Loving Life TV

Home Forums ORANIA Orania Beweging Nuusbrief

  • This topic is empty.
Viewing 1 post (of 1 total)
  • Author
    Posts
  • #455522
    Nat Quinn
    Keymaster
    OB---Email-Newsletter-Masthead

    Orania Aandeleblok brei grense uit

    Frans de Klerk

    Orania Aandeleblok (RF) (Eiendoms) Beperk – bekend in Orania as OAB – brei sy grense uit om gereed te maak vir toekomstige ontwikkeling. Die grootste gedeelte van Orania se dorpsgebied is binne OAB, maar Orania as ‘n geheel strek oor verskeie plase en hoewes. Binnekort kan OAB drie hoewes van Vluytjieskraal 272, naamlik hoewes 43, 44 en 45, in aandeelblokke begin verdeel. Hierdie hoewes is net wes van Kleingeluk naby aan die oksidasiedamme wat reeds op hoewe 44 gevestig is.

    Om hierdie gebied as ontwikkelingsgrond beskikbaar te stel is egter nie ‘n eenvoudige taak nie. Eers moet ‘n omvattende impakstudie, wat onder meer ‘n ’n studie van die fauna en flora, ‘n paleontologiese studie, ‘n akwatiese biodiversiteitstudie en kultuurhistoriese studie insluit, gedoen word. ‘n Volledige verslag van die impakstudie word by Departement Landbou ingedien om goedkeuring te kry om in hierdie gebied te mag ontwikkel.

    “Ons is nou deur al die hoepels. Die finale verslag is eindelik ingedien,” vertel Cobus Pretorius, Hoof: Beplanning en Grondgebruik by Orania Dorpsraad. “Nou wag ons vir goedkeuring wat na verwagting in Oktober van hierdie jaar sal kom.”

    Volgens Cobus is dit belangrik om uitbreidingsprosesse soos dié eerder vroeër as later te begin.

    “Daar is nog baie onontwikkelde grond in Orania waarna ‘n mens eers moet kyk, maar terselfdertyd wil ons gereed wees om te kan uitbrei sodra dit nodig begin raak. Hierdie is prosesse wat oor jare plaasvind, dus is dit beter om dit nou al reg te hê vir die toekoms.”

    Ontwikkeling van nuwe erwe is in groot aanvraag op Orania. Dit is moontlik dat daar in die toekoms op hierdie drie hoewes residensiële-, kommersiële en nywerheidserwe uitgelê kan word, maar beplanning hiervoor is nog nie gefinaliseer nie. Cobus verduidelik dat daar gepoog word om erwe so goedkoop as moontlik beskikbaar te stel.

    “Ons wil dit vir mense maklik maak om hier te kan vestig. Hoe goedkoper ons erwe vir entrepreneurs en besigheidseienaars beskikbaar kan stel, hoe makliker is dit vir hulle om suksesvol te vestig in Orania. Só gee ons die gemeenskap se ekonomie ‘n hupstoot.”

    Uitbreiding van OAB en as sulks ontwikkelde grond in Orania, is ‘n simptoom van groei en sukses. Volgens Orania se sensus word daar vir die laaste drie jaar ‘n groeikoers tussen 12 – 15% gehandhaaf. Uitbreiding het dus ‘n welverdiende plek op Orania se prioriteitslys.

    Foto 1 Lugfoto van hoewes 43, 44 en 45. Kleingeluk kan links onder gesien word en die oksidasiedamme teen die rooilyn, regs.
    Foto 2 Lugfoto van Orania. OAB is in groen ingekleur en hoewes 43, 44 en 45 in geel, blou en rooi afsonderlik.

    Gedeelte 43 44 en 45 van 272
    OAB uitbreiding
    Divider

    BELANGRIK: Gebruik die skakel heel onder “View entire message” indien dit afsny as gevolg van lengte.

    Heel onder aan die nuusbrief is skakels na al ons sosiale media platforms.

