Loving Life TV

Home Forums ORANIA Orania Beweging Nuusbrief: 06 Junie 2024

  • This topic is empty.
Viewing 1 post (of 1 total)
  • Author
    Posts
  • #451812
    Nat Quinn
    Keymaster
    OB---Email-Newsletter-Masthead

    Verkiesingstyd: Media stroom na Orania

    Plaaslike en internasionale media het weer op Orania toegesak in aanloop tot, en tydens die Suid-Afrikaanse verkiesings. In verkiesingsweek was vier internasionale mediaspanne gelyktydig in Orania, wat fotograwe van AFP, Reuters, asook TV-spanne insluit.

    Die Orania Beweging het twee gesprekke/debatte op Metro FM, en heelwat navrae van internasionale belangstellendes, hanteer
    Oor die afgelope maande is stories deur NewzRoom Africa, ZDF in Duitsland, die Franse Nasionale uitsaaier kanaal 2, Eyewitness News, VPRO in Nederland en vele meer oor Orania uitgesaai.

    Om die media te hanteer kan soms ‘n taai tameletjie wees, veral omdat Orania konstant aangeval word.
    Die Orania Beweging is baie dankbaar vir ons lede wat bydra en dit moontlik maak dat ons aanslagte afweer terwyl ons, ons storie vertel.

    Hier is ‘n skrywe oor waarom ons media in Orania aanhou “toelaat”.

    Kyk gerus na van die uitsendings hier:

    Foto Joernaliste se kamera’s is gereed tydens skole rugby-oefening.

    65866172-da79-4b7d-9bce-58f978b5a1fd
    Divider

    BELANGRIK: Gebruik die skakel heel onder “View entire message” indien dit afsny as gevolg van lengte.

    Heel onder aan die nuusbrief is skakels na al ons sosiale media platforms.

    Divider

    Orania en die verkiesing: wie het vir die EFF gestem?

    Suid-Afrika is pas weer deur ‘n nasionale verkiesing waaraan baie Suid-Afrikaners deelgeneem het met die hoop om die ANC se wurggreep op die land te breek, terwyl Orania en Oraniërs se standpunt deurlopend is dat die Orania-idee begrond en proaktief van aard is, en wat mét of sónder goeie verkiesingsuitslae sal aanhou bou aan ‘n toekoms en dienooreenkomstig aan Afrikanervryheid. Dit sal voortgaan mét of sónder die partypolitiek.

    Orania was veral in die nuus oor een gebeurtenis: Iemand het kwansuis vanuit Orania vir die radikale EFF gestem!

    Terwyl dit dalk ‘n bemarkingstruuk van ‘n gemeenskap met 3000 inwoners sou kon wees om sodoende die verkiesingsnuus-siklus absoluut vir twee of drie dae te domineer, wil die Orania Beweging ons ondersteuners verseker: hierdie keer is ons onskuldig!

    Die antwoord is ongelukkig veel minder interessant as ‘n aandagtrektruuk of ‘n radikale gemeenskapslid (sover ons weet!).
    Die eenvoudige waarheid is dat die stempunt digby Orania eenvoudig ‘n stemdistrik is waar omliggende boere en hulle werkers, en selfs inwoners van buurdorpe kom stem.

    Die enkele EFF resultaat het egter ‘n rimpel-effek op sosiale media gehad met Orania wat op die platform X gegons het. Verskeie plasings spekuleer oor dié EFF-stemmer terwyl Orania met sy 3000 inwoners die kollig van die Suid-Afrikaanse verkiesing geniet.
    Hoe dit ook al sy is Orania as Afrikanerkultuurgemeenskap nie partypolitiek gedrewe nie, maar ons kruisies vir vryheid word op ‘n praktiese en daadwerklike vlak uitgeleef.

    Foto In ‘n ligter luim: die Klein Reus staan nie terug nie!

    download
    Divider
    20240222 Ruspunt Advertensie Vars weergawe 002
    Divider

    Die battery kom aan in Orania: ‘n tree in die rigting van energie onafhanklikheid.

