- This topic is empty.
-
AuthorPosts
-
2024-08-19 at 16:07 #457876Nat QuinnKeymaster
Orania woon KragDag Sentraal by in 2024
Frans de Klerk
Vanjaar was daar drie stalletjies vanuit Orania wat die meer as 650 km aangedurf het Gauteng toe om KragDag Sentraal by te woon. Bo-Karoo Opleiding (BKO), Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM) en Orania Beweging het hulself staangemaak op die Diamantvallei-plaas, waar KragDag jaarliks aangebied word.
KragDag is ‘n jaarlikse ekspo met ‘n karnavalatmosfeer. KragDag handhaaf ‘n “vrywees filosofie” met die leuse: “Doen jou eie ding!”
Stalletjies wat onafhanklikheid aanmoedig, soos sonkragstelsels, wateropvangs- en suiwering, hidroponiese- en akwaponiese stelsels, voedselverwerking en vele meer dra by tot hierdie filosofie.Uiteraard was dit ook ‘n ideale geleentheid waar Orania sy stempel kon afdruk. Verskeie mense het die Orania Beweging se stalletjie besoek om meer oor Orania en die Orania-strategie uit te vind. Mense was nuuskierig oor Orania en ‘n verskeidenheid van navrae is hanteer, van ORASOL se sonplaas tot die plaaslike geldeenheid (koeponstelsel), die Ora. Verskeie stalletjiebesoekers het belowe om te kom kuier en sommiges oorweeg dit om te verhuis. Vir Orania is dit ‘n belangrike mark om by betrokke te wees. Daar is baie Afrikaners in die ou Transvaal wat opsoek is na ‘n toekoms vir hulle kinders, kultuur en geloof.
“Dit was lekker om mense te verras met ons stalletjie,” sê Frans de Klerk, kommunikasiebeampte by Orania Beweging. “Orania se betrokkenheid is opgemerk met verskeie mense wat verbaas gesê het: ‘O, Orania is ook hier?’ en dan kom vertel het dat hulle binnekort ‘n besoek wil kom aflê.”
Orania se geldeenheid (in werklikheid ‘n koeponstelsel) het baie aandag getrek. Alhoewel Ora’s deur die Rand gerugsteun word en daarom dieselfde waarde het, hou die gebruik van Oras verskeie voordele vir Oraniërs in:
1. Dit is veilig. Oras word nie uit Orania gesteel nie, want dit kan nie buite Orania gebruik word nie.
2. Terwyl die gemeenskap handel dryf met Oras, verdien die Rande rente in die bank. Hierdie rente word deur Orania Sakekamer gebruik om Orania-besighede te bevorder.
3. Elke drie jaar verval die huidige reeks Oras. ‘n Tydperk word gegun om verouderde Ora’s om te ruil, waarna ‘n nuwe reeks in gebruik gestel word. Ora’s wat as herinneringe of as versamelings gekoop is en dus nooit geruil word nie, is winste wat weer tot die bevordering van ons gemeenskap aangewend kan word.
4. Die simbole op Oras is simbole waarmee Oraniërs kan assosieer. Op Orania word ‘n geldeenheid gebruik wat vir sy inwoners sin maak, mooi is en hul vryheidsstrewe beaam.‘n Warm en stowwerige paar dae is met glimlagte aangepak danksy die samesyn van Orania se drie stalletjies. ‘n Gesellige atmosfeer het geheers tussen dié drie stalletjies – ‘n kohesie wat vir besoekers ook aantreklik was. Orania se naam is hoog gehou in die “buiteland”!
Foto 1 Frans de Klerk van Orania Beweging vertel nuuskierige stalletjie besoekers meer van Orania.
Foto 2 Du Preez de Villiers beman OOM se KragDag-stalletjie.
Foto 3 Johan Klinck spog by BKO se stalletjie saam met sy vrou, Christa, wat hom kom bystaan.BELANGRIK: Gebruik die skakel heel onder “View entire message” indien dit afsny as gevolg van lengte.
Heel onder aan die nuusbrief is skakels na al ons sosiale media platforms.
Orania vier Taalweek
Doret Le Cornu
Op 14 Augustus word Taaldag in Orania gevier, wat beteken dat dit Taalweek in Orania is.
