Die parlement se etiese komitee het die minister van polisie, Bheki Cele, skuldig bevind aan ‘n oortreding van LP’s se etiese gedragskode toe hy verlede jaar “shut up” geskree het en die polisie beveel het om ‘n burgerregte-aktivis van ‘n polisie-imbizo in Gugulethu te verwyder.
Die komitee wil hê Cele moet Ian Cameron – van Action Society – om verskoning vra voor lede van die Nasionale Vergadering.
Cameron het gekla dat Cele ‘n vinger na hom gewys het terwyl hy aanhoudend in ‘n dreigende toon geskree het dat hy moet stilbly, hom nie uitlok nie, en dat hy moet sit en luister of die saal verlaat.
Hy het aan die komitee gesê dat hy met geweld deur polisiebeamptes uit die saal verwyder is en dat sy klere in die proses beskadig is.
Cameron het aangevoer dat sy fundamentele regte geskend is – soos sy reg op vryheid en sekuriteit van persoon, en onwettige vryheidsbeneming.
source:“Shut up”-minister moet sy woorde sluk – Pretoria FM