    Frans de Klerk

    Die langverwagte battery wat Orania deels beurtkragvry sal maak, is eindelik op 25 April 2024 afgelewer. Oraniërs het as ‘n gemeenskap saamgedrom om die battery soos ‘n verlore seun te verwelkom. Vlae, kameras en glimlagte was volop soos die hyskraan en Orasol-span die battery versigtig op sy nuwe tuiste staanmaak.

    Volgens Riaan Jacobs, uitvoerende direkteur van Orasol (die maatskappy wat werk aan alternatiewe energie vir Orania), word beoog om die battery middel Julie aan te skakel en in gebruik te neem.

    “Ons het uitgewerk dat Oraniërs tot R7,48m per jaar verloor as gevolg van beurtkrag. Daarteenoor kos die battery ‘n skamele R3,18m per jaar terwyl ons gemeenskap die voordeel geniet om tot 90% beurtkragvry te kan wees” sê Riaan.

    Buiten vir die reuse ekonomiese invloed, is dié battery ook ‘n groot stap in die rigting van energie onafhanklikheid. Orania as ‘n Afrikanerkultuurgemeenskap is trots daarop om by die dag meer onafhanklik te word. Oraniërs is deurlopend besig om in hulle eie behoeftes te voorsien. Die Orasol-battery is ‘n goeie voorbeeld hiervan.

    ‘n Opvallende oomblik na die aflewering van die battery was toe die hyskraan ‘n Orania-vlag 75 m hoog in die lug gehys het. Die hyskraanoperateur was so beïndruk met dié vriendelike gemeenskap dat hy gevra het of hy die vlag met hom kan saamneem huis toe. So het hy ‘n trotse eienaar geword van sy eie Klein Reus-vlag.

    Netso was een van die helpers van buite Orania erg in sy skik met die opgewondenheid en vriendelikheid van Oraniërs wat die battery verwelkom. Hy het sy kommentaar op Facebook gedeel (sien foto hieronder).

    Foto’s van bo na onder
    Foto 1 Helper van buite Orania deel sy ervaring.
    Foto 2 Battery word van die trok afgelaai.
    Foto 3 Jong Oraniërs groet die nuwe battery.

    Kommentaar
    Battery vind sy nuwe staanplek
    Oraniers waai die battery tegemoet
    Divider
    Orania Beweging Nuusbrief Advertensie 21032024
    Divider

    Orania opleidingsinstelling ontvang skenking vir behoeftige studente

    Doret le Cornu

    Bo-Karoo Opleiding, ‘n tersiêre opleidingsinstelling in Orania, se hande is versterk deur ‘n skenking aan die instellingse fonds wat gestig is vir studente in nood.

    Tydens Bo-Karoo Opleiding se weeklikse opening het Solidariteit Helpende Hand (SHH) se Bo-Karoo streek R10 000 aan die opleidingsinstelling se PersLintFonds geskenk. Christel Opperman, Assistent Streeksorganiseerder van Helpende Hand se Bo-Karoo streek, het saam met twee van haar kollegas die geleentheid bygewoon en die studente toegespreek.

    “Helpende Hand Bo-Karoo-Streek se roeping is om die nood van Afrikaners op grondvlak te verlig deur middel van gemeenskapsontwikkeling,” sê Opperman. “Ons fokus op kinders, bejaardes, persone met gestremdhede en gesinne. Ons doen dit deur Afrikaner-gemeenskappe deur middel van opvoeding, opleiding en ontwikkeling te bemagtig met kennis en vaardighede.”

    “SHH Bo-Karoo-Streek ondersteun graag alle beweginginstellings en ook om die band te versterk wat ons reeds met BKO het. Ons is dankbaar vir inisiatiewe soos hierdie wat ons gemeenskappe sterker kan maak.”

    Bo-Karoo Opleiding se PersLintFonds het ontstaan vanuit gesprekke en waarneming deur personeel en ander rolspelers waar opgemerk is dat daar ‘n nood is by baie studente wat uit moeilike omstandighede kom. Die doel van die PersLintFonds is om hierdie studente, wat materiële nood ervaar, te ondersteun deur fondse aan te wend vir onmiddellike nood in terme van voedsel, toiletware, reiskostes ens. sodat hulle oor die langtermyn weer onafhanklik kan funksioneer.