Taalweek, wat van 12 tot 17 Augustus gevier word, is vanjaar deur die Orania Kunsteraad (OKeR) aangebied en sluit ‘n omvattende program in wat ‘n ware fees vir enige Afrikaanssprekende voorspel.
Taaldag, waarom Taalweek draai, word as vakansiedag in Orania gevier. Op dié dag in 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in Paarl gestig. Hulle het hulself daarvoor beywer dat Afrikaans, toe nog ʼn nie-erkende en nie-gestandaardiseerde dialek, amptelik erkenning sou kry. Hierdie stryd is eers in die 20ste eeu gewen, maar die saadjie wat die GRA geplant het, het ʼn groot boom geword met Afrikaans wat ʼn volwaardige taal op elke terrein geword het: die akademie, die kunste, die literatuur, die wetenskap, die ekonomie, die populêre sowel as die hoogkultuur. Die strewe van Orania is onlosmaaklik verbind aan die bewaring en uitbou van Afrikaans, en daarom word dit nie net op Taaldag gevier nie, maar word deur die loop van ‘n hele week herdenk en herleef.
Taalweek het op 12 Augustus weggespring met ‘n kunsuitstalling gevolg deur ‘n saamsing Volksliedjie-aand wat die hele gemeenskap kon bywoon. Daar het ‘n heerlike straatpartytjie-atmosfeer geheers terwyl deelnemers in die opelug op bankies gesit en sing het. Behalwe vir talle volksliedjies wat saam uit volle bors gesing is, het die dorp se studente hul sêr-talente kom deel en het per koshuis om ‘n kultuur trofee meegeding.
Op Dinsdag, 13 Augustus, het OKeR die program verder uitgebrei deur ‘n woordspeletjiesaand, waar die jeug hul kennis van Afrikaans getoets het.
Op Woensdag, 14 Augustus, het Taaldag aangebreek, en dr Wikus Buys van Begrond Insitiuut, ‘n instituut vir Christelike grondslagstudies, het die dag se aktiwiteite met ‘n lesing geopen, met die tema “As ‘n volk sy woorde tel – die invloed van woordeskat op vryheidsdenke.”
Die aand het van groot tot klein na die gemeenskapsaal toe gestroom om ‘n goeie opkoms te verseker by die jaarlikse Gemeenskapskonsert. Verskeie persone en groepe het vanuit die dorp hul talente op die verhoog vertoon, van sanggroepe en soliste tot dans-items en dramastukkies. Voorwaar ‘n konsert vir die gemeenskap, deur die gemeenskap!
Saam met Donderdag 15 Augustus het ‘n lank verwagte item op die program aangebreek, naamlik die Waterwyser boereblyspel. Hierdie blyspel handel oor Ouma Driedoring – oumas het alewig ‘n plan in die mou – haar twee dogters, ‘n verstrooide waterwyser, en ‘n plaas wat uit ‘n verknorsing gered word.
Vrydagaand 16 Augustus was kortfilmfeesaand. By hierdie geleentheid word die kortfilms wat vroeër deur die jaar by die korfilmfees kompetisie ingeskryf is, beoordeel. Die aand was vermaaklik vir oud en jonk, klein en groot.
Taalweek is op Saterdag 17 Augustus afgesluit met ‘n keurige sangaand en kunsuitstalling.
Afrikaans word in Orania gekoester, maar dit is nie genoeg as dit net hier gebeur nie. Gelukkig beleef ons veral op die terrein van die kunste ʼn herlewing van Afrikaans.
Ons kan egter nie tevrede wees met die herlewing net op die terrein van die kunste nie. Afrikaans moet nie beperk word tot die kunste nie, terwyl dit verwyder word as taal van opleiding, wetenskap en besigheid, soos wat tans die geval is. Afrikaans moet universieel wees, naamlik dat jy alles in die taal kan doen binne jou volksverband. In Orania herwin Afrikaans haar grondgebied.
Foto 1 Pieter Krige vermaak die gemeenskap tydens die FAK-saamsinggeleentheid.
Foto 2 Gannabos was mooi kleurvol vir dié geleentheid versier.
