Loving Life TV

Home Forums ORANIA Orania Beweging Nuusbrief 21 Februarie 2025

  • This topic is empty.
Viewing 1 post (of 1 total)
  • Author
    Posts
  • #462633
    Nat Quinn
    Keymaster

     

    Trump-aankondiging: Die wêreld se oë op Suid-Afrika?

     
     

    Afrikaners is inheems aan Afrika, en baie het geen behoefte om vlugtelinge in ʼn ander man se land te word nie. Orania se boodskap aan Trump, wat baie viraal gegaan het, was ʼn vinnige en duidelike reaksie – juis omdat dit nog áltyd Orania se strategie was. Indien die Orania Beweging se voorganger, AVSTIG, in die 1980’s dieselfde aanbod gekry het, sou die reaksie waarskynlik dieselfde gewees het. Ons wil hiér bly, dit is hoe ons ʼn plek vir Afrikaners kan uitbou en laat funksioneer. Gee ons erkenning, laat ons ons eie besluite maak.

     

    Orania-ondersteuners moet ook aan die groter prentjie dink.

     

    Geopolitiek

     

    Suid-Afrika is steeds ʼn uiters belangrike geografiese gebied met die Kaapse seeroete en toegang tot Afrika asook sy ongelooflike rykdom aan grondstowwe en minerale. Samelopend moet ons ook in gedagte hou dat die ANC die VSA lankal kwaad maak. Amerika en Israel is groot vriende, en daarom het die internasionale strafhofsaak wat Suid-Afrika teen Israel aanhangig gemaak het, Amerika baie omgekrap. Die moontlikhede van uraanhandel tussen Iran en Suid-Afrika is ook vir die Amerikaners ʼn groot probleem. Laastens daag die ANC regering die VSA gereeld, byvoorbeeld by die VN, uit.

     

    Suid-Afrika, en Afrikaners, was al voorheen ʼn internasionale speelbal en ons moet versigtig wees om dit nie weer te word nie.

     

    Orania se oplossing

     

    Suid-Afrika se grense as koloniale skepping moet nie vergeet word nie. Die Britse Ryk het Suid-Afrika struktureer soos hy tans is, en vryheidsgesindes moet hulleself nie in grense vasstaar nie, maar eerder in terme van streke dink.

     

    Die Orania-oplossing is juis stabiliserend omdat kultuur (volk) en gebied binne verhouding staan, op ʼn uiters natuurlike manier. Daarom kan die “Orania-bloudruk” ook vir ander groepe ʼn sinvolle oplossing wees, en spanning en konflik verminder eerder as aanblaas.

     

    Orania se eie arbeidsbeleid is ʼn klinkende bewys dat die Oraniërs in regverdigheid met ander volke wil leef, en terselfdertyd ʼn nuwe dispensasie soek. Die oue pas ons nie meer nie.

     

    Sommige groepe wil deesdae die ou Suid-Afrika “maak werk”, en ander wil die nuwe Suid-Afrika “maak werk”. Orania sê nee; dit is tyd vir ʼn nuwe oplossing.

     

    Grond, instellings en arbeid: ʼn kragtige driehoek wat oplossingsgedrewe is.

     

    Afrikaners het die volste reg om aan ons eie kant te wees, want ons beleid staan in regverdigheid teenoor ander volke.

     

    Versigtig vir?

     

    Iemand het eenmaal gesê: “Daar is nooit soveel helde as nét voor en net ná ʼn oorlog nie”. Sanksies en geopolitiek is ook maar ʼn tipe oorlogvoering, en almal is haastig om die narratief te bepaal of die storie te beheer. Ook die gronddebat is ʼn tipe oorlogvoering, die hulpbron is grond en die “oorlog” word polities, wetties, en ongelukkig ook fisies (aanvalle en moorde op die plase) gevoer.

     

    In hierdie tyd moet ons versigtig wees vir opportuniste, antagonistiese media en provokateurs.

     

    Orania se plan?

     

    In tye van verandering is daar geleenthede! Afrikaners en Oraniërs moet nie hierdie geleentheid verspil nie, en ons ook nie deur geraas van ons plan laat afwyk nie.

     

    Die Orania Beweging beplan tans aan internasionale skakeltoere, en ons prioritiseer die VSA. Dit is ʼn uiters belangrike tyd om ons storie te vertel. Om ons droom van groter vryheid te verkondig, te verduidelik en vennote daarvoor te werf is nou krities belangrik.

