16-jarige meisie se liggaam in skool se stoorkamer gevind
Die Overberg Hoërskool in Caledon in die Wes-Kaap is vandag gesluit nadat ‘n graad 10-leerling se liggaam gisteraand op die skoolterrein gevind is.
Deveney Nel (16) se foto is Woensdag, 7 Augustus wyd op sosiale media versprei nadat sy na afloop van die skooldag haar saamrygeleentheid terug na haar huis in Grabouw misgeloop het.
Die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, kaptein FC van Wyk het bevestig dat haar liggaam later in ‘n stoorkamer by die skool gevind is nadat sy deur haar ma as vermis aangemeld is. In ‘n omsendbrief wat aan ouers gestuur is sê die skoolbestuur dat die skool vandag gesluit is omdat die polisie ondersoek instel.
Die woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, Bronnagh Hammond sê beraders is na die skool gestuur.
SOURCE:16-jarige meisie se liggaam in skool se stoorkamer gevind – Pretoria FM