- This topic is empty.
-
AuthorPosts
-
2025-01-25 at 20:12 #460585Nat QuinnKeymaster
Buitelandse besoek: “Die Orania in Amerika”
Orania trek internasionaal aandag. Die feit dat die gemeenskap in die afgelope dertig jaar nie net aanhou voortbestaan het nie, maar selfs drasties gegroei het, skep hoop vir konserwatiewes regoor die wêreld. Daar is selfs gemeenskappe wat hulleself rondom hierdie model vorm. In die eerste ses weke van 2025 sal Orania ʼn totaal van vier Amerikaanse spanne, ʼn Hongaarse verteenwoordiger en twee spanne uit Swede hier ontvang! Meeste van hulle het net een doel voor oë; om te kom leer van Orania, en iets soortgelyk in hulle tuislande aan te pak. Onlangs was die Orania Beweging die gasheer vir verteenwoordigers van ʼn doeldorp (of intentional community soos hulle hulself beskryf) in die Ozarkgebergtes in Arkansas.
Hierdie gemeenskap is deel van ʼn groter projek om gemeenskappe of dorpies te vorm waar Amerikaners kan vestig wat voel dat hulle onder demografiese druk van immigrante is, en dat hulle identiteit en toekoms daaronder lei. Volgens die span wat Orania besoek het, is hulle doel om hulle identiteit, etno-kulturele lyn, en Westerse waardes te beskerm.
Die Ozark-gemeenskap is die eerste vestiging van hierdie projek. Die grond is omtrent ʼn jaar en ʼn half gelede aangekoop, en die gemeenskap is besig om die eerste basiese infrastruktuur op te rig.
Soortgelyk aan AVSTIG (Die Afrikanervryheidstigting, wat later onder andere die Orania Beweging geword het) wat as idee-beweging bestaan het voor die Orania-dorp begin is, het die Ozark-gemeenskap eers die PMA (private membership association) Return to the Land gehad. Return to the Land (RTTL) vorm ʼn sambreel-organisasie wat ʼn bloudruk wil ontwerp vir soortgelyke gemeenskappe in die VSA, en waaruit fisiese gemeenskappe tot stand kan kom, selfs met verskillende vereistes vir byvoorbeeld verblyfreg of verskillende waardes wat nagestreef kan word. In kort, ʼn organisasie wat dit moontlik maak om ʼn gemeenskap van gemeenskappe te vorm.
In Orania het hulle onderhoude gevoer met Joost Strydom van die Orania Beweging; Riaan Jacobs, uitvoerende direkteur van Orasol wat energie onafhanklikheid in Orania bevorder; Gawie Snyman en Burger Lambrechts van die Orania Dorpsraad; die span by Bo Karoo Opleiding; die veiligheidspanne in Orania; besigheidseienaars en nog vele meer. Die span het meer as 20 ure se videomateriaal opgeneem!
Eric Orwoll, die president van die Return to the Land beweging, sê hulle het baie geleer, is geïnspireer deur Orania en is opgewonde oor die pad vorentoe.
Joost Strydom van die Orania Beweging het met die president van Return to the Land, Eric Orwoll ʼn onderhoud gedoen. Interessante vrae oor die gemeenskap se besonderse reëls oor skool, politiek, en vestiging word bespreek. Kyk gerus die hele video-onderhoud:
Foto 1 Die Return to the Land span saam met Joost Strydom van die Orania Beweging. Van links na regs is Pat (Permakultuur en volhoubare landbouspesialis), Scott (onderpresident van die RTTL-beweging) en Eric (president van RTTL) saam met Joost. Foto 2 Eric het tydens die besoek in Orania die fout gemaak om Burger Lambrechts van die Dorpskantoor uit te daag vir ʼn rondte armdruk. Wat hy nie geweet het nie, is dat Burger twee keer Olimpiese spele toe was vir gewigstoot, en aktief aan sterkman-kompetisies deelgeneem het!
BELANGRIK: Gebruik die skakel heel onder “View entire message” indien dit afsny as gevolg van lengte. Heel onder aan die nuusbrief is skakels na al ons sosiale media platforms.
