- This topic is empty.
-
AuthorPosts
-
2024-08-04 at 13:17 #456668Nat QuinnKeymaster
RDP-huise in Orania? Nee dankie Malema
Orania se naam word gereeld in die politiek misbruik wanneer politieke partye of ekstremiste relevant wil voorkom en die media se aandag probeer trek.
Tydens ‘n onlangse saamtrek in Kimberley het Julius Malema, van die kommunistiese EFF, homself sterk teen die onlangse gesprekke oor Orania se erkenning deur die Noord-Kaapse regering uitgespreek. Hy het ook aanvalle op die Noord-Kaapse premier Zamani Saul gerig, en uiteindelik gesê dat die EFF RDP-huise in Orania sal kom bou.
“When we take over South-Africa, when we take over the Northen Cape, we will build RDP houses in Orania!” het Malema gesê.
Die Orania Beweging het daarop reageer deur eenvoudig te stel dat die EFF niks hier hoef te kom bou nie: Afrikaners verrig al die werk in Orania.
Verder is RDP-huise totaal onnodig, omdat Oraniërs dit reeds vir meer as dertig jaar regkry om sonder ‘n sent staatsubsidie, hulle eie huise te bou.
Laastens is dit beklemtoon dat Orania se inwoners en ondersteuners (wêreldwyd) baie lief vir hierdie gemeenskap is, Orania met harde werk opgebou is, deur Genade van Bo onderhou word, en dat Orania nie sommer net vir vat is nie.Foto Julius Malema het reeds in Junie op RDP-huise in Orania aangedring.
BELANGRIK: Gebruik die skakel heel onder “View entire message” indien dit afsny as gevolg van lengte.
Heel onder aan die nuusbrief is skakels na al ons sosiale media platforms.
Nóg ontwikkeling met Driedoring-projek
Frans de Klerk
Driedoring is ‘n residensiële ontwikkelingsprojek in Vluytjeskraal 272 Eienaarsvereniging MSW. Orania bestaan uit vier verskillende grondgebiede waarvan Vluytjieskraal 272 een is. Op Driedoring word 48 voltitel een hektaar hoewes ontwikkel.Volgens Nick Pieterse, ontwikkelaar van Driedoring, word huise volgens ‘n passiewe ontwerp beplan:
“Huise wat noord front vaar die beste in ons klimaat. Huiseienaars gaan ook energie-onafhanklik funksioneer met sonkragstelsels of alternatiewe en elkeen is verantwoordelik vir eie riool deur gebruik te maak van septiese tenks.”
Alhoewel Driedoring slegs die erwe diens, ontwikkel en beskikbaar stel, is daar bepaalde estetiese voorskrifte vir huise wat hier opgerig gaan word. Om in voeling te bly met die omliggende landbougebied, vereis voorskrifte dat huise volgens ‘n plaas-, skuur-, Kaapshollandse of Karoo-styl gebou word.
Water word aan Orania Dorpsraad se netwerk gekoppel en só aan die hoewes verskaf. Op Driedoring word daar egter van gespesialiseerde prosesse gebruik gemaak om waterlyne te lê. HDPE-pype (hoë-digtheid poliëtileen pype) is waterpype van ‘n besonder hoë kwaliteit. Hierdie pype word nie deur konvensionele metodes aanmekaar gelas nie, maar eerder aanmekaar gesweis met ‘n proses wat die plastiekpype smelt en heg.
“Twee pype word met ‘n hidrolise klamp bymekaargehou,” verduidelik Albert Smit, beplanner en projekbestuurder by Driedoring. “’n Element word in ‘n spesiale masjien warm gemaak tot ‘n temperatuur van 210°C. Voor die element tussen die pype gedruk word, word die pype skoongewas met alkohol om te verseker dat geen koolstofdeeltjies die proses kan versteur nie. Die element smelt die pype waarna die hidroliese klampe hulle styf teen mekaar druk. Die plastiek van die verskillende pype smelt aanmekaar vas en verhard wanneer die pyp weer afkoel.”
Die hele proses word vergemaklik deur ‘n spesiale program te gebruik. In hierdie program word die dikte van die pyp, die atmosferiese temperatuur en ander inligting op ‘n selfoon ingelees. Die program werk dan akkuraat uit hoe warm die element gemaak moet word, hoe lank dit teen die pype gehou met word, die druk wat deur die klamp toegepas moet word en hoe lank die pyp moet afkoel na die tyd.