    Opperman sê dat dit vir hulle ‘n groot voorreg is om met Bo-Karoo Opleiding bande te kan bou. “Ons is dankbaar vir inisiatiewe soos hierdie wat ons gemeenskappe sterker kan maak.”

    Foto van links na regs Marike Labuschagne (Hoof van Studentesake), John-Thomas Pringle (SR Sekretaris), Marco Coetzee (SR Voorsitter), Christel Opperman (Assistent Streeksorganiseerder: Bo-Karoo), Chris Opperman (SR Onder-voorsitter), Paul Vogel (Uitvoerende hoof van BKO).

    437484503 957515659712135 7721039603554320978 n
    Divider
    ProAssist gratis week pamflet 1
    Divider

    Meer as 120 nuwe erwe word ontwikkel

    Frans de Klerk

    Met ‘n jaarlikse bevolkingsgroei van meer as 12% is dit belangrik dat Orania sy aanbod deurlopend ontwikkel en uitbrei. Dit is daarom dat Orania Ontwikkelings Maatskappy (OOM) aan die einde van 2024 kan spog met 125 nuwe residensiële erwe wat gereed is om te verkoop.

    By Heuwelsig – naby Orania se sportterrein – word 26 nuwe erwe ontwikkel wat reeds teen einde Junie 2024 beskikbaar behoort te wees. Daar word selfs ‘n erf onontwikkeld gelaat as deel van ‘n bewaar area en sodoende word ‘n stukkie van die natuur in hierdie gebied ongeskonde gelaat.

    Aan die heel anderkant van Orania, naby Gannabos, word Vergelegen ontwikkel – 99 koste-effektiewe erwe met die oog op eerstekeer-kopers.. ‘n Groot uitdaging tydens die ontwikkeling van hierdie erwe is egter ‘n 100 m rioollyn wat deur ‘n reuse klipbank onder die grond gegrawe moet word. OOM het gou besef dat gespesialiseerde metodes gebruik moet word en op hierdie stadium word die klip met dinamiet stukkend geskiet en uitgegrawe. Ten spyte van hierdie uitdaging behoort die Vergelegen-projek steeds teen einde 2024 gefinaliseer te wees.

    Orania Eiendoms Ontwikkeling (OEO) is ook betrokke by hierdie twee ontwikkelingsprojekte. By Heuwelsig word op agt van die erwe huise gebou met ‘n kombinasie van steen en ligte staal vir ‘n meer eksklusiewe voorkoms. OEO bou op 20 van die Vergelegen erwe koste effektiewe behuising.

    Beide ontwikkelings word bekroon met ontwikkelde strate waar Vergelegen-kopers netjiese teerstrate kan verwag en Heuwelsig afgerond word met geplaveide paaie.

    Foto’s van bo na onder
    Foto 1 Heuwelsig-ontwikkeling net duskant Orania se sportterrein.
    Foto 2 Vergelegen-ontwikkel met Kleingeluk in die agtergrond.
    Foto 3 Slote word gegrou op Vergelegen.

    Heuwelsig ontwikkeling
    Vergelegen ontwikkeling
    Slote word gegrou op Vergelegen
    Divider
    Volkskool advertensie Jan 22
    Divider

    Orania Noodhulp samel fondse in vir nuwe toerusting

    Doret le Cornu

    Op 27 April het Orania Noodhulp in samewerking met Gemsbok Sportinstituut ‘n noodhulp en fiksheidsgeleentheid aangebied waar fondse ingesamel is ten bate van die aankope van nuwe noodhulptoerusting.

    Met ‘n span wat 24 uur per dag op bystand is in geval van noodsituasies, speel Orania Noodhulp ‘n baie belangrike rol in Orania se gemeenskap. Om nuwe en gehalte toerusting beskikbaar te hê vir hierdie noodgevalle is belangrik, aangesien dit ‘n drastiese verskil maak om mense vinniger en meer effektief te kan help.