Orania skole pronk met 100% slaagsyfer
Beide Orania se twee privaat skole, Volkskool Orania en Orania CVO-skool, se matrieks behaal ʼn 100% slaagsyfer in 2024. Orania CVO-skool spog sedert 1993 met 100% slaagsyfer.
2024 se matriekklas het ‘n gemiddeld van 1,25 onderskeidings per leerder en die toppresteerder het ‘n totaal van 5 onderskeidings. Hulle het ‘n klasgemiddeld van 69% bereik en 85% van die leerders het universiteitvrystelling verkry. Drie van die skool se 2024-matrikulante het toekennings by die BCVO se glansgeleentheid vir toppresteerders ontvang.
Volkskool Orania sluit 2024 af met 26 onderskeidings!
Buiten vir die 100% slaagsyfer onder die matrieks van 2024, spog Volkskool Orania verder met ‘n totaal van 26 onderskeidings waar die toppresteerder met 6 onderskeidings wegstap. 70% van die leerders verkry universiteitvrystelling. Die skool noem dat hierdie uitslae die harde werk van leerders en onderwysers weerspieël, en hulle hoop om hierdie sukses in toekomstige jare voort te sit.
Die gemeenskap van Orania is baie trots op beide skole wat uitmuntend presteer het in 2024. Vir Orania se groei en sukses is die kinders van Orania lewensbelangrik en daarom het Orania se skole ʼn groot verantwoordelikheid. Oraniërs is egter gerus dat hul kinders in goeie hande is wat opleiding aanbetref.
Studente in Orania:
Kollege groter as ooitHoe sal Orania lyk as meer as 10% van die totale bevolking studente is? Kan Orania die studente-dorp estetika, kultuur en karakter ontwikkel wat Potchefstroom en Stellenbosch soveel jare gelede bekend gemaak het? Bo-Karoo Opleiding het vanjaar ʼn rekordgetalstudente. Met eerstejaars wat pas hulle eerstejaarskamp voltooi het en tweedejaars wat na die vakansie teruggekeer het, is daar meer as 200 ingeskrewe studente wat by BKO studeer! Orania het in 2023/2024 al meer as 2874 inwoners gehad (studente uitgesluit). Met die toenemende getal studente neig syfers dus reeds na ‘n verhouding waar bykans 10% van die bevolking studente is.
Die jaar is reeds met ʼn aktiewe eerstejaarskamp afgeskop, ontgroening wat die mansstudente hulle hare gekos het, talle tradisies, baie pret en die begin van ʼn nuwe studentelewe in Orania.
Bo-Karoo Opleiding, wat in 2019 met ʼn skamele vyf studente begin het, bied al vir ʼn wyle kursusse aan waar jong Afrikaners as elektrisiëns, loodgieters en messelaars kwalifiseer. Boerderybestuur is ʼn betreklike nuwe, en baie gewilde kursus, terwyl BKO verder vanjaar met twee splinternuwe kursusse naamlik diplomas in siviele ingenieurswese asook vroeë kinderontwikkeling, spog.
Bo-Karoo Opleiding het tans drie amptelike koshuise naamlik Steenbok, Duiker en Vaalbos. Daar word egter ʼn reeks koshuise wat 800 studente sal kan huisves, beplan. Dit sal fase vir fase opgerig word en ʼn hele kampusgebied in Orania inlei.
Bo-Karoo Opleiding bied ʼn uiters belangrike diens: geakkrediteerde opleiding op ʼn hoë standaard in Afrikaans, en waar Afrikaners nie agter in die ry hoef te staan vir toelating nie – inteendeel!
Baie geluk aan BKO met hierdie mylpaal.