Foto 3 vnlr Christiaan van der Merwe, Marli Snyman, Alida Verwoerd, Hester Botha, Carel Boshoff en Yolandi van den Berg op die planke tydens die toneelstuk “Waterwyser”.Eerste Orania KultuurKuier bring kuns en kreatiwiteit na vore
Doret Le Cornu
Gedurende die bedrywige wintersmaand van Augustus is Orania se eerste KultuurKuier aangebied, en is verskeie aktiwiteite aangebied wat elkeen se voorkeur kon aanspreek.
Hierdie KultuurKuier, wat vanaf 1 tot 3 Augustus aangebied is, het fyn kuns en kreatiewe kuiers rondom lirieke, woorde en musiek na vore gebring.
By Woorde en Wysies op 1 Augustus het Dana Snyman en Stef Kruger as duo ‘n kragtoer van teks en lirieke gelewer. Emosies het gedurende die aanbieding gedurig onder die gehoor wipplank gery. Lag met ‘n traan word altyd as ‘n dinamiese samevoeging aangevoer, en hier was dit nie ‘n uitsondering nie.
‘n Aktuele onderwerp, naamlik die Belabeleid, is op 2 Augustus by ‘n sakeontbyt bespreek. Gelei deur dr Jaco Deacon van FEDSAS en Willie Spies, prokureur, is die Belabeleid bespreek, asook insette vanuit die gehoor oor die impak wat hierdie beleid op ons en ons kinders se toekoms kan hê.
Willie Spies se boek, “Eie Rigting”, is tydens 2 Augustus se boekbesprekingsgeleentheid behandel. Hierdie boek bestaan uit Willie se artikels wat oor tyd in die Beeld verskyn het. Die gehoor het positiewe insette gelewer na afloop van ‘n paneelgesprek.
Saterdagaand 3 Augustus het die KultuurKuier se program ‘n Skouspel gelewer in die formaat van ‘n huiskonsert op ‘n Oraniër se kleinhoewe. Deelnemers wat weke lank aan hul optredes voorberei het, het suksesvol en entoesiasties hul talent gedeel met die gehoor.
“Ek begeer om die wonderlike talent van ons dorp na ‘n breër gehoor te neem, sodat ander Afrikaners kan deel in die kreatiewe waarde van ons dorp se mense,” sê Dia van Staden, wat in 2023 die Skouspel tot ‘n werklikheid gebring het.
‘n Gesellige groep boekliefhebbers het die middag van 2 Augustus by Die Kantien ontmoet om ‘n informele boekgesprek rondom ‘n pot bredie aan te hoor. Dana Snyman, Stef Kruger, Willie Spies en Riaan Grobler het flink op ‘n lekker verskeidenheid vrae gereageer en die waarderende gehoor kon elkeen effens beter leer ken.
Foto 1 vlnr Dr Jaco Deacon, Willie Spies en James Kemp bespreek die Belabeleid.
Foto 2 Dana Snyman neem deel aan ‘n paneelgesprek.
Foto 3 Sumari de Wet uit Orania vermaak die gehoor.Nuwe FAK Voorsitter uit Orania
Frans de Klerk
Carel Boshoff van Orania is op Vrydag 16 Augustus as die nuwe Voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) aangewys. Carel dien al vir 22 jaar op die direksie van die FAK en vervang vir prof Danie Goosen na 20 jaar in dié posisie.
Carel Boshoff is al sedert 2019 aan die hoof van die Vryheidstigting. Carel is ‘n bekwame skrywer, filosoof en ‘n Oraniër in murg en been. Alvorens sy 22 jaar op die FAK se direksie, het Carel se paaie reeds van kleins af met die FAK gekruis.
“Ek het in ‘n FAK-huis grootgeword, sowel in die sin van dat ons saam uit die “FAK” gesing het, as dat albei my ouers by organisasies wat met die FAK saamgewerk het, betrokke was,” sê hy.
Carel noem dat sy grootste uitdaging van sy voorsitterskap is dat hy vir prof Danie Goosen wat diep spore tot dusver getrap het by die FAK, opvolg. Daarmee is egter sterk fondamente gelê waarop voortgebou kan word.