    Orania Noodhulp, wat onder Orania Weerbaarheid val, poog om deur gemeenskapsprojekte bewusmaking en opleiding aan Oraniërs oor te dra.

    “Hoe meer mense vaardig raak in noodhulp, hoe veiliger is ons dorp,” se Maria Pereira, een van die spanlede van Orania Noodhulp. “As jy eendag êrens in ‘n restaurant sit en iemand verstik, en jy het die kennis om hom te help, kan jy ‘n lewe red.”

    Die fondsinsamelinggeleentheid was ‘n groot sukses, met nege spanne wat ingeskryf het vir ‘n fiksheid- en noodhulpkompetisie. Die dag se gebeurtenisse is gefasiliteer deur Gemsbok Sportinstituut, en die wenners van die drie kategorieë, naamlik laerskool, hoërskool en ope, het elk met ‘n noodhulpsak as prys weggestap.

    “Almal het dit baie geniet, van die kinders tot die oumense,” se Maria. “En die opleiding stop nie by geleenthede soos hierdie nie! Behalwe vir die hoër vlak noodhulpopleiding wat een van ons personeellede aanbied, het ons het ‘n jeug-noodhulpspan vir kinders tussen 12-18 jaar wat graag die vaardighede wil aanleer op die been gebring.”

    Foto’s van bo na onder
    Foto 1 Jong gesiggies spog met nuwe noodhulptassies!
    Foto 2 Verskeie spanne wat deelgeneem het aan dié geleentheid.

    438060078 831743618979556 8957896547915843243 n
    438086007 831745022312749 2650166259111233991 n
    Divider
    Groeifonds Voorgrond Advertensie Maart 2023 copy
    Divider

    Orania kry sy eie ”parkrun”

    Doret le Cornu

    Op Saterdag 27 April is Orania Stap en Draf vir die eerste keer aangebied, gesnoer op die idee van Parkrun, soos ’n soortgelyke geleentheid bekendstaan in die res van Suid Afrika.

    Orania Stap en Draf het met groot sukses weggespring en sal van nou af elke Saterdagoggend om agtuur plaasvind, met die wegspring- en eindpunt by Orania Gemeenskapsaal. Hierdie vyf-kilometer-roete deur die dorp is geskik vir alle ouderdomsgroepe, en kan gemaklik teen eie pas afgelê word.

    Leon en Ilse Kleinhans, stigters van Orania Stap en Draf, sê dat hulle met die instelling van die weeklikse stap- en drafroete ‘n bydrae tot Orania se gesondheidsbewusmaking wil maak.

    “Daarby is die lekker gesels en samesyn wat dié geleentheid tussen Oraniërs skep iets wat ons gemeenskap net nog verder kan saamsnoer,” sê Ilse.

    Orania Stap en Draf is ‘n geleentheid vir alle ouderdomme en is daarom ook ‘n gepaste aktiwiteit vir die hele gesin. Die roete loop gedeeltelik deur die veld waar die skoonheid van Orania se natuur kan ten volle geniet word.

    Foto Fikse deelnemers geniet Orania Stap en Draf!

    WhatsApp Image 2024-05-01 at 16.26.10 5ae9e29b
    Divider
    Kuberskool-2022-A4-Advert
    Divider

    Orania staan op vir gestremdes

    Doret le Cornu

    Die Forum vir Gestremdes in Orania het op 3 Mei ‘n aksie geloods genaamd die VellieVoeteFees, ‘n pretstap ten bate van fondse en bewusmaking van die gestremde gemeenskap in Orania.

    Sowat 500 mense, waaronder inwoners van oud tot jonk, studente, skoliere en besoekers, het deelgeneem aan hierdie pretstap oor drie kilometer deur Orania. ‘n Foto-kompetisie en prysuitdeling het verder deelgemaak van die VellieVoeteFees-program.

    Die Forum vir Gestremdes in Orania se visie is om ‘n volhoubare tuiste vir persone met gestremdhede in die dorp te vestig. Dit kan gedoen word deur behoeftes te bepaal, bewusmakingaksies te loods, en fondse in te samel vir ‘n sentrum vir persone met gestremdhede.

