Home › Forums › ATTACKS AND MURDERS ON OUR SOUTH AFRICAN FARMERS. › Sewe verdagtes is vasgetrek in verband met die ontvoering van en moord op ʼn boer van Sterkfontein naby Harrismith in die Vrystaat.
- This topic is empty.
Viewing 1 post (of 1 total)
-
AuthorPosts
-
2023-07-25 at 15:48 #413599Nat QuinnKeymaster
Sewe verdagtes is vasgetrek in verband met die ontvoering van en moord op ʼn boer van Sterkfontein naby Harrismith in die Vrystaat.
Mike Pattinson (67) se broer, Philip Pattinson, het hom Maandag as vermis by die polisie op die dorp aangemeld nadat hy nie die oggend vir werk opgedaag het nie.
Mike was die hoof- finansiële beampte by die Harriston-privaatskool op Harrismith. Hy het alleen op die plaas Summerslie gewoon.
Volgens ao. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het die plaaswerkers en ʼn huiswerker Mike Saterdag omstreeks 17:00 vir die laaste keer gesien. Een van die werkers het gesien die plaashuis se kombuisdeur is oopgebreek en hy het Philip ingelig.
Die polisie het ondersoek op die plaas gaan instel.
“Dit was duidelik dat daar mense in die huis was. Skootrekenaars en ʼn Toyota Urban Cruiser was vermis,” sê Mophiring.
“Netstar Tracker Company het die Toyota opgespoor. Dit was by ʼn huis geparkeer, naby ʼn taverne, in die Tseseng-nedersetting in Qwaqwa.”
Verskeie polisie-eenhede is gemobiliseer en sewe mense, onder wie twee vroue, het van die toneel gevlug.
“Die polisie het die verdagtes agternagesit en skote is afgevuur. Al sewe is in hegtenis geneem. Een van die verdagtes was in besit van ʼn speelgoedvuurwapen.
“Twee van die verdagtes is beseer en is tans onder polisiebewaking in die hospitaal.”
Die polisie het die huis waar die motor geparkeer was, deursoek en Pattinson se liggaam is gevind. Hy het verskeie oop wonde aan sy kop en nek gehad.
“Die boer is op die toneel dood verklaar. Twee skootrekenaars en ʼn kamera, wat vermoedelik aan die oorledene behoort het, is teruggevind.”
ʼn Saak van huisroof, moord en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom is aanhangig gemaak.Die sewe verdagtes sal eersdaags in die Tseseng- en Harrismith-landdroshof verskyn.
Volgens ʼn onlangse ontleding wat Vrystaat Landbou (VL) oor die afgelope agt boekjare se plaasaanvalle en -moorde in die provinsie gedoen het, is ernstige geweldsmisdaad geneig om in die wintermaande, asook in die maande wat die Kerstyd voorafgaan, toe te neem.
Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder by VL, noem dat daar verlede week ʼn plaasaanval in die Tweeling-gebied was. Drie aanvallers het ʼn werker aangerand, waarna die boer met die hulp van ander inwoners die verdagtes aangekeer het.
“VL betreur die aanvalle op plase wat gemik is teen enigiemand op plase, hetsy ʼn produsent, ʼn werker of ʼn plaasbewoner. Boere en hul werkers wat help om oortreders aan te keer, stel ook hul eie lewe in gevaar ten einde hul eie veiligheid te verseker,” sê Buys.
Volgens Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee, moet boerderygemeenskappe enige inligting rakende verdagte beweging op hul plase by die landelike veiligheid se koördineerder van die polisie en die veiligheidsverteenwoordiger van die betrokke boerevereniging aanmeld.
“Hulle moet ook nie vreemde mense of besoekers op hul plase toelaat sonder die nodige toestemming en voltooiing van ʼn besoekersregister nie,” sê Le Roux. “Boerderygemeenskappe word ook versoek om die veiligheid- en/of gebeurlikheidsplan in hul gebied by te werk en seker te maak dat hulle aan inoefeninge binne die landelike beveiligingstrategie (LBS) met die polisie deelneem.”
VL veroordeel ten sterkste die moord op Pattinson en het medelye met sy familie betuig. Die organisasie het ook die polisie geloof vir hul vinnige optrede met die opvolg van inligting wat gelei het tot die inhegtenisneming van die sewe verdagtes.
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/sewe-vas-vir-ontvoering-moord-op-boer/ -
AuthorPosts
Viewing 1 post (of 1 total)
- You must be logged in to reply to this topic.