“Sou ‘n mens hierdie pyp aan weerskante van die las uitmekaar probeer trek, dan sou die pyp uiteindelik op ‘n ander plek as die las breek. Hierdie gespesialiseerde proses verseker volhoubare waterlyne van ‘n hoë kwaliteit op Driedoring,” sê Albert.
‘n Spesialis van buite Orania is aangestel om hierdie tegniese proses te behartig, maar vanuit Nick se span is daar reeds belangstelling om verdere opleiding in hierdie proses te ontvang en die kennis terug te bring Orania toe.
Só is Orania deurlopend besig om sy grondgebied te ontwikkel en uit te brei, maar ook sy kennis en vaardighede. Meganisering en gespesialiseerde gebruike vergemaklik nie net ons ontwikkeling nie, maar dit bemagtig ook ons mense om tot meer in staat te wees.
Foto 1 Slote is gegrawe met die HDPE-pype wat nog gelas moet word langsaan.
Foto 2 ‘n Spesiale klamp en element word gebruik om twee pype aanmekaar te heg.
Foto 3 Digitale uitleg van Driedoring.Orania infrastruktuur na nuwe hoogtes
Frans de Klerk
In ‘n ontwikkelende gemeenskap is infrastruktuur, die herstel en ontwikkeling daarvan, van kritieke belang. Infrastruktuur is belangrik vir daaglikse funksionaliteit binne ‘n gemeenskap, maar goeie infrastruktuur stimuleer groei en ontwikkeling.Orania Dorpsraad het onlangs begin met opgraderingsprojekte van siviele infrastruktuur stelsels. Opgradering van die waterontrekkingpompstasie asook die eerste fase van die opgradering van die pomplyn is noodsaaklik om die tempo waarteen Orania groei te akkommodeer. Die fokus is dus vir nou op opgradering van Orania se hoof waternetwerk. Die watersuiweringskapasiteit is onlangs aansienlik verhoog met ‘n nuwe filtreerstelsel.
Verder word daar beplan om die pomplyn op te gradeer, stoorkapasiteit te verhoog, asook die verspreidingsnetwerk te verbeter. Orania-inwoners sal sien dat Dorpsraad se spanne plek-plek besig is met dienste-aansluitings vir ontwikkelings.
“Die ou, asbespomplyn word vervang met ‘n nuwe 315 mm diameter uPVC-pyplyn. Fase een is vanaf die pompstasie tot by die R369 teerpad,” sê André van Heerden, Hoof: Ingenieursdienste by Orania Dorpsraad.
Volgens André geniet Orania die voorreg dat ou infrastruktuur wat by Waterwese geërf is, van goeie gehalte is en destyds volgens goeie standaard gebou is.
“Dit gee ons die geleentheid om die ou infrastruktuur tot nou toe suksesvol te benut. Daar is wel meer onderhoud op die ou infrastruktuur weens ouderdom.”
Nuwe infrastruktuur word natuurlik volgens ingenieursontwerpe en standaarde geïnstalleer om volhoubaarheid te verseker. Orania se infrastruktuur word nie net bloot op standaard gehou nie, maar ontwikkel deurlopend.
Foto 1 Die nuwe filtreerstelsel is meer effektief as die suiweringsdamme en verhoog die watersuiweringskapasiteit.
Foto 2 Die waterontrekkingspompstasie word tans deur Orania Dorpsraad opgradeer.Oud hoofmeisie se droom word werklikheid
Doret Le Cornu
Jana Tomlinson, Orania CVO-skool se hoofmeisie van 2022, se toekomsdroom het aan die begin van 2024 waar geword toe sy toelating gekry het om Veeartsenykunde aan Onderstepoort te studeer.Jana het nog altyd ‘n voorliefde daarvoor gehad om met diere te werk en Veeartsenykunde as studierigting was haar eerste keuse. Van graad 10 af het sy weekliks ervaring opgedoen deur by die plaaslike veearts skaduwerk te verrig, asook deur saam met ander veeartse in hul spesialteit velde te gaan werk.
Sy het geweet dat sy baie hard sal moet werk om oorweeg te word vir Veeartsenykunde, maar het ook geweet dat sy ‘n plan B in plek moet hê, aangesien keuring baie streng is. Nadat sy nie in matriek gekeur is nie, het sy in 2023 BSc. Veekunde aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer.
Jana was vasberade om ‘n goeie akademiese verslag aan die keuringskomitee voor te lê, en het haar studies met toewyding en motivering in haar eerste jaar op universiteit aangepak.