    Renska Deetlefs, verteenwoordiger van die Forum vir Gestremdes in Orania, sê dat die VellieVoeteFees een van hulle grootste projekte is om uiteindelik hulle visie te kan verwerklik. Hulle wil hierdie fees as ‘n jaarlikse gebeurtenis instel, veral nadat die sukses van die geleentheid so reusagtig was dat dit hulle beste verwagtings oortref het. Die betrokkenheid van Orania se gemeenskap was duidelik te sien. Sommige besighede het vir die duur van die pretstap hulle deure gesluit en aan die feestelikheid deelgeneem, terwyl ander instellings finansiële bydraes gemaak het.

    “Uiteindelik wil ons ‘n sentrum kan oprig vir ons mense met gestremdhede in Orania,” sê Deetlefs. “Maar ons wil ook vereensaming van mense met gestremdhede verhoed. Ons wil vriende maak, saam lag, kuier en mekaar ondersteun.”

    Die Forum vir Gestremdes in Orania is amptelik bekend gestel en hulle beoog om nie vir een oomblik stil te sit nie. Behalwe vir die VellieVoeteFees is daar verskeie projekte en aksies wat voorlê vir die res van die jaar.

    Foto’s van bo na onder
    Foto 1 Menigte Oraniërs neem deel aan die VellieVoeteFees 2024 op Orania.
    Foto 2 Lené van der Walt (links) van die Orania Beweging oorhandig ‘n tjek aan Renska Deetlefs (regs) van die Forum van Gestremdes.

    IMG 2944
    IMG 2903
    Divider

    VAKANTE POS – KOMMUNIKASIEBEAMPTE

    Oor die pos
    Orania is ʼn groeiende gemeenskap en gevolglik neem die werksaamhede van die Dorpsraad jaar vir jaar toe. Een van die belangrikste funksies van die Dorpskantoor is om op ʼn deurlopende grondslag met verskeie belanghebbendes binne Orania te kommunikeer.

    Interne kommunikasie na die inwoners vanuit die Dorpskantoor is belangrik sodat inwoners op hoogte gehou kan word van die werksaamhede van die Dorpskantoor, maar ook dat hulle die geleentheid gegun word om bydraes te kan lewer ter wille van sinvolle besluitneming.

    Die kommunikasiebeampte sal vir die volgende verantwoordelik wees:
    * openbare verhoudinge en skakeling;
    * deurlopende kommunikasie met die gemeenskap;
    * kliëntediens;
    * ontwikkeling van stelsels vir verbeterde kommunikasie en raadpleging.

    Vereistes vir ʼn suksesvolle aansoek
    Die ideale kandidaat vir bogenoemde pos sal oor die volgende beskik:
    * ʼn sterk verbintenis tot die strewe van Orania en ʼn verbintenis tot die beginsels van selfstandigheid, selfwerksaamheid en trotse Afrikanerskap soos in Orania beoefen;
    * deeglike begrip toon van die Orania-gedagte;
    * goed kan saamwerk met die verskillende afdelings in die Dorpsraad;
    * positiewe verhoudings in die gemeenskap kan bevorder;
    * ʼn passie en aanleg vir die handhawing van interpersoonlike verhoudinge;
    * ervaring in die ontwikkeling en bestuur van kommunikasiestelsels;
    * baie goeie rekenaarvaardighede;
    * uitstekende sosiale en kommunikatiewe (praat en skryf) vaardighede in Afrikaans en Engels;
    * ʼn bestuurslisensie en eie vervoer;
    * verblyfreg in Orania.

    Die volgende eienskappe sal ʼn aansoek versterk:
    * ʼn naskoolse kwalifikasie in kommunikasie en/of skakeling;
    * ervaring in verhoudingsbestuur;
    * ervaring in die organisering van byeenkomste en skakelgeleenthede,
    * ervaring in die hantering van sosiale sake, veral op gemeenskapsvlak,
    * ʼn bogemiddelde vermoë om met ʼn verskeidenheid van mense saam te werk
    * vaardigheid met die neem van foto’s en video’s.