Die kursusaanbod sluit in Tuisversorging, Vroeë Kinderontwikkeling, Loodgieter, Elektries, Bou- en Siviele Konstruksie (Messelaar), en Boerderybestuur. Die Nasionale Diploma in Siviele Ingenieurswese en Tuissorgassistent-kursus bied geleenthede vir deeltydse en na-uurse studies. QCTO geakkrediteer. Koshuisverblyf en finansiering is beskikbaar. Klik op die prent vir meer inligting. Orania skole heropen
Die openingsdag van die 2025 skooljaar was op 16 Januarie. Tussen die graad 1’s wat uiteindelik “groot skool” toe gaan, graad 8’s wat hulle hoërskoolloopbaan betree en 2025 se matrieks wat nou die oudste leerlinge in die skool is, het daar ʼn atmosfeer van entoesiasme vir die nuwe jaar in Orania geheers. Orania CVO-skool en Volkskool Orania het op 16 Januarie hul personeel, leerlinge en ouers na die Desember-vakansie terug verwelkom. Tussendeur die gekriewel van jong, energieke skoliere kon die skoolhoofde darem hul boodskappe vir 2025 aan die kinders oordra en hul sterkte toewens met die komende akademiese jaar.
Beide Volkskool Orania en Orania CVO-skool het die jong, opgewonde graad 1’s op unieke maniere verwelkom. Orania CVO-skool het hul jaarlikse kloklui-tradisie voortgesit waar die graad 1’s hul eerste skooldag inwy deur die klok wat voor die skool hang, te lui. Kwassie die Dassie, Orania CVO-skool se gelukbringer, het ook vir hulle kom kuier.
Elke graad 1’tjie by Volkskool Orania kon die jaar begin met hul eie splinternuwe skooltas – gereed vir al die nuwe kennis wat 2025 inhou! Volkskool Orania tesame met Solidariteit Helpende Hand het vir 2025 se graad 1’s elkeen hul eie skooltas oorhandig.
Vir diegene wat uiteindelik die hoërskool betree, het daar egter ʼn meer uitdagende openingsweek voorgelê. As groentjies in die hoërskool word die graad 8’s goed ingesout deur die matriekklasse. Ontgroening van die graad 8’s is ʼn jaarlikse tradisie wat deur beide skole uitgevoer word en maak skoolgaan in hierdie eerste paar weke net bietjie meer interessant – selfs vir diegene wat die ontgroening ondergaan. Van eier-babas, kruiwa-skooltasse, omgedopte skoolklere tot swartsak dra, stroopappel eet en hoendereier begrafnis hou was alles items op die arme graad 8’s se programme.
Orania se kinders word in ʼn kultuurryke Afrikanergemeenskap groot waar hulle nie net die geleentheid ontvang om akademies te presteer nie, maar ook kosbare lewenslesse te leer om vir die res van hul lewens saam te dra.
Die Orania Beweging sien saam met beide skole uit na ʼn vreugdevolle 2025.
Orania legende, Annatjie Boshoff, se grafsteen opgerig
Anna Maria Boshoff (of tannie Annatjie, soos meeste haar geken het) was ‘n prominente figuur in Orania. Sy was een van die vroeë pioniers en het op 4 Julie 1991 die skuif na Orania gemaak. Sy was die sesde persoon wat na Orania getrek het, en het hier gebly tot haar afsterwe in 2019. Op 13 Januarie 2025, die 100ste herdenking van haar geboortedag is haar grafsteen op haar graf gelê deur die familie. Annatjie Boshoff se bydrae in Orania kan nie gemeet word nie. Sy was betrokke by alles waar sy kans gekry het, en het altyd gehelp waar sy kon.
Hier volg ‘n uittreksel uit die huldeblyk van Annatjie Boshoff wat ‘n gedeeltelike blik gooi op die blywende invloed wat sy op Orania gehad het:
Van 1958 tot 1966 was Annatjie privaatsekretaresse vir die Verwoerds en daarna vir nog 12 jaar, tot 1978, vir mev. Vorster, eggenote van dr. Verwoerd se opvolger John Vorster. Sy het ook daarna nog in verskeie posisies in die staatsdiens gewerk tot en met haar aftrede. Annatjie het altyd naby haar broer en skoonsuster beweeg en hulle oortuigings was dieselfde, alhoewel hulle persoonlikhede en terreine van betrokkenheid verskil het. Terwyl Carel en Anna op die voorpunt van die politieke stryd was en op allerhande maniere ondersteuning by mense en organisasies vir die volkstaat gewerf het, het Annatjie as een van die heel eerstes die harde pionierswerk van die bou van ʼn nuwe toekoms in Orania op haar geneem. Toe sy reeds afgetree was in gerieflike omstandighede in ʼn woonstel in Arcadia, Pretoria, het sy besluit om ʼn nuwe begin te maak ter wille van die ideaal en het haar pensioengeld gegee sodat die vervalle dorp Orania aan die einde van 1990 deur ʼn groep uit die Avstig-geledere gekoop kon word. Sy was ook een van die heel eerste inwoners wat in die winter van 1991 in Orania ingetrek het, toe dit nog woes en leeg was.