Cara Tomlinson, ook uit Orania, is onlangs aangestel as die FAK se streekskoördineerder vir die Noord-Kaap streek. Tesame met die FAK se nuwe Voorsitter uit Orania blyk dit dat erfenisbewaring en Afrikanerkultuur beginsels is wat Oraniërs na aan die hart lê.
“Dit sluit aan by my eie posisie as Voorsitter, naamlik dat Orania ‘n belangrike rol in Afrikaners se kultuurbehoud speel (watter ander gemeenskap het bv ‘n hele Taalweek?) en dat dit erkenning en ondersteuning geniet.” Vertel Carel. “Maar meer direk: mens kan dit gewis sien as die seël wat geplaas word op ‘n nuwe eenheid tussen talle uiteenlopende Afrikaners wat eerder met mekaar wil saamwerk as baklei — en dis omtrent almal.”
Die Afrikaner se vryheidstrewe is ‘n strewe waaraan Carel lewenslank verbind is. Die FAK is gestig met die doel om plaaslike kultuurinisiatiewe (van debatsverenigings tot leeskringe tot volkspelelaers, ens) saam te bundel en ‘n groter landswye invloed uit te oefen. Die FAK speel ‘n samebindende rol op talle terreine van taal, kultuur, erfenisbewaring, musiekbevordering en meer. Vir Carel, wat by verskeie Orania-instellings ook betrokke is, is hierdie ‘n ideale geleentheid om ‘n waardevolle impak te lewer.
“Die Afrikanergees is onblusbaar; ek hoop om my deel te doen om dié energie langs goeie bane te lei sodat ons op al die maniere wat by ons verskillende bestaanswyses pas, kan sê “Vryheid in ons tyd!”
Foto Carel Boshoff is aangewys as Voorsitter van die FAK.
Het jy geweet: Dit is wat die Orania Beweging en ons lede doen
Lede van die Orania Beweging is ‘n reuse bate vir Orania. Dit is omdat Orania groter is as net die aantal inwoners; die Orania idee word deur duisende lede en donateurs van regoor die wêreld ondersteun!
Dit is mense wat:
1. die idee van ‘n tuiste vir Christen-Afrikanersondersteun;
2. die idee van eie-arbeid verstaan en koester;
3. verstaan dat demografiese-konsentrasie die beste en mees volhoubare plan vir Afrikaners, hier in die Karoo is;
4. verstaan dat Afrikaans en Afrikanerkultuur net kan oorleef as Afrikaners ‘n meerderheid in ‘n eie gebied vorm;
5. geloof, kultuur, Orania, en hulle kinders belangriker as hulleself ag;
6. elke dag ‘n dag nader aan vryheid wil wees (hoofdoel van die Orania Beweging soos vervat in sy grondwet).Lede van die Orania Beweging dra maandeliks by tot die Orania Beweging en inisiatiewe in Orania. (Ledegeld beloop ‘n minimum van ɸ50 maar baie mense kies om groter bydraes te gee). Sommige lede dra ook ɸ20 of meer per maand ekstra by vir die Helpsaamfonds, om behoeftige Afrikaners te help ondersteun.
Lidmaatskap gee lede stemreg op Orania Beweging-vergaderings, bied hulle ledevoordele soos kommunikasie en meer, gee toegang tot Orania-instellings, afslag by uitgesoekte toerisme verblyf in Orania, en veel meer. Die belangrikste egter, is die bydrae wat hulle lewer:
Hier is van die projekte, inisiatiewe en werk wat deur die Orania Beweging gedoen word en deur ons lede moontlik gemaak word.
1. Internasionale skakeling. Oor die afgelope jare het die Orania Beweging met afvaardigings uit Japan, Indonesië, Amerika en meer geskakel. Ons het ook al vir baie jare goeie verhoudinge met Suid-Tirool, Vlaandere, en ander!
2. Belê in belangrike infrastruktuur. Knelpunte moet oopgebreek word sodat Orania nog vinniger kan groei. Orania se bevolking groei jaarliks met tussen 12% en 15%.Hoë aanvraag en lae aanbod jaag eiendomspryse die hoogte in. Orania Beweging belê in bekostigbare behuising sodat ons mense bemagtig kan word met blyplekke. Ons ondersteun ook inisiatiewe soos die Stadsboufonds wat infrastruktuur help ontwikkel.
