Home › Forums › A SECURITY AND NEWS FORUM › DEKOLONIALISERING VAN ONDERWYS: TOEGANG TOT SKOLE TEENOOR TOEGANG TOT OPVOEDING
- This topic is empty.
Viewing 1 post (of 1 total)
-
AuthorPosts
-
2023-11-27 at 22:30 #429881Nat QuinnKeymaster
In sy toespraak tydens die Education International se tiende Afrika-streekskonferensie, het president Cyril Ramaphosa die oënskynlike behoefte aan ʼn gedekolonialiseerde onderwysstelsel beklemtoon. Volgens hom moet daar weg beweeg word van ʼn Eurosentriese wêreldbeskouing om plek te maak vir ʼn diverse en inklusiewe perspektief.
Dit is juis hier waar ek en die president mekaar heeltemal misverstaan. Of dalk is dit die diepte van die sodanige diversiteit en inklusiwiteit waar ons haakplekke lê.
Vir my beteken ʼn stelsel wat diversiteit voorstaan, ʼn stelsel wat ruimte skep vir alle kulture en taalgemeenskappe om hul eie skole te bestuur volgens die waardes en tradisies wat vir daardie spesifieke kultuurgroep belangrik is. Natuurlik in die beste belang van die leerder van daardie skool. Dit behels ʼn stelsel wat voorsiening maak dat elke amptelike taal as onderrigtaal aangewend kan word en binne die assesseringsraamwerk geakkommodeer kan word. Ek weet nie of dit dekolonialisering is nie …
ʼn Gedekolonialiseerde stelsel, volgens die president, sal die teenvoeter vir rassisme en ongelykheid wees, en die bevordering van demokrasie wees. Dit sal ook volgens hom onderwys meer toeganklik vir almal in Suid-Afrika maak. En natuurlik glo ek dat ʼn stelsel, soos ek vroeër beskryf het, juis hierdie uitkomstes tot gevolg sal hê.
Dit wil voorkom asof die ANC besef dat toegang tot onderwys ook meestal fisiese toegang tot ʼn bepaalde daargestelde ruimte behels, waar leer en onderrig formeel kan plaasvind. Wat die regering en sy makkers nie wil toegee nie, is dat die bestaande ruimtes beperk is en dat daar ʼn enorme behoefte aan nuwe ruimtes is wat nie verg dat kinders ʼn dagreis te perd moet aandurf om daar uit te kom nie.
Dit is natuurlik verder ook so dat skole, juis om demokrasie te bevorder en burokrasie teen te werk, nie meer as staatskole bekend staan nie maar as openbare skole wat vir die gemeenskap vanuit die gemeenskap toegang tot opvoeding vir kinders bied. Binne hierdie milieu neem ouers dus verantwoordelikheid vir die opvoeding van hulle kinders deur ʼn demokraties-verkose beheerliggaam daar te stel wat die skool in samewerking met die hoof, onderwysers, skoolgemeenskap en die staat bestuur. Dit is belangrik om “skoolgemeenskap” hier te beklemtoon asook die aard van die vennootskap tussen die verskeie rolspelers.
Wat die departement egter weier om te verstaan, is dat meer as een skool binne ʼn bepaalde geografiese gebied kan wees, maar dat elkeen van daardie skole nie noodwendig dieselfde gemeenskap hoef te dien nie. Die skoolgemeenskap van die betrokke skool bestaan uit die bestaande leerders van daardie skool, die alumni, die ouers en die onderwysers wat daar werk. Die skool het dan ook, soos bepaal deur sy gemeenskap, spesifieke taalvoorkeure en tradisies wat daardie skool se identiteit bepaal. En dit is nie diskriminasie nie.
Die vennootskap, soos ander vennootskappe, word in die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 uiteengesit. Elke vennoot het ʼn bepaalde rol en verantwoordelikheid wat hy moet nakom. Dit is dus bv. glad nie die rol van die staat om die skool se bestuur oor te neem en voorskriftelik met betrekking tot beleid op te tree nie, maar wel om infrastruktuur daar te stel. In terme van die breër onderwyssektor en sy verhouding tot die ouer, is dit dan ook sy plig om toegang tot onderwys daar te stel deur meer skole te bou waar daar ʼn behoefte daarvoor bestaan en nie om bestaande skole se aanbod met sy drakoniese regulasies af te water nie.
Om daarop aan te dring om die Weste en apartheid te blameer vir die gruwelike wanbestuur en tekortkominge van die bestaande onderwysstelsel gaan niks bereik nie. Dieselfde hoeveelheid, of selfs minder voete sal steeds elke môre op hul reg tot onderrig kan aanspraak maak terwyl ander ewig ongeletterd en nie-indiensneembaar in hierdie hartseer kringloop vasgevang is, generasie in en generasie uit.
En intussen sal slegs dié wat hoop het self delf, self verantwoordelikheid aanvaar, verby die sogenaamde verpligting van die staat beweeg, en eie skole en onderrig vir die gemeenskap vanuit die gemeenskap daarstel in die beste belang van die kind.
source:Dekolonialisering van onderwys: toegang tot skole teenoor toegang tot opvoeding – Pretoria FM
-
AuthorPosts
Viewing 1 post (of 1 total)
- You must be logged in to reply to this topic.