Sy word tot vandag nog met waardering onthou.
Internskap by die Orania Beweging
Ondersteuners van die Orania Beweging se sosiale media blaaie sou ʼn nuwe gesig oor die Desember – Januarie tydperk opgelet het. Willem Boshoff, tweedejaar student aan Akademia, het tydens sy studentevakansie ʼn internskapprogram by die Orania Beweging gedoen. “Ek het aansoek gedoen vir die internskap, want ek wou nie die hele vakansie net rondlê en niks doen nie,” vertel Willem.
Willem het by die Orania Beweging se kommunikasiespan aangesluit vir hierdie tydperk. In sy aansoek het hy genoem dat hy graag meer sal wil leer oor algemene kantoor-etiket, sy video redigeringsvaardighede wil verfyn en ook professionele en effektiewe kommunikasiepraktyke wil aanleer.
Van sy pligte het ingesluit verwerking en redigering van video’s, bestuur van die Orania Beweging se sosiale media platforms en skepping van bemarkings- en kommunikasie-inhoud. Willem het ook nuusartikels geskryf wat in die Orania Beweging se digitale nuusbrief verskyn het.
Die Orania Beweging het al vantevore vakansiewerk en internskappe aan jong Oraniërs tydens hulle studentevakansies gebied, en elke keer heers hier ʼn nuwe gees van kreatiwiteit by ons kantore. Willem se oorspronklike idees het bygedra tot Orania-inhoud wat deur beide Oraniërs sowel as ondersteuners van buite geniet word.
Terug by sy studies, sien Willem uit na sy tweede jaar van studentwees terwyl hy werk aan sy graad in Politiek, Ekonomie en Filosofie. Kyk gerus na die kort onderhoud met Willem deur op die video hier onder te klik (hierdie video is ook self deur Willem aanmekaar gesit):
[KYK] Internskap by die Orania Beweging Vordering met Werksgebou,
Orania-stadsplein in die voortuitsigDie Werksgebou waarvan die sooi in September 2024 gespit is, begin om vorm aan te neem. Sedert September het die werkspan nie stilgesit nie en volgens Niel de Klerk, Hoof: Ontwikkeling en Belegging van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, word daar goed volgens skedule gebou. Sedert die eerste graaf grond geskep is, het hierdie terrein aansienlike veranderings ondergaan. Tans is die staalstrukture op die grondvloer reeds staangemaak. Die vloer is gegooi en daar word nou gewerk aan die steenmure.
“Die Werksgebou behoort teen September 2026 gefinaliseer te wees,” sê Niel.
Hierdie Werksgebou maak deel van die beoogde Werksplein – ʼn lewende stadsplein in die middel van Orania. Op hierdie plein behoort daar altyd iets aan te gaan; deur die dag besig met mense wat werk in hulle kantore of koffiewinkels besoek, en in die aande bied dit verblyf vir studente wat in die boonste verdiepings van dié gebou woon. Die Werksgebou is een van twee geboue (Duikerkoshuis die ander) wat op die onderste vloere kantoorspasie bied, en op die boonste verdieping studenteverblyf.
Buiten vir die Werksplein, sien Oraniërs ook uit na die stadsplein waar die standbeeld van Paul Kruger staangemaak gaan word. Volgens Niel is daar reeds in 2025 besprekings gehou met professionele beplanners en argitekte om verskillende ontwerpe vir hierdie plein te oorweeg. Niel vertel dat daar binnekort geleentheid sal wees vir openbare deelname in beplanningsfase van die plein en dat belangstellendes op die uitkyk moet wees daarvoor.
Diegene wat nog nie van die geleentheid gebruik gemaak het om reeds by dié projek betrokke te raak deur ʼn steen vir die Paul Kruger-beeld te koop nie, word uitgenooi om nie hierdie kans mis te loop nie. Klik hier:
Paul Kruger-stene Aan wie betaal Oraniërs belasting?