ORASOL: Jou ledegeld help tans aktief aan kragopwekking in Orania se eie sonplaas! Orania Beweging vind hierdie inisiatief deur die ORASOL direksie baie belangrik en belê graag in hierdie projek wat baie vertroue inboesem.
3. Verdedig Orania teen die media se aanvalle. 2023 was ‘n besige mediajaar! Ons verwag dat Orania se sukses die Orania Bewegingpersoneel nog baie laataande sal besorg, soos Orania groei, sal die media meer en meer begin belangstel. Daarom moet ons deeglik voorberei en die Orania-saak goed stel.
4. Verduidelik die Orania-idee. Vir Orania om waarlik ‘n vrye en veilige tuiste vir ons mense te word, moet ‘n groot aantal Afrikaners na Orania verhuis, en daarom moet hulle eers die Orania-idee verstaan. Die Orania Beweging doen reuse werk om aan mense te verduidelik en vrae te beantwoord.
5. Bevorder toerisme deur begeleide toere. Jou ledegeld dra aktief by daartoe dat ons met vriende en vyande kan praat en mense aan Orania kan bekendstel. Dit is vir die Orania Beweging belangrik om hierdie diens gratis te lewer sodat enige belangstellende die geleentheid het om die volle Orania-verhaal te hoor.
6. Helpsaamfonds ondersteun bejaardes, skoolkinders, voorskoolse kinders en studente wat sukkel om betalings of studiekoste by te bring. (Die persone wat op die fotot’s verskyn is slegs ter illustrasie en ontvang nie noodwendig beurse nie.)
7. Beleidskwessies. Orania Beweging speel ‘n interne rol om saam met ander instellings soos Orania Dorpsraad en ander grondentiteite beleid oor belangrike kwessies soos verblyfreg te verfyn.
8. Inisiatiewe, planne, bemarking, reëlings en veel, veel meer!Alles word met jou hulp moontlik gemaak…
So is ons elke dag, ‘n dag nader aan vryheid!
Foto 1 Lugfoto van ORASOL se sonplaas.
Foto 2 Joost Strydom van Orania Beweging ontvang internasionale besoekers.Orania maatskaplike werker oorlede
Pieter Bisschoff
Op 10 Augustus het die inwoners van Orania met groot hartseer Hannelie Schwartz, Orania se maatskaplike werker te ruste gelê. Die Here het Hannelie tot Hom geneem na ‘n ernstige motorongeluk waarin sy op Donderdag, 1 Augustus, betrokke was.
Volgens Frans de Klerk, voorsitter van Orania Helpmekaar-direksie, het sy ‘n besondere bydrae in die gemeenskap gelewer. Hannelie se insig, liefde vir mense en die leiding wat sy op maatskaplike gebied verskaf het, het Orania Helpmekaar laat groei tot ‘n wêreldklas organisasie wat dienste van ‘n uitnemende standaard lewer.
Hannelie, wat onlangs ouma geword het, se afsterwe laat ‘n geweldige leemte in ons gemeenskap. Ons bid haar man Hardus en ander geliefdes troos in hierdie moeilik tyd toe. Mag ons Hemelse Vader julle vashou in sy Vaderhand in hierdie moeilike tyd.
Foto 1 Hannelie het ‘n groot en belangrike rol gespeel ons gemeenskap.
Foto 2 Hannelie saam met haar kleinkind.Vryheidstigting Jeugberaad ontwikkel jong leiers
Frans de Klerk
Die Vryheidstigting het van 2 – 4 Augustus hulle derde Jeugberaad gehou. Skoliere en studente van binne en buite Orania het dié leierskapontwikkelingsgeleenth
eid in Orania kom bywoon. Hierdie jaar se Jeugberaad-tema was: Begronding, volhoubaarheid en ontwikkeling. Die doel van die jaarlikse Jeugberaad is om jongmense van binne en buite Orania aan Orania se onderliggende denkwyses, strategieë en selfs uitdagings bekend te stel. Kinders van binne Orania verstaan nie noodwendig altyd Orania se oorsprong en doel nie, maar aanvaar die gemeenskap as vanselfsprekend. Jongmense van buite, daarin teen, het miskien al van Orania gehoor, maar nog slegs die oppervlakte van ons dorp aangeraak. Met om en by 30 jongmense wat bygewoon het, was helfte van dié groep van buite Orania.