    Aansoekproses
    Aansoeke in Afrikaans moet voor of op 14 Junie 2024 om 16:30 by die Orania Dorpskantoor ingedien word.
    Skakel Gawie Snyman by 053 207 0063 vir navrae. Aansoeke kan per e-pos of harde kopie ingedien word. Stuur e-posaansoeke aan inligting@myorania.co.za.

    Divider
    319155554 848390113035662 555850537164871354 n
    Divider
    WhatsApp Image 2024-02-16 at 12.31.40 10c21a12
    Divider

    Afrikaners regoor SA is geesdriftig oor Orania se stadsplein

    Frans de Klerk

    Wanneer laas het Afrikaners die selfvertroue – of selfs die hulpbronne gehad om ‘n stadsplein te beplan en te bou?

    Oktober 2025 herdenk die geboorte van Paul Kruger 200 jaar gelede, maar dit is ook die maand waarin die Orania Ontwikkelings Maatskappy (OOM) wil wegspring met Orania se eie stadsplein.

    Die fondsinsameling vir hierdie projek is goed op dreef met die Stadsboufonds wat reeds meer as R450 000 ingesamel het. ‘n Standbeeld van Paul Kruger word as middelpunt van die Stadsplein beplan en Afrikaners word uitgenooi om hulle bydrae tot hierdie ontwikkeling te maak.

    Saam met die Stadsboufonds is as 400 stene reeds ten bate van die oprigting van Oom Paul se nuwe tuiskomplek verkoop – ‘n duidelike bewys van Afrikaners se bereidwilligheid om te belê in ‘n vrye toekoms.

    “Die oprigting van ‘n Paul Kruger-standbeeld simboliseer Orania se strategie om ‘n vrye republiek te realiseer gegrond op Skriftelike beginsels” verduidelik Pieter Bisschoff, OOM se hoof van skakeling en bemarking.

    In ‘n video op die Orania Beweging se YouTube-blad daag Riaan Jacobs, voorsitter van die Stadsboufonds, Afrikaners uit om hulle bydrae te lewer tot hierdie projek. Die uitdaging is gestel dat die Stadsboufonds een steen sal koop vir elke steen wat deur die publiek gekoop word tot op 50 stene. Hierdie doelstelling is bereik met byna 70 stene wat deur Afrikaners wat ook graag hul name in die geskiedenis wil graveer, gekoop is.

    ‘n Stadsplein vir Afrikaners skep hoop en illustreer ons vermoë om op te staan en te bou. Ons is nie ‘n statiese volk nie, maar dinamies – en spesifiek dinamies vorentoe. Enige iemand is welkom om deel te wees van hierdie geskiedkundige projek.

    Wees betrokke en koop vandag jou steen vir vryheid.

    Foto 3D voorstelling van die Orania stadsplein.

    Voorstelling van die Orania stadsplein
    Divider

    Orania Kleretrommel kry ‘n nuwe baadjie

    Pieter Bisschoff

    Die Klere-trommel is Orania se eie gemeenskapswinkel waar kwaliteit produkte teen ‘n bekostigbare prys verkoop word. Die skenkings wat die Trommel ontvang kom van inwoners sowel as besoekers wat Orania se saak goedgesind is. Alle fondse wat uit die verkoop van die items geïn word, gaan na Orania Helpmekaar wat dit aanwend vir projekte ter ondersteuning van inwoners se maatskaplike welstand. Gesinne met ‘n lae inkomste word byvoorbeeld met skoolgelde ondersteun en ouers word toegerus om hulle verantwoordelikhede in gesinsverband na te kom.

    Volgens mev. Hannelie Schwartz, uitvoerende hoof van Orania Helpmekaar, lewer die inkomste wat hulle van verkope uit die Trommel ontvang ‘n wesenlike bydrae om hulle projekte te befonds. Hulle het groot planne met die opgradering en uitbreiding van die Trommel in die toekoms.

    Die aangesig van die winkel gaan opgeknap word om ‘n goeie koopervaring aan kliënte te bied. Die moontlikheid word ondersoek om voortaan nie net meer klere te verkoop nie, maar ook ander huishoudelike goedere soos linne, kombuisware en selfs meubels. Haar opregte dank gaan uit na diegene wat deurlopend produkte en items aan die Trommel skenk, maar ook aan diegene wat die winkel so gereeld ondersteun.

