Home › Forums › ⚖️ CRIME INVESTIGATION LIST ⚖️ › Miljoene-omkopery, ook aan regeringslui sou Tariomix-likwidasie swaai
- This topic is empty.
Viewing 1 post (of 1 total)
-
AuthorPosts
-
2023-04-18 at 23:15 #400693Nat QuinnKeymaster
Omkopery van miljoene rande voor gister se uitspraak in die hofsaak vir die voorlopige likwidasie van Tariomix, sou dié omstrede aansoek laat verdwyn het of swaai. Dit sluit in R20 miljoen aan ses amptenare van die hof en die Noordwes provinsiale regering en/of R2 miljoen aan die twee aansoekers.
Sakeman Louis Liebenberg het dié bomme gelos nadat uitspraak gister in die hof in Mahikeng gelewer is. Volgens hom was daar al Sondag ‘n versoek van ses amptenare van die Noordwes-provinsiale regering en hofamptenare nadat hulle met regter Tebogo Djaje vergader het. “As ons R20 miljoen aan hulle sou betaal, sou sy gister in ons guns beslis het.”
Hulle was bereid om tot gistermiddag vir ‘n antwoord te wag en dis hoekom die uitspraak eers gister laat gelewer is, het Liebenberg openbaar. Die uitspraak was vir tienuur gisteroggend geskeduleer.
Boonop was die twee aansoekers ook bereid om vir R2 miljoen die saak betyds te laat vaar. Liebenberg het besluit om nie aan enige omkoop-versoek te voldoen nie en die saak die volle pad te laat loop.
Twee van sy vennote in Tariomix, Ruan Botes en Jeandré Viljoen van Pretoria wat saam sowat R725 000 belê het, het vroeër die dringende aansoek om voorlopige likwidasie teen Tariomix, een van sy maatskappye, gebring. Dit is slinks gedoen deurdat die bevel bedien is op ‘n plaas in die Lichtenburg-distrik waar Liebenberg al agt jaar nie meer woon nie. Daarna is die hofstukke eers ‘n dag voor die saak by Liebenberg se huis in Bronkhorstbaai afgelewer. Dit het nie genoegsame tyd gebied om ordentlik voor te berei nie en die hof het in sy afwesigheid die voorlopige likwidasie teen Tariomix toegestaan.
Sy regspan het toe saam met SARS ‘n dringende hofaansoek ingedien om die voorlopige likwidasie op te hef. Die saak is laas week aangehoor en uitspraak is gister gelewer.
Intussen het die likwidateurs en balju laas maand op Liebenberg se kantore in Marauderstraat, naby die OR Tambo Lughawe, toegeslaan en personeel lastiggeval. Daar is op verskeie rekenaars en selfone en ander toerusting beslag gelȇ. Omdat Tariomix se sake nie al is wat van hier bedryf word nie, het dit Liebenberg se besigheid ontwrig en skade berokken.
Djaje het egter gister Liebenberg en SARS se dringende aansoek van die hand gewys. “Wat natuurlik absurd is,” meen die sakereus. “Sy het by implikasie gesê dat ons nie die reg gehad het om die keerdatum te antisipeer (dus te vervroeg) vanaf September nie.”
Liebenberg vind dit vreemd omdat die belangrike regsreël audi alterem partem, nie gegeld het nie. Dit beteken ‘n party tot ‘n geskil het die reg om aangehoor te word. “Sy het tydens die verhoor deurgaans voorgegee of ons ‘n billike geleentheid hiertoe gehad het, wat nie die geval is nie.”
Volgens hom het ‘n liederlike administratiewe fout by sy kantoor ‘n ou Tariomix-kontrak met ‘n ou adres op die maatskappy se webblad laat beland. “Dis jammer en kos ons duur maar als is nog nie verlore nie,” het die sakeman kragtig bygevoeg.
Die goeie nuus is dat die regter nié Tariomix finaal gelikwideer het nie. Die voorlopige likwidasie staan dus, wat bewys die betoog dat die maatskappy insolvent is, nie aanvaar is nie. “Anders sou sy die voorlopige likwidasiebevel finaal gemaak het, soos in die MTI-saak.”
Liebenberg is verheug hieroor omdat dit nuwe opsies bied aan hom en sy regspan om die hof te oortuig dat Tariomix nie gelikwideer moet word nie.
Djaje het terselfdertyd Tariomix se boedel na die kurator bonis verwys wat nou binne 30 dae verslae oor die maatskappy by die hof moet indien. Die kurator, Zaheer Cassim, is al twee jaar gelede deur SARS aangestel om wag te hou oor Tariomix se sake.Liebenberg sê ‘n harde geveg wag, maar “ons is reg vir alles”. Die saak word weer op 14 September aangehoor. “Die plan is om onmiddellik te appélleer en dan is ons uit die hande van die howe in Mafikeng,” het hy verduidelik. Advokaat John Suttner, ‘n spesialis in besigheidsreg, sal uit Australië by sy span aansluit om die likwidateurs volkskaal die stryd aan te sȇ.
Boonop sal nuwe aansoeke teen enige van sy ander maatskappye nou van vooraf gebring moet word, wat dan behoorlik verdedig kan word en “ons in staat stel om die groter en totale prentjie op die tafel te sit”.
“Die werklike geveg het eintlik nou eers begin,” beaam Liebenberg. Hy het die vennote in sy maatskappy gevra om geduldig met geloof te wag en te kyk wat gebeur.
Intussen gaan sy maatskappye volstoom voort met besigheid doen, het Liebenberg aan Die Waarheid benadruk.
Die omkopery en skynheiligheid, ook van die twee likwidasieaansoekers teen Tariomix, is deel van die openbare aanslag teen en vuilsmeer die laaste ses maande van Liebenberg, sy vrou Dezzi en sy sakeryk, wat om die myn, asook koop en verkoop van diamante wentel. Dit sluit in ‘n durende fel media-aanslag met gereelde negatiewe dekking, waarin hy nie billike kans gebied word om sy kant te stel nie.
Die beleërde sakeman het gedreig om hard terug te slaan na sy vyande en vuilspel en diegene daaragter te ontbloot en aan die pen te laat ry. Dit sluit in die oopvlek van die dubbelsinnige lewe van een van voorlopige likwidateurs, adv. Vaughn Victor. Hy moet hom vanmiddag by die Polisie in Bedfordview aanmeld nadat ‘n vrou hom van verkragting aangekla het. “Kom ons kyk wat word dan van die breedsamige likwidateur,” het Liebenberg gewaarsku.
source:Miljoene-omkopery, ook aan regeringslui sou Tariomix-likwidasie swaai – Die Waarheid
-
AuthorPosts
Viewing 1 post (of 1 total)
- You must be logged in to reply to this topic.