    Divider

    Filmakers besoek Orania: video meer as 800 000 keer gekyk

    “Ek het die slegs-blankes-gemeenskap in Suid-Afrika gaan ondersoek.”
    Só skryf Joshua Rubin, wie se aanlyn videokanaal al ‘n totaal van meer as 94-miljoen kyke oor al sy video’s versamel het.

    Joshua en sy vriend Daniel McKenzie het ‘n tweedag besoek aan Orania gebring om meer oor dié Afrikanergemeenskap uit te vind.

    Met die opskrif in gedagte is dit maklik om nog ‘n tipiese stuk hoofstroomjoernalistiek te verwag: die tipiese uitkryt van Afrikaners en die herhaaldelike hamer op die Apartheids-tromme.
    Die video is egter heel gebalanseerd en vertel vanuit Joshua en Daniel se perspektief hulle ervaring in Orania.

    Hulle ondersoek verskillende temas, van die redes waarom mense na Orania verhuis, die verhouding wat Orania Beweging met die media het en waarom Oraniërs skepties teenoor media-instellings staan, tot gemeenskapslewe en sport. Daar is natuurlik ook ‘n hoogtepunt; die aankoms van Orania se 4,8 MWh battery na baie maande van harde werk deur die ORASOL-span.

    Die video het binne twaalf dae 846 202 kyke behaal, en blyk baie gewild te wees met 15 000 mense wat daarvan gehou het en meer as 6 000 opmerkings in die kommentaarafdeling! Debatte in die kommentaar oor Orania se bestaansreg, word verdoof deur opmerkings van oor die kulturele spektrum wat Orania se bestaansreg erken, en wat stel dat hulle geen fout met Orania se reg om te bestaan sien nie.

    Orania se verhaal mag in die toekoms dalk meer deur onafhanklike podsendingskeppers as deur die hoofstroommedia gedra word. Ons sal egter nie skroom om ons storie aan enige iemand te vertel nie.

    Foto Wide Awake Podcast se video oor Orania is beskikbaar op YouTube.

    Wide awake
    Divider
    20240222 Ruspunt Advertensie Vars weergawe 002
    Divider
    WhatsApp Image 2024-07-19 at 15.01.53
    Divider

    Erf word gereedgemaak vir Werksgebou

    Frans de Klerk

    Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM) het op 4 Julie begin om die erf waar ‘n splinternuwe werksgebou opgerig gaan word, gereed te kry. Op die hoek van Olienhout- en Soetdoringstraat sal Oraniërs daaglikse bedrywigheid sien soos wat hierdie erf skoongemaak en dienste geïnstalleer word.

    Die beplande gebou is ‘n drieverdieping-gebou waar die boonste verdieping gebruik sal word vir studentebehuising, middelste verdieping die OOM-kantoor sal wees en op die grondvloer, Bo-Karoo Opleiding se kantoor. Die ontwikkeling van ‘n werksgebou is nóg ‘n tree in die rigting van ‘n langtermyn werkspleinontwikkeling in hierdie gebied.

    “Die gedagte is dat hierdie ‘n hele plein word wat werk simboliseer. Ons is opgewonde om die area met wandelgange en fonteine te versier want dit is ook belangrik dat ons gemeenskap mooi lyk,” sê Pieter Bisschoff, Hoof: Inligting en Bemarking by Orania Ontwikkelingsmaatskappy.

    Daar word beoog om te begin bou aan die werksgebou in September vanjaar en die gebou voor einde 2025 te voltooi.

    Foto 1 Die erf waar die Werksgebou opgerig gaan word is onlangs netjies skoongemaak.
    Foto 2 Driedimensionele voorstelling van hoe dié gebou gaan lyk.