Teen die einde van 2023 het sy egter reeds begin vrede maak daarmee dat sy die volgende jaar sou moes voortgaan met haar tweede jaar in Veekunde en van voor af sal moet begin met die keuringsproses vir Veeartsenykunde. Toe kry sy die lewensveranderende e-pos met die nuus dat sy toegelaat is. Jana is nou ses maande op Onderstepoort as ‘n tweedejaarstudent en geniet elke oomblik daarvan.
“Ek is baie dankbaar vir n goeie skoolloopbaan in CVO-skool Orania. Behalwe vir die goeie akademiese voorbereiding wat ek daar gekry het, het die skool se waardestelsel my ouerhuis s’n bevestig en ‘n stewige grondslag is vir my gelê om my volwasse lewe op te bou,” sê Jana. “Alle eer aan die Here wat my geplaas het waar Hy my wil gebruik!”
Foto Jana spog in haar Onderstepoort-drag en geniet haar nuwe omgewing.
Dagsorgsentrum in Orania open nuwe saal
Frans de Klerk
Op Donderdag 31 Julie het Kieliepensie Kleuterskool die lint geknip om hulle splinternuwe skoolsaal te open. Die saal is die begin van ‘n groter uitbreiding en sal voorlopig as klaskamer gebruik word. Daar is nuwe ablusie pasgemaak vir kleuters ingerig, en dit is voldoende vir 100 kleuters. Dit stel die skool in staat om op ‘n volhoubare basis nuwe klaskamers een vir een by te voeg, totdat die hele grondslagfase deel van die sentrum kan word.“Ons het onmiddellik besef die ruimte is te min, maar ons personeel het tydelike planne gemaak en ons ouers was bereid om vas te byt omdat hulle graag hulle kleuters by Kieliepensie wou hou,” vertel Anje Boshoff, Akademiese Hoof by Volkskool.
‘n Waglys moes opgestel word, maar nou kan die kleuters wat op die lys was inskakel by die kleuterskool. ‘n Klein baba-sorgeenheid word vir 2025 beplan en volgens Anje is plekke daarvoor ook al reeds bespreek.
Die nuwe skoolsaal is ‘n uitbreiding van Volkskool Orania en is met die ondersteuning van die gemeenskap gedoen. Omtrent al die bouers is op een of ander manier aan die skool verbonde: Dawid en Jay-Cee Buitendag wat die fondasies en vloere gelê het, was self onderskeidelik ‘n Volkskool-ouer en -leerder in die verlede; Gert van Coppenhagen wat die mure en dakke gebou het, is steeds ‘n Volkskool-ouer; André Joubert, ons loodgieter, se kinders was in Volkskool; Frik en Ronel Bekker van Orion, wat die meeste van die materiaal verskaf het, is al jare lank Volkskool-ondersteuners en die argitek, Christiaan van Zyl, is al van die skool se beginjare betrokke.
“Ons kleuterskool ouers het koek gebak en gehelp verf. Die hele projek is ‘n toonbeeld van: ‘dit wat ons saam kan doen, is meer as wat elkeen op sy eie kan doen’,” sê Anje. “Hierdie is net die begin van verdere uitbreidings wat Orania maar kan dophou. Ons is ‘n groeiende gemeenskap en daarom ook ‘n groeiende skool.”
Foto 1 vlnr Jessica Eloff (Kleuterskool bestuurder) en Carel Boshoff (Skoolhoof) knip die lint ter opening van Kieliepensie se nuwe skoolsaal.
Foto 2 Anje Boshoff (Akademiese Hoof) skink vonkelwyn ter viering van dié geleentheid.Nog ‘n nuwe studierigting in Orania: Vroeë Kinderontwikkeling by Bo-Karoo Opleiding
Bo-Karoo Opleiding (BKO), Orania se eie tersiêre opleidingsinstelling het hierdie week aangekondig dat hulle vanaf Januarie 2025 ‘n nuwe kursus in Vroeë Kinderontwikkeling gaan aanbied.
Hierdie kursus is ontwerp om studente toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om jong kinders ‘n sterk fondament vir leer en ontwikkeling te gee. Studente sal leer hoe om vroeë kinderaktiwiteite te beplan en voor te berei, asook hoe om kinders se vordering waar te neem en te assesseer.
“Ons streef na ‘n beter toekoms vir ons kinders en ons samelewing. Daarom begin ons met die jongste geslag,” sê Paul Vogel, Uitvoerende Hoof van BKO.
Die kursus is ideaal vir individue wat as au pairs werk of as onderwysers by kleuterskole of dagsorgsentrums.
So word opleidingsgeleenthede in Orania vir Afrikaners geskep!
