Moord op bejaarde man en vrou ondersoek Deur Wanda Olivier
LIMPOPO. – Malekutu Alfred Mokhupi (83) en Maphetola Selaelo Rasodi (80), wat glo in ‘n verhouding was, se liggame is Dinsdagaand in verskillende vertrekke van ‘n huis, met toue om hulle nekke, aangetref.
Brig. Hlulani Mashaba sê die polisie het omstreeks 20:00 ‘n klagte van moord ontvang en hulle na die Ga-Kuranta-woonbuurt gehaas. Met aankoms op die toneel is die man in ‘n sittende posisie op die vloer met ‘n tou om sy nek, wat aan die dak vasgemaak is, aangetref. Die vrou is in ‘n ander vertrek gekry waar sy op die grond met haar gesig na bo gelê het, ook met ‘n tou om haar nek wat aan die dak vasgemaak is. Die liggame het nie sigbare beserings gehad nie en albei persone is dood verklaar.
Mokwakwaila-polsie ondersoek ‘n saak van huisroof en twee moorde. Die oorledenes se selfone is glo tydens die insident geroof. Die motief vir die insident en oorsaak van die dood van die bejaardes is deel van die ondersoek.
Mashaba sê enigiemand met relevante inligting kan AO Thai Modjadji op 060 996 0062 bel.
source:Moord op bejaarde man en vrou ondersoek – Nuusflits