Foto’s word tans wyd op sosiale media versprei van plakkers wat op die Universiteit van Pretoria (UP) se kampus geplak is.
Die plakkers sê onder meer: Blacks only en no whites allowed. Dit kom na weke van ‘n gespanne atmosfeer op die UP se kampus weens agt lede van die EFF Jeugorganisasie wat verkies is tot die Studenteraad, en dus al agt poste beklee het.
Die verkiesing is ongeldig verklaar.
AfriForum Jeug sê intussen hy sal aanhou om druk te plaas op die UP se bestuur om die EFF Student Command van die UP (EFFSC UP) as studentevereniging te deregistreer.
Die kom nadat die EFF se studenteorganisasie hulleself glo skuldig gemaak het aan verskeie oortredings soos haatspraak, intimidasie en die mees onlangse insident – “om toegang tot kampus vir studente, wat nie swart is nie, te weier.”
Die woordvoerder van AfriForum Jeug, René van der Vyver meen die universiteitsbestuur kan nie hulself van hierdie insident distansieer nie. “Van hulle studente is hierdeur benadeel en van hulle studente was by hierdie voorval betrokke.”