Die Orania Beweging se inligtingsreeks “Vra jou Vraag!” is terug in 2025 met ʼn splinternuwe episode. “Vra jou Vraag!” bied vir ondersteuners en selfs vir kritici van Orania die geleentheid om hul vrae direk aan die Orania Beweging te stel en op ʼn persoonlike manier geantwoord te word. Deur die loop van hierdie reeks is daar tot op hede 11 episodes vrygestel en ʼn hele paar interessante vrae oor Orania is al gevra.
In die nuutste episode word ʼn vraag oor belasting en of dit regverdig is dat Orania belasting aan die Suid-Afrikaanse regering moet betaal, gestel. Orania, met sy eie plaaslike owerheid, lewer sy eie dienste en is verantwoordelik vir die vestiging, opgradering en onderhoud van sy eie infrastruktuur. Steeds is Oraniërs Suid-Afrikaanse burgers en as sulks onderhewig aan Suid-Afrikaanse belastingwette.
Hierdie onderwerp, sowel as ʼn paar ander, word in die nuutste episode verder bespreek. Kyk gerus na hierdie episode deur op die video hier onder te klik:
Water in die woestyn:
Orania se waterskemaOrania, in hierdie droë Karoo en semi-woestyn gebied, is afhanklik van die Oranjerivier vir sy water. In die jaar 1996 het ʼn groepie Orania-pioniers die verantwoordelikheid opgeneem om ʼn pyplyn te vestig – ʼn sisteem wat water al die pad van die rivier tot by landerye en boorde kan vervoer. Die Orania Beweging het in ‘n vorige nuusbrief berig oor hierdie waterskema-inisiatief. Ons deel graag ‘n video wat hierdie verhaal verder vertel.
In Orania se vroeë bestaansjare het hierdie gebied heelwat anders gelyk as wat dit vandag lyk. Die dorp is in 1991 gekoop as ʼn “spookdorp”. Verlate strate en vervalle geboue het die nuwe intrekkers ingewag. In daardie dae het Orania baie nader aan ʼn woestyndorp gelyk as na die groen oase wat vandag bo die dorre veld uitblink.
Vir Orania om sy groen baadjie aan te trek, was water nodig. Meer spesifiek, die verspreiding van water wat uit die Oranjerivier gepomp kon word. Voor die pyplyn gevestig is, het sommige vroeë inwoners selfs water met bakkies en lorries aangery van die rivier af om hul tuine nat te spuit.
Eindelik het ʼn groepie pioniers die lyn getrek en besluit dat ʼn omvattende pyplyn gevestig moet word. Hierdie sou een van Orania se grootste projekte sedert sy bestaan wees – ʼn projek wat Orania se beginsels van eie arbeid, selfwerksaamheid en gemeenskap tot die uiterste sou toets.
Wat was die gevolg van hierdie projek? Was daardie pioniers beginselvas en het hul slegs eie arbeid gebruik om dié reusagtige taak aan te pak?
Kyk hierdie video wat die hele verhaal van een van Orania se grootste projekte vertel:
Jy kan inskakel op die Orania Beweging se radioprogram
Wie besoek Orania? Wat beteken die sogenaamde “verskuiwing na regs” in wêreldpolitiek? Is daar ʼn groeiende beweging van ʼn “gemeenskap van gemeenskappe” in die wêreld?
Al hierdie vrae en meer word beantwoord in die Orania Beweging se nuutste radioprogram. Jy kan nou direk na die Orania Beweging se radioprogram, wat elke twee weke op Radio Orania uitgesaai word, luister.
Die Orania Beweging-mediaspan het besluit om ons Radio Orania-program nie net op te neem nie, maar ook te begin afneem, sodat ons vriende wat ons op YouTube dophou kan saamkyk, en saamgesels.
Hierdie week gesels Frans de Klerk met Joost Strydom oor allerlei interessante temas. Skakel gerus in!
Sluit aan as ‘n lid! KYK: Help Orania bou! Besoek ons webwerf! -
AuthorPosts
- You must be logged in to reply to this topic.