
LITA – ystervrou (lynette erasmus-schultz)
die ysterberg staan diep in rou:
oor jou, oor jou, o koersvas vrou.
die kruise hang hul koppe vanaand, hul arms gehef onder ‘n sekelmaan:
“mag jy leef, mag jy rus,
in die arms gesus van die Een wat jou dra
deur die see van jou vrae…
jou stryd is verby, so verbete gestry,
teen dood en geweld
waar niemand vergeld die kruise gekap in die veld.”
is die weersiens soet?
vergete die bloed?
die pyn en die trane, die rou?
ons gun jou die rus in hul arms gevou.
tot die dood aan jou woord was jy trou…
rus sag, dapper vrou,
jou volk staan in rou
teen die berg, elk met kruis langs ‘n kruis,
met hul skouers geboë
en jou vrae in hul oë,
met gesigte al soekend na bo.
die kers van jou stryd, nou ‘n helder vlam
word ‘n fakkel wat brand in die nag.
jy’t kruipend gegaan na die lig, na die dag
en ons volg dié pad met die Lamp.