Die program het Vrydagmiddag weggespring met ‘n Orania Beweging-dorpstoer. Daarna is ‘n braaivleisparlement gehou waar die groep op hul tone moes dink. Onderwerpe vir debatvoering het gewissel tussen ligter gesprekke soos of Orania se tradisie van groet in die verbygang oor die langtermyn volhoubaar is, na meer kritieke vrae soos die impak van gesubsidieerde behuising op ‘n gemeenskap.
Na ‘n vroeë ontbyt Saterdagoggend is die program gevul met verskeie sprekers uit Orania: prof Carel Boshoff, uitvoerende hoof van die Vryheidstigting gesels oor Begronding; dr Wynand Boshoff, lid van die Suid Afrikaanse Parlement vir die VF Plus en leier van die party in die Noord-Kaap, gesels oor Volhoubaarheid; mnre Pieter Bisschoff en Niel de Klerk van Orania Ontwikkelingsmaatskappy gesels oor Ontwikkeling. Daarna is die groep die geleentheid gegun om self kortvideo’s te maak oor wat hulle tot dusver geleer het.
Vroegaand Saterdag is die Jeugberaad afgesluit met ‘n dinee waar die video’s vertoon is en Riaan Jacobs, voorsitter van die Orania Verteenwoordigende Raad, die span toegespreek het.
Volgens Carel Boshoff was die naweek ‘n groot sukses.
“Die jongmense se deelname het my beïndruk. Selfs die toesprake wat vir ‘n student of skolier effens vervelig kan raak, is aktief aan deelgeneem. Die kinders het ook nie alles vir soetkoek opgeëet nie, maar het krities deelgeneem en saamgesels oor aktuele sake in Orania.”
Vir sommige wat bygewoon het, was dit nie hul eerste Vryheidstigting Jeugberaad nie, maar vir baie was dit ‘n eerste keer in Orania.
“Goeie mense wat regtig ‘n positiewe verandering vir die Afrikanerkultuur wil maak en dit bewaar sonder om ander kulture en gemeenskappe te benadeel of hulle in ‘n slegte lig te sit,” vertel Christiaan Scheepers (21), een van die studente uit Pretoria. “Ek onthou ek en ‘n vriend het die eerste aand teruggestap na die kamers toe nege uur die aand en ons het veilig gevoel en het gemaklik genoeg gevoel om verskeie mense te vra vir rigting.”
Foto 1 Jongmense luister aandagtig na lesings tydens 2024 se Jeugberaad.
Foto 2 ‘n Goeie debat verg deeglike voorbereiding!
Foto 3 Vir baie was die Vryheidstigting Jeugberaad ‘n eerste ontmoeting met Orania.FAK streekskoördineerder in Orania aangestel
Frans de Klerk
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereeniginge (FAK) het onlangs hulle eerste kantoor in Orania geopen. Cara Tomlinson uit Orania is aangestel as die FAK se kultuurnetwerkkoördineerder vir die Noord-Kaap streek.
“Orania is ‘n groeiende gemeenskap waar Afrikaans en die Afrikanerkultuur nog daagliks uitgeleef word. Die FAK se doel is om Afrikaans, die Afrikanerkultuur en -erfenis te bevorder, bewaar, beskerm en te behou en so ‘n toekoms te verseker vir ons kultuur in die Noord-Kaap,” sê Cara.
Alhoewel die kultuurnetwerkkoördineerder se verantwoordelikhede verder as net Orania se grense strek, is daar besluit om die kantoor op Orania staan te maak.
“Ons wil graag nuwe streekskantore vestig en Orania is die geskikte ligging om die Noord-Kaap se streekskantoor te vestig. Weens die groeiende Afrikanergemeenskap is dit ‘n logiese besluit om ons kantoor hier te open en seker te maak ons laat die Afrikanerkultuur groei soos die dorp groei.”