    WhatsApp Image 2024-07-19 at 09.06.30
    WhatsApp Image 2024-07-19 at 09.06.28
    Divider
    Orania Beweging Nuusbrief Advertensie 21032024
    Divider

    Orania-petisie slaan opponente uit die veld

    Frans de Klerk

    Orania het oor die laaste paar weke baie aandag in die media geniet. Die onlangse verkiesing, ‘n EFF-stem by die Orania-stempunt en ‘n ooreenkoms tussen die VF Plus en die ANC waarin Orania genoem is, het die kollig lekker helder op Orania gewerp.

    Natuurlik het opponente van Orania van hierdie geleentheid gebruik gemaak om teen Orania te mobiliseer en petisies teen Orania se reg om te bestaan is van stapel gestuur. Hierdie petisies met uitgangspunte soos “Oppose the recognition of Orania …” en “Amend Section 235 …” is blatante aanvalle op Orania en ander kultuurgemeenskappe.

    Orania se petisie “Onderskryf Orania se bestaansreg” is tot op hede deur meer as 8 000 mense onderteken. Dít terwyl die grootste petisie teen Orania nog sukkel om die 3 000 merk te oorskry.

    Met hierdie petisie het Oraniërs en Orania-ondersteuners bewys dat ons nie terugstaan vir ‘n uitdaging nie. Nie net het ons die aanval op Orania verdedig nie, ons het ons opponente totaal uit die veld geslaan.

    Ons volgende mikpunt is 10 000 handtekeninge. Ons moet hierdie sentiment dat Orania nie ‘n reg het om te bestaan nie, totaal in die kiem smoor. Orania vra nie vir die reg om te bestaan nie – Orania het dit reeds. Orania het bestaansreg, omdat Oraniërs en ons ondersteuners elke dag daaraan bou. Ons is hier en ons is hier om te bly.

    Die mikpunt van 10 000 handtekeninge is om die draai – jy kan ons help om dit te bereik. Klik op die knoppie hieronder om herlei te word na die petisie. Deel dit gerus met vriende, familie en enige iemand wat Orania se bestaansreg sal ondersteun.

    OB-Petisie-opskrif
    Divider
    Volkskool advertensie Jan 22
    Divider

    Die Helpsaamfonds-strategie: Die regte hulp

    Wanneer ‘n mens na die moeilike omstandighede kyk waarin baie Afrikaners vasgevang is, is dit maklik om moedeloos of desperaat te voel. Afrikaners word polities geleenthede ontsê, en ekonomiese realiteite het ‘n verpletterende effek op baie Afrikanergesinne.

    Soos dokters of paramedici op ongelukstonele besluite moet neem oor waar hulle die beste kan help om oorlewing te help verseker, so moet ons ook dink oor die oorlewing van ons mense. Die groter prentjie kan ‘n mens desperaat laat vat en los, terwyl goed beplande langtermyn oplossings eintlik die enigste volhoubare antwoord is.

    Afrikanergesinne kom soms uit uiters moeilike omstandighede en kom klop by Orania aan vir hoop op ‘n toekoms.
    Die Orania Beweging se Helpsaamfonds is ‘n toegewyde fonds wat spesifiek geskep is om ons mense te help om hulleself te help.
    Die Helpsaamfonds kry dit reg om ongeveer miljoen rand per jaar uit te keer vir die volhoubare bemagtiging van ons mense.
    Die geld, wat alles vrywillige donasies van vriende en ondersteuners van Orania is, word aangewend op ‘n wyse wat ‘n langtermyn voordelige gevolg sal hê.

    Skoolkinders uit gesinne wat finansieel sukkel word gehelp om hulle skoolloopbane te voltooi en om ‘n kwalifikasie en goeie opleiding te bekom wat hulle in die toekoms sal help om werk te kry en waarvan hulle nie ontneem kan word nie.
    Behuising: Die Helpsaamfonds se beleggings in bekostigbare behuisingskemas vir enkelpersone en gesinne gee baie Afrikaners ‘n voet in die deur. Die strategiese ontwikkeling van gesubsidieerde behuising maak dit moontlik om hier te vestig en ‘n werk te kry.
    Hulp aan bejaardes: ‘n Volk word gemeet aan die wyse waarop bejaardes en kwesbare mense hanteer word. Die Helpsaamfonds se bydraes tot bejaardesorg in Orania is besonder belangrik.
    Ontwikkeling van jongmense: Om jongmense toegang te gee tot vaardigheidsontwikkeling, die kunste, musiek en meer help ‘n goeie opvoeding en afronding verseker.
    Maatskaplike dienste: Die Helpsaamfonds ondersteun maatskaplike dienste sodat gesinne in krisis ordentlik bygestaan kan word.

    Om Afrikanergesinne te ondersteun met toegang tot verblyf, toegang tot opleiding en opvoeding en maatskaplike hulp, is die enigste manier om ons mense volhoubaar te help.

    Indien jy die Orania Beweging se Helpsaamfonds reeds ondersteun, is dit jou bydrae wat dit moontlik maak! Ons opregte dank!

    Enige iemand kan egter help om aan hierdie volhoubare, maatskaplike inisiatief te bou: Maak gerus ‘n bydrae tot die Helpsaamfonds deur op die knoppie hieronder te druk.
    Dankie dat u met ons handevat!

    Foto 1 Gannabos is ‘n gesubsidieerde behuisingsprojek waarin die Helpsaamfonds belê.
    Foto 2 Nerina bied bekostigbare behuising vir enkellopende vroue wat in Orania wil kom vestig.

    Gannabos
    Nerina
    Divider
    Groeifonds Voorgrond Advertensie Maart 2023 copy
    Divider

    1000 Roosbome vir Orania

    Doret Le Cornu

    Die inisiatief om duisend roosbome in Orania aan te plant, is ‘n projek wat begin is om die unieke karakter en skoonheid van Orania te bevorder.

    Hierdie projek het ten doel om fondse in te samel vir die aankoop en plant van duisend roosbome teen einde September, wat Orania se landskap en voorkoms sal verfraai.

    Russèlle Ebersöhn, al vier jaar lank ‘n inwoner van Orania, het vir ‘n geruime tyd met die idee rondgeloop om die dorp se ingange te versier, en nadat die nodige beplanning afgehandel is, het sy besluit om met die roosboomprojek te begin.

    “Ons het vier jaar gelede as besoekers in Orania oornag. Toe ons die volgende dag ‘n draai deur die dorp ry, het ons dadelik geweet dit is waar ons wil bly,” sê Russèlle. “Ek het ‘n groot liefde daarvoor om die plek waar ek bly ‘n estetiese voorkoms te gee, en dit is waarom hierdie projek my so opgewonde maak. Ek wil graag ‘n bydrae maak tot die ontwikkeling van die dorp.”

    Die fokus was oorspronklik alleenlik om die ingange van die dorp te verfraai, maar gou het die visie vergroot tot die aanplanting van duisend roosbome regdeur die dorp by verskeie sentrale punte, instellings en ondernemings.

    Die projek is daarop gemik om deur die gemeenskap bestuur te word in samewerking met die dorp se instellings, terwyl inwoners en belangstellendes aktiewe rolle speel, hetsy dit deur middel van finansiële bydraes is of deur die fisiese onderhoud van die struike.

    Só bied Orania die geleentheid aan die gemeenskap om deel te neem aan ‘n projek wat tot opbou van ons dorp en samelewing is

    Foto Pragtige rose versier selfs die vaal wintermaande in Orania.

    62020560 2842245152517609 1289871849714352128 n
    Divider
    Kuberskool-2022-A4-Advert
    Divider

    Jong Oraniërs wen entrepreneurskompetisie

    Frans de Klerk

    Desirée en Righardt Maree is twee jong Oraniërs wat onglangs deelgeneem het aan Afriforum se Besigheidsheidsbytjies kompetisie. Hierdie kompetisie is vir jong, ywerige entrepreneurs wat hul staanplek in die besigheidswêreld probeer vind.

