was ook kommerwekkend dat die Lamprechts se hek, wat altyd noukeurig toegehou word, oop gestaan het en hulle nie hul fone beantwoord het nie.
    “Ons klompie bure was dadelik in verbinding met mekaar en een van hulle het onmiddellik die polisie en ambulansdiens gebel, wat vinnig op die toneel was. Ek het die Lamprechts se seun, Louis, wat in Vereeniging woon, laat weet om te kom want ons het vermoed hier was groot moeilikheid. Ek is daarna na die Lamprechts se huis, waar ek Johan bebloed op ‘n bank in hul braai-area aangetref het. Dit was nie ‘n mooi toneel nie,” sê Annatjie. “Sy lippe was stukkend, sy oog en wangbeen was erg geswel en sy kop, arms, bene en klere was vol bloed.”
    Johan het blykbaar die oggend gras gesny en was besig om ‘n waaierband te herstel toe drie aanvallers hom buite die huis oorval het. Hulle het geld en vuurwapens by hom geëis en wou die sleutel van sy kluis hê. Hy is in sy werkswinkel vasgemaak, waar hulle hom met ‘n hamer op die knieë en met ‘n rewolwer teen die kop geslaan het.
    Die egpaar se seun, Louis Lamprecht, het Maandag aan Vaalweekblad gesê sy beseerde pa het na die voorval vertel dat die rowers Louise in die huis gaan haal en haar gedwing het om te kyk waar hulle hom vasgemaak en beseer het. Hulle het aan die Lamprechts gesê hulle word seergemaak omdat hulle die grond van hul (die rowers se) voorouers ‘gesteel’ het. Louise is daarna weer in die huis in geneem, waar sy vermoor is.
    Met paramedici se aankoms is Johan gestabiliseer voordat hy met harsingskudding en verskeie ander beserings in die hospitaal opgeneem is.
    ‘n Uiters skokkende toneel van bloed en verwoesting het ook op die polisie en paramedici in die huis gewag. Louise is met grusame wonde aangetref en het reeds gesterf toe die nooddienste opdaag. Al die laaie en kaste se inhoud is uitgegooi, alle matrasse was omgekeer en kussingslope en beddegoed afgeruk, vermoedelik soos wat die moordenaars na versteekte kontant gesoek het.
    Die polisie se honde-eenheid en forensiese afdeling het dwarsdeur die naweek na leidrade in en om die huis gesoek, maar teen Vaalweekblad se spertyd is niemand nog in verband met die aanval en moord vasgetrek nie.
    Volgens inwoners van Vlakplaas was daar vir ‘n lang tyd min misdaad in die omgewing, maar sedert Augustus is verskeie voorvalle van veediefstal aangemeld. Vier boere van die omgewing het vanaf Augustus minstens 33 beeste verloor. By een van die boere is daar in net een nag 18 beeste gesteel. Saterdagoggend voor die aanval op die Lamprechts is daar ook by twee nabygeleë plaashuise waar die inwoners nie tuis was nie of geslaap het, ingebreek en huisraad en ‘n TV gesteel.
    * Wyle Louise Lamprecht word buiten haar man en seun Louis deur nog ‘n seun in Langebaan en ‘n dogter in Jeffreysbaai oorleef. Die Lamprechts se kinders gaan hul pa probeer oorreed om nie na die plaas terug te keer wanneer hy uit die hospitaal ontslaan word nie.
    HIER IS VAN DIE BOODSKAPPE WAT DIE LAMPREGHTS SE BURE EN VRIENDE OP SOSIALE MEDIA GEPLAAS HET:
    Annatjie Watkins Venter:
    Louisa, jou stem is stil, jy het altyd gese jy pla,maar altyd gepla op die mooiste manier, jou inloer sal gemis word, jou daaglikse boodskappe waar jy my waarsku om veilig te wees, sal nooit vergete bly nie, gaan jou so mis!!! Trane was eenvoudig te veel toe ek buite jou huis se deur staan, Johan waai vir my, die Here bring vertroosting en ek weet jy is by Jesus se voete neergele, Rus in vrede my maatjie.
    Andrinetta E Lombard:
    Ons bid vir jou Johan vir geneesing. En ons bid vir jou en die kinders se groot seer, mag God jul vashou in Sy Genade.
    Arina Greeff:
    Rus sag Louise. Jy het nie hierdie wrede dood verdien nie. Ons harte is seer. Johan ons bid vir jou beterskap en Krag van Bo. Sterkte vir jou en jul kinders en geliefdes. Ons bid vir julle.
    Die rooi pyl dui die posisie van die Vlakplaas-gebied aan, waar die Lamprecht-egpaar Saterdag, 19 November 2022, oorval is. Dit is sowat 20 km buite Vanderbijlpark.

     

    Wyle mev. Louise Lamprecht.

     

    Mnr. Johan Lamprecht.
Viewing 1 post (of 1 total)
  • You must be logged in to reply to this topic.