Foto 1 Bo-Karoo Opleiding is Orania se eie tersiêre opleidingsinstelling.
Foto 2 “Vryheid deur opleiding en arbeid” is die leuse wat op BKO se mure geskryf staan.CVO-skool Orania se eerste tennis pretdag ‘n sukses
Doret Le Cornu
Op 27 Julie het die CVO-skool vir die eerste keer ‘n tennis-pretdag aangebied met ‘n suksesvolle opkoms van nie minder as 26 spanne, met verskeie afdelings wat van toepassing op die verskillende ouderdomme van die deelnemers was.Hierdie tennisdag is gehou met die doel om belangstelling in dié sport onder die skoliere te wek, aangesien dit ‘n sport is wat oor die algemeen min aftrek kry in vergelyking met ander sportsoorte.
Die dag het suksesvol verloop met verskeie balspeletjies vir die jongspan, terwyl die ouer leerlinge deelgeneem het aan ‘n prettoernooi waar hulle met innoverende spanname en -drag mekaar die stryd aangesê het.
Wenners en naaswenners is aangewys in die onderskeie afdelings, terwyl pryse ook aan die spanne met die beste gees en beste spandrag gegaan het.
Roné Marx, organiseerder van die tennisdag, sê dat hulle graag die liefde vir tennis in die breër Orania wil aanwakker en hoop om in die toekoms ‘n plaaslike toernooi te reël. Intussen word tennis nou as ‘n amptelike sport by die CVO skool afgerig.
“Ons sien uit na ‘n professionele afrigter wat in die nabye toekoms by ons gaan aansluit en by wie Oraniërs kan inskryf vir privaatafrigting,” sê Roné.
Foto 1 Dié pretdag het die belangstelling van verskeie leerders geprikkel.
Foto 2 Alhoewel tennis oor die algemeen min aftrek by Orania-skole kry, word daar nou van jongs af nuwe asem op dié terrein ingeblaas.Jong Oraniërs leer entrepreneuries dink
Doret Le Cornu
Volkskool Orania het weer ‘n jaarlikse entrepreneursdag aangebied waar die beginsels van entrepreneurskap prakties uitgeoefen en innoverende denke aangemoedig word.Hierdie jaarlikse entrepreneursdag word deur die graad sewes gereël as ‘n praktiese inleiding en oefening vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe waarin die basiese beginsels van inkomstes en uitgawes, wins en verlies aangeleer word.
Die graad sewes moet die stalletjies beplan, uitlê, bemark en verkoop. Dit eindig egter nie daar nie, want die stalletjies se boekhouding moet opgeskryf en ingedien word met ‘n finansiële verslag agterna.
“Dit was ‘n heerlike wintersdag gevul met vrolikheid en lekker musiek,” sê Anje Boshoff, Akademiese Hoof. “Daar was ook geen gebrek aan soetigheid nie, want die ouers en ondersteuners het gesorg vir onder meer kolwyntjies, toffies en spookasem.”
Die stalletjies het iets vir almal gebied, van speletjies en handgemaakte items, tot kos en lekkergoed. ‘n Jolige atmosfeer het gehelp om die dag besonders te maak en gesorg vir ‘n goeie afsluiting vir die week.
Foto 1 ‘n Jolige atmosfeer het geheers by die entrepreneursdag.
Foto 2 Jong Oraniërs leer van kleins af belangrikke besigheidslesse.Paul Kruger-projek byna by 500 stene
Frans de Klerk
Die standbeeld van oud-president Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria is ongelukkig nie meer algemeen toeganklik nie. As gevolg van vandalisme en diefstal staan oom Paul vandag agter tralies. Verskeie kere was hierdie standbeeld die teiken van graffiti en selfs petrolbomme. Gedenkplate word keer op keer afgesteel en vervang. Oom Paul staan nie meer tussen mense wat hom bewonder nie, maar in ‘n gemeenskap wat hom haat.In Orania wil ons vir oom Paul ‘n nuwe staanplek oprig. Hier sal sy standbeeld weer die kern van ‘n stadsplein opneem – ‘n ere posisie waar hy goed versorg en in veiligheid aanskou kan word.
In Suid Afrika raak dit al hoe duideliker dat Afrikaner-erfenisbewaring die verantwoordelikheid van Afrikaners word. Ons erfenis vergaan omdat ons die verantwoordelikheid daarvan in ander se hande plaas. Ons is egter heeltemal in staat om daardie verantwoordelikheid self op te neem en die verandering wat ons wil sien self aan te bring.