    Righardt “Tjoppie” Maree het sy besigheid – Tjoppie se Weltevreden Tuindienste – ingeskryf vir die Senior-fase (graad 7 tot 9). Righardt vertel dat hy middae en oor naweke deur mense in diens geneem word om hul gras te sny en hul tuine op te knap.

    Righardt was die algehele wenner van hierdie kategorie en stap met ‘n lekker kontantprys ter waarde van ɸ7 000 weg. Hiermee is Righardt van plan om sy besigheid verder uit te brei en kyk hy selfs na die moontlikheid om sy eerste personeellid aan te stel.

    “Ek gaan vir my ‘n grassnyer koop dat, as ek iemand aanstel, dit vinniger kan gaan,” verduidelik hy.

    Righardt se ouer sussie, Desirée, het haar besigheid – Desire Naald en Garing – ingeskryf vir die Verdere Opleiding en Onderrig (VOO – graad 10 tot 12) -fase. Hier herstel sy kledingstukke en ontwerp, maak en verkoop selfs nuwe klere.

    Desirée presteer as naaswenner van dié kompetisie en is dankbaar vir ‘n kontantprys van ɸ5 000. Soos haar jongboet is Desirée nie van plan om haar winste te bestee aan ‘n welverdiende vakansie nie, maar oorweeg ook die moontlikheid om haar eerste werknemer in diens te neem.

    “Ek het by my ouma geleer stik toe ek maar drie jaar oud was. Ek is baie bly ek kon hierdie stokperdjie in ‘n besigheid verander.”

    Wanneer dié twee nie besig is om aan hul besighede te werk nie, betree hulle gereeld die dansbaan en help soms met afrigting by die Weltevreden Dans Akademie.

    Ons is trots op ons Orania-kinders wat soos die Klein Reus hul moue oprol en inspring in die sakewêreld. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg!

    Foto 1 Righardt, of “Tjoppie”, is goed uitgerus vir ‘n dag se werk.
    Foto 2 Tjoppie doen fluks sy werk.
    Foto 3 Desirée neem ook graag deel aan modelkompetisies.

    Nadia Ettwein-4799
    Nadia Ettwein-4887
    WhatsApp Image 2024-06-17 at 14.55.12 535f82cb
    Divider
    Dorpsraad Advertensies-01
    Divider

    Nuwe wandelpad na Sandbaai

    Frans de Klerk

    Ons voetgangervriendelike Afrikanerdorp spog met ‘n splinternuwe wandelpad – die Sandbaai-voetpaadjie. Hierdie voetpaadjie se beginpunt is by Meester-se-Draai, waar Smarag- en Soetdoringstrate by mekaar aansluit. Oraniërs wat by die rivier wil uitkom hoef dus nie meer 2.7 km padlangs te stap tot by Sandbaai nie, maar kan die mooier, korter 1.8 km roete deur ‘n bewaringsgebied neem.

    Arno Lambrechts, Hoof: Gemeenskapsdienste by Orania Dorpsraad, sê dat daar nog baie planne is om ‘n hele netwerk van wandelroetes deur en om Orania te vestig.

    “Daar is verskeie bewaringsgebiede – of groengebiede – in Orania. Ons beplan verskeie wandelroetes na uitkykpunte, rotsgravures, piekniekareas, standbeelde en monumente en nog baie meer plekke.”

    In Orania word daar moeite gedoen om voetgangers en fietsryers te akkommodeer. Minder motors op die pad beteken minder lug- en klankbesoedeling, minder verkeer en ‘n veiliger omgewing.

    Die volgende plan vir die Sandbaai-voetpaadjie is om houtbruggies by die klipperige areas te vestig wat breed genoeg is dat fietsryers en selfs klein elektriese karretjies hierdie kortpad kan gebruik.

    Foto Die Sandbaai-voetpaadjie (rooi) is aansienlik korter as om padlangs (geel) te moet stap.