Cara is reeds 10 jaar in Orania en het hier skoolgegaan en matrikuleer. Ná skool het Cara Kommunikasiestudies gaan studeer aan die Noordwes Universiteit op Potchefstroom. Sy sien daarna uit om haar leerervarings terug te bring na Orania om terug te ploeg in haar gemeenskap. Taal en kultuur lê Cara baie na aan die hart, vertel sy, en daarom is hierdie vir haar ‘n besondere geleentheid.
Foto Cara Tomlinson is onlangs aangestel as die FAK se kultuurnetwerkkoördineerder vir die Noord-Kaap streek.
Orania balletskool vier 32 jaar van sukses
Doret Le Cornu
Die Uysie Kirsten Balletskool het weereens hul harde werk en deursettingsvermoë bewys toe die studente aan die begin van Augustus hul balleteksamen met vlieënde vaandels geslaag het.
Dit is vanjaar nie net die balletskool se 32ste bestaansjaar nie, maar ook die 32ste jaar waar die skool met ‘n 100% slaagsyfer vir hul jaarlikse DASA (Dance Academy of South Adrica) eksamen kan spog.
Die studente het met maande se harde werk en voorbereiding die eksamen met moed en durf aangepak, en hul werk is beloon. Onder die ervare onderrigting van balletjuffrou en eienares van die balletskool, Uysie Kirsten, en haar dogter Eldien, het die studente die nodige selfdissipline en fynere kuns aangeleer om met selfvertroue hul eksamen te slaag.
Die Uysie Kirsten Balletskool is een van die oudste instellings in Orania, en bied die geleentheid aan jonk sowel as oud om hul balletdrome te verwerklik. Klasse word aan jonk en oud aangebied, met voorskoolse klasse vir studente van so jonk as vier jaar, tot ‘n volwasse balletklas waar ouer dames kan inskakel.
Foto 1 Uysie Kirsten saam met haar dogter en hulpafrigter, Eldien.
Foto 2 Studente van die balletskool handhaaf ‘n 100% slaagsyfer elke jaar.BKO brei uit na opleiding van Tuissorgassistente
Vryheid lê in die versorging van ons eie mense.
Vryheid beteken dat ‘n gemeenskap in staat is om sy eie mense met sorg te omring. In Orania neem die behoefte aan bekwame tuisversorgers toe. Die verskeidenheid van vereistes groei daagliks en BKO ontvang voortdurend navrae vir tuisversorgers. Ongelukkig is die vraag tans te groot vir die beskikbare hulpbronne.
Nou, met die sukses van BKO se voltydse Tuisversorging-kwalifikasie, is hulle gereed om die volgende stap te neem. Hulle sal binnekort met die opleiding van Tuissorgassistente begin om in hierdie dringende behoefte te voorsien.
Die eerste groep studente vir die ses maande Tuissorgassistent-kursus, begin op 2 September 2024.
Foto Studente is opgewonde oor die nuwe kursus wat binnekort by BKO aangebied word.
Nuwe Orania Beweging-reeks op YouTube: Vra jou Vraag!
Frans de Klerk
Orania en Oraniërs word gereeld toegegooi met vrae oor ons gemeenskap. Gegewe die uniekheid van Orania, is dit glad nie vreemd nie. Die Orania Beweging het ‘n nuwe reeks bekendgestel met die doel om juis vrae oor Orania op ‘n persoonlike manier te beantwoord.
Vrae word van die publiek af ontvang en oor ‘n koppie koffie bespreek. Episode een bespreek vrae wat wissel van die grootte en ligging van Orania tot die veiligheid van ons gemeenskap.
Enige iemand is welkom om hul vra te stuur deur op die knoppie hier onder te klik. Vrae ingevul op hierdie vorm staan ‘n kans om beantwoord te word in die volgende episode van “Vra jou Vraag!”.
Kyk gerus na episode een en stuur jou terugvoer in die video se kommentaar-afdeling.
Foto Episode een is reeds beskikbaar op Orania Beweging se YouTube-kanaal.
-
AuthorPosts
- You must be logged in to reply to this topic.