Daar is reeds 481 stene, teen φ1 000 per steen, vir die Paul Kruger-projek verkoop. Die volgende teiken is 500 stene. Hierdie is ‘n gulde geleentheid om self verantwoordelikheid te neem vir ‘n erfenisprojek en so ook jou naam in die geskiedenisboeke te verewig. Elke persoon wat ‘n steen koop ontvang ‘n sertifikaat as erkenning en sy/haar naam word in die register van oprigters aangeteken. Daar word selfs die geleentheid gebied om stene namens iemand anders te koop – iets wat ‘n baie spesiale geskenk kan wees.
Elkeen wat ‘n steen koop help om vir oom Paul ‘n nuwe staanplek te vestig. Ons is dankbaar vir elke pionier van erfenisbewaring wat die verantwoordelikheid opneem om ons herkoms te bewaar.
Foto Standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein is agter tralies in ‘n poging om vandalisme en diefstal te voorkom.
Oraniers sien uit na Kultuurkuier
Doret Le Cornu
Die Kultuurkuier, gefasiliteer deur Okkasie Hasie en Koerania, is ‘n reeks geleenthede waar daar rondom kultuur gekuier word.Die kuier het Donderdag 1 Augustus weggespring met twee kunstenaars, Stef Kruger en Dana Snyman, wat Oraniërs op ‘n woord- en musikale reis geneem het. By hierdie geleentheid, genaamd “Woorde en Wysies”, het die kunstenaars die gehoor vermaak deur hulle eiesoortige kuns te deel.
Die geleentheid is opgevolg deur ‘n Aktuele Sakeontbyt op Vrydagoggend, waar die Bela-beleid bespreek was. Ouers, onderwysers, grootouers en geïnteresseerde gemeenskapslede het meer inligting ontvang rakende die Bela-beleid. Die opvoeding en opleiding van Afrikaner-kinders hang in die weegskaal met dié beleid se eise. Dr Jaco Deacon, FEDSAS se Uitvoerende Hoof, het saam met Willie Spies, bekende prokureur van Hurter & Spies in Pretoria dié beleid se huidige stand deurtrap.
Die Vrydag-middag word ”Boeke en Bredies” gefasiliteer, waar Dana Snyman, Willie Spies, Riaan Grobler en Stef Kruger ‘n paneelbespreking gaan hou rondom ‘n bredie en ‘n stomende koppie boeretroos.
Willie Spies, ‘n bekende in regskringe, se nuwe boek word die aand van 2 Augustus bekendgestel. Hierdie boek is ‘n bundel van sy rubrieke wat oor ‘n lang tydperk in Beeld verskyn het.Die “Kultuurkuier” word afgesluit op Saterdag 3 Augustus met ‘n skouspel waar Oraniërs hul talente deel. Daar word met opwinding uitgesien na talentvolle Oraniërs wat die verhoog sal vol staan met hul sang, dans en drama vernuf.
Foto Kultuurkuier beloof om ‘n interessante ervaring te wees.
Orania Helpmekaar belê in die toekoms van ons kinders
Pieter Bisschoff
Vir enige gemeenskap is die onderrig en opvoeding van sy kinders van uiterste belang. Dit is immers die kinders wat in die toekoms grootliks die unieke karakter van die gemeenskap gaan bepaal en uitleef.Vir Orania Helpmekaar is dit gevolglik van uiterste belang dat alle Oraniërs se kinders wel toegang tot kwaliteit onderwys moet ontvang. ‘n Beurs skema is vir dié doel in die lewe geroep wat ouers wat nie oor die finansiële vermoë beskik om hul kinders se skoolgelde ten volle te betaal nie, te ondersteun.
Hulp word slegs na ‘n deeglike assessering van gesinne se finansiële vermoëns verleen. Tans is daar heelwat gesinne met kinders in beide Orania CVO en Volkskool Orania wat hulp in dié verband ontvang.
Hierdie beursskema is ‘n mooi voorbeeld van hoe ‘n gemeenskap mekaar se belange op die hart dra. Vermoënde persone besef dat nie alle ouers oor die nodige middele beskik om die voorgeskrewe skoolgelde vir hulle kinders te kan betaal nie en kom hulle hierin tot hulp.
Persone wat graag ‘n bydrae in dié verband wil lewer of ‘n leerling se skoolgelde wil borg is welkom om met Orania Helpmekaar by 053 110 0797 of admin@oraniahelpmekaar te skakel.
Foto’s Orania Helpmekaar help behoeftige kinders om by Orania CVO skool en Volkskool Orania te kan skoolgaan.
-
AuthorPosts
- You must be logged in to reply to this topic.