    Foto’s van bo na onder
    Foto 1 Orania Kleretrommel spog met verskeie opsies teen bekostigbare pryse!
    Foto 2 Die Kleretrommel is gereed vir die winter!

    Kleretrommel trek n nuwe baadjie aan
    Bekostigbaar en gereed vir die winter
    Divider

    Orania herdenk Bittereinderdag

    Doret le Cornu

    Op 31 Mei het Orania Bittereinderdag herdenk deur terug te dink aan die traumatiesegebeure wat 122 jaar gelede in ons volk se geskiedenis plaasgevind het. Om dit te herdenk is ‘n besoek aan Doornbult Konsentrasiekamp gebring waar talle Afrikanerlewens, veral dié van klein kindertjies, verloor is. Die dag is afgesluit deur ‘n toneelopvoering oor Japie Greyling se heldedaad onder leiding van die Orania Kunsteraad.

    By Doornbult Konsentrasiekamp word die grafte van meer as 200 vroue en kinders bewaar deur die Wiid-familie, wat tans die plaas waar die kamp geleë is besit. Verskeie items wat deur die jare op die terrein ontdek is, word ten toon gestel op die perseel, en getuig van die lyding en pyn wat die gevangenes moes deurmaak. Mevrou Rina Wiid, wat saam het haar man in 1995 die konsentrasiekamp ontdek het toe hulle die plaas aangekoop het, het die toer deur die terrein begelei, en ook die aangrypende geskiedenis van die kamp vertel.

    Die besoek aan die konsentrasiekamp het nie die dag se gebeure afgesluit nie, aangesien die Orania Kunsteraad (OKeR) die aand ‘n toneelopvoering van Japie Greyling se heldedaad aangebied het. Die toneelstuk is voorafgegaan deur optredes van verskeie Oraniërs met sang, musiek en voordrag- items. Met ‘n volgepakte saal en Japie Greyling wat vasberade sy verset teen die Britte bekendmaak, al is dit ten koste van sy eie lewe, het Bittereinderdag met ‘n boodskap van hoop afgesluit.

    31 Mei bly ‘n besondere dag in die Afrikaner se geskiedenis. Die datum kondig in 1902 die einde van die Tweede Vryheidsoorlog aan, maar daarby ook die bittere pil van die wegteken van die vryheid van die twee Boererepublieke met die Vrede van Vereniging. Orania herdenk in besonder hierdie dag met verwysing en herinnering aan die dapper vroue en manne wat tot die bittere einde toe weerstand teen die Britte gebied het. Nogtans beteken die dag vir ons nie net neerlaag nie, maar ook die begin van ‘n proses van heropstanding uit die as.

    Dit moet vir huidige geslagte Afrikaners wat in sak en as sit oor die verlies van mag en oor die onvermoë om die verval te stuit van alles wat vir ons mense kosbaar is, as inspirasie dien.

    Foto’s van bo na onder
    Foto 1 Meer as 200 boerevrouens en kinders se grafte word deur die Wiid familie onderhou.
    Foto 2 Toneelspelers van en bydraers tot die opvoerstuk ‘Japie Greyling: Ek sal nie sê nie’ staan vir ‘n foto.
    Agter, vlnr – Hendrik Verwoerd, Elsa Notnagel, Hans van Staden, DJ Steyn, Carel V Boshoff, Carel van den Berg.
    Voor, vlnr – Alida Verwoerd, Saul Murphy, Christiaan Roets, Marike van Huyssteen, Maritz Murphy, Michael Murphy.

    Meer as 200 boerevrouens en kinders se grafte word deur die Wiid familie onderhou
    Kopie van Toneelspelers van die opvoerstuk Japie Greyling Ek sal nie se nie staan vir n foto
    Divider
    HOA OB Old logo
    Divider
    Screenshot 20221129 194313
    Divider
Viewing 1 post (of 1 total)
  • You must be logged in to reply to this topic.