    Wandelpad
    Divider
    Jou keuse vir 2024 advert-01
    Divider

    Winterswem 2024 – Bibberende pret

    Frans de Klerk

    Orania se klimaat bereik dikwels uiterstes van hitte of koue. ‘n Middag in die somer bereik maklik ‘n temperatuur van bo 40°C, terwyl ons gereeld op wintersoggende temperature onder vriespunt ervaar.

    Ten spyte van hierdie ekstreme temperature het sommige Oraniërs vir hulself die uitdaging van ‘n jaarlikse winterswem gestel. Hierdie tradisie kom al oor jare en elke jaar word daar meer Oraniërs betrek. Selfs sommige besoekers het al die ysige Oranje in die middel van die winter kom aandurf.

    Die tradisie werk so:
    ‘n Koue Saterdagoggend in die middel van die winter word geïdentifiseer. Vanjaar se temperatuur van 2°C was vir sommige swemmers selfs te warm! Nietemin word daar op hierdie oggend rondom 06:30 by Sandbaai langs die rivier saamgekom. ‘n Groot vuur word in een van die braaiers gemaak wat sorg vir hitte en ‘n gesellige vleisbraai na die tyd.
    Swemmers durf die water aan om presies 07:00 en die reël geld dat elkeen vir ‘n volle minuut in die water moet bly en dat elkeen ten minste sy of haar kop op een of ander stadium onder die water moet hê.

    Skerpsinnige plakkate soos “Wys jou YS!” en “Swem reg! Swem vir ‘n regering van nasionale -1heid!” was hierdie jaar te sien.

    Ons weet al dat Oraniërs nie skrik vir koue pampoene nie, maar dit raak nou duidelik dat ons ook nie skrik vir ’n yskoue rivier nie!

    Foto 1 2024 se swemmers spog vir ‘n foto met hul koue lywe, maar warm gees.
    Foto 2 Die vuur staan gereed vir ‘n gesellige kuier na die winterswem.
    Foto 3 Brawe swemmers het vanjaar die koue water vir ‘n tweede keer aangedurf.

    Plakkate
    Vuurtjie
    Hallo somer
    Divider
    WhatsApp Image 2024-02-16 at 12.31.40 10c21a12
    Divider

    Orania weer in die middel van ‘n ysige winter

    Doret Le Coru

    Terwyl die eerste paar weke vanaf Mei in Orania met mooiweer begin het, het die winter nie op hom laat wag nie, en het die dorp ‘n reeks yskoue dae beleef.

    Alhoewel Julie die koudste maand in die Karoo is, het daar al van begin Junie af ‘n reeks koue fronte ontwikkel, en word Oraniërs smôrens met ‘n ysige koue wind, gevriesde waterpype of ryp begroet.

    Sneeuval in die omliggende areas asook ysreën op van Orania se grondgebiede het veroorsaak dat die temperature skerp daal, met metings van ‘n hele paar grade onder vriespunt. Hierdie was verbasend vir verskeie inwoners, aangesien ‘n relatiewe warm winter voorspel is.

    Koue winters is egter nie buite die normaal vir Orania nie, en nog ‘n paar ysige dae word verwag. Met die draai van die seisoen sal die temperature geleidelik begin styg, maar vir nou word daar aangeraai om die koolstowe aan te steek en die ekstra baadjie uit die kas uit te haal.

    Foto 1 Ys op ‘n fontein in Orania begin ontdooi soos wat die son uitkom.
    Foto 2 Wintersoggende in Orania daal gereeld tot onder vriespunt.

    WhatsApp Image 2024-07-13 at 09.51.03 68b8cc00
    450227412 875333344620583 1429963103287374561 n
    Divider
    HOA OB Old logo
    Divider
    Screenshot 20221129 194313
    Divider
    PIETER BISSCHOFF
    Divider

Viewing 1 post (of 1 total)
  • You must be logged in to reply to this topic.