     

    Terwyl ons die geleentheid kan gebruik om groot treë te gee, MOET vryheid steeds van die grond af op gebou word. Ons kan vennote daarin hê, maar moenie ons eie verantwoordelikheid nalaat nie!

     

    Mag ons elke geleentheid gebruik om te bou, aan vryheid in ons tyd!

    Foto Oraniërs bou aan vryheid met eie hande.

    BELANGRIK: Gebruik die skakel heel onder “View entire message” indien dit afsny as gevolg van lengte.

    Heel onder aan die nuusbrief is skakels na al ons sosiale media platforms.

     

    Orania word weer deur media oorval

    ʼn Media stormloop! Dit is waardeur Orania die afgelope twee weke is. Onderhoude op elke denkbare nuusstasie binne en buite Suid-Afrika: van Amerikaanse radio, tot Sweedse TV, van radiogesprekke op radio in Windhoek, tot vuurwarm debatte op SAfm.

     

    Ons het op onafhanklike programme gesels, video-onderhoude met nuusstasies gevoer, en diepgaande verduidelikings van Orania se strewe gelewer.

     

    Intussen het die groepe joernaliste ook in Orania begin opdaag, met ʼn Turkse TV-kanaal wat Orania besoek het, ʼn onafhanklike ondersoekende joernalis uit die VSA, die Daily Mail UK uit London en nou ook groot Duitse en Switserse koerante wat op pad is na Orania.

     

    Hier is ʼn paar skakels van video’s wat al publiseer is, maar ons deel graag die res met julle wanneer dit verskyn.

    Foto 1 Die Daily Mail UK neem foto’s van tweedejaars loodgietserstudente in Orania.

    Foto 2 Joernaliste geafilieer met die Turkse TRT televisienetwerk doen ‘n onderhoud met die Orania Beweging.

    Nederlandse studente besoek Orania skool

    Studente van ʼn Nederlandse opvoedkundige instelling het op 19 Februarie in Orania opgedaag om Volkskool Orania te kom besoek. Dié studente is almal onderwys studente en besoek verskeie skole in Suid-Afrika om ʼn wyer perspektief rakende onderwysmodelle te kry.

     

    Volkskool Orania het ʼn unieke “selfleer” onderwysmodel wat vir kinders, tesame met hul normale skoolwerk, ʼn les in tydsbestuur en verantwoordelikheid leer. Volgens die skoolhoof, Carel Boshoff, is Volkskool ʼn fisiese uitlewing van baie teoretiese selfleer-modelle wat deurlopend ondersoek en bestudeer word. Leerlinge by Volkskool Orania kry die geleentheid om selfgedrewe onderwys aktief te beoefen – dit wil sê om op eie tempo binne ʼn gestruktureerde raamwerk hul skoolwerk te voltooi. Onderwysers dien as mentors wat rigting gee en ondersteuning bied, eerder as om slegs lesse aan te bied.

     

    “Die akademiese belangstelling van Nederlandse onderwysstudente sonder enige politieke affiliasie, bevestig dat Volkskool Orania se teorie en praktyk op die voorpunt van selfgerigte leer staan,” sê Anje Boshoff, akademiese hoof. “Hierdie model sluit aan by Orania se filosofie van selfwerksaamheid en gee jong Afrikaners die geleentheid om nie net akademiese vaardighede nie, maar ook lewensvaardighede te ontwikkel.”

     

    Geïnteresseerd in hierdie onderwysmodel, het ʼn tersiêre instelling uit Gouda, Nederland, ʼn toer na onder andere Orania onderneem om meer daarvan te leer. Die toergroep is met koffie en koeksisters na hul lang busrit ontvang. Die 17 besoekers het met onderwysers en leerlinge gesels oor hul ervaring van Volkskool se model en van die meer tegniese vrae is behandel. Hier en daar is bietjie Engels en bietjie vertolking nodig gewees, maar oor die algemeen kon Nederlander en Afrikaner mekaar goed verstaan. Buiten vir die tale, is daar ook ʼn ooreenstemming in geloof opgemerk.

     

    “Ons is die laaste oorblywende Christelike opvoedkundige instelling in Nederland,” vertel Corné, een van die toerleiers.

     

    Orania is gereeld gasheer vir buitelandse besoekers en inwoners is gewoond daaraan om toeriste en navorsers vriendelik en gasvry te ontvang. Besoekers aan Orania bied vir ons die geleentheid om ons verhaal te vertel, ons idees te deel en ook om meer van ander te leer.

    Foto 1 Die groep Nederlanders word met ‘n klein middagete en koeksisters ontvang.

    Foto 2 Aankoms by Volkskool Orania.

    Orania Beweging: Ons vertel

    ons eie verhaal

    Met die internasionale kollig weer op Afrikaners gewerp, is dit belangrik dat Orania sy eie verhaal vertel. Dit is juis wanneer Orania so baie aandag geniet, dat die gemeenskap en veral die Orania Beweging gekonfronteer word met skeptiese joernaliste en media met bepaalde agendas.

     

    Te midde die gedruis en geraas van die media en aanvalle op Afrikaners en Orania, vergeet ʼn mens soms dat Orania nie bloot net moet reageer nie, maar dat ons ʼn doelgerigte boodskap het om oor te dra. Juis daarom is die Orania Beweging se eie platforms vir ons so belangrik – dit stel ons in staat om ons eie saak sonder verdraaiing te kan stel. Op die Orania Beweging se YouTube-kanaal word gereelde video’s wat wissel van gemeenskapsontwikkeling tot gemeenskapbeginsels, geplaas.

     

    Ons dokumentêre, onderhoude en gesprekke help om mense te wys wat hier aangaan – nie deur wat ander sê nie, maar deur wat ons self doen. ʼn Intekenaar by Orania Beweging se YouTube-kanaal bly ingelig oor wat in Orania aan die gebeur is. Intekenaars kan verwag om eerstehands oor nuwe ontwikkelings, Orania-standpunte, en die mense wat Orania bou en vorm te leer. Weeklikse episodes verseker dat ons ondersteuners op hoogte bly van Orania-verwikkelinge.

     

    Indien jy nog nie van die geleentheid gebruik gemaak het nie, teken gerus in op die Orania Beweging se YouTube-kanaal om te verseker dat jy nooit die nuus uit Orania mis nie. Teken in deur op hierdie knoppie te klik:

     
     

    Veranderende tye: Hoe pas Orania aan?

    Sommige kan nie vinnig genoeg by veranderende tye aanpas nie, terwyl ander nooit aanpas nie en deur die wreedheid van tyd agtergelaat word. Dit tel nie net vir mense en individue nie, maar ook vir bewegings, planne en gemeenskappe… selfs ook vir ‘n volk.

     

    Orania is in ‘n interessante situasie, konserwatief in ons wortels (en konserwatisme gaan juis oor bewaring en handhawing) en (al is die woord al só vergiftig) progressief in ons denke.

     

    Wat beteken dit? Moet Orania aanpas by die baie vinnig veranderende wêreld, of moet die wêreld aanpas by Orania?

     

    Die politiek van die dag, tegnologie en markte verander blitsvinnig. Dit lyk of nuwe geleenthede soos vars appels voor ons hang, reg om net eenvoudig gepluk te word.

     

    Die vraag moet gevra word; het enige iets werklik verander?

     

    Selfs met internasionale erkenning, veranderende plaaslike politiek ensovoorts, het Afrikaners se situasie nogsteeds nie inherent verander nie. Afrikaners het nie (net) ‘n politieke, veiligheids- of ekonomiese probleem nie. Ons het demografiese probleme. Ons is ‘n minderheidsvolk, wat wyd oor ‘n groot land versprei is. Daarom moet ons demografiese oplossings soek. Om dus enige besluite oor onsself te kan maak, moet ons (of ten minste ‘n groot deel van ons) op een plek konsentreer sodat ons ‘n meerderheid kan word. Die voorwaardes daarvoor is dat dit:

    1. lae bevolkde gebied moet wees, waar ons

    2. op eie grond,

    3. met eie arbeid,

    4. ons eie instellings bou.

       

     

    Daaraan het niks verander nie en dit bly die Orania strategie.

     

    Waar kan ons wel aanpas?

    Orania moet vlugvoetig genoeg wees om by veranderende tegnologiese realiteite aan te pas. Voorbeelde soos die digitalisering van die Ora, wat nou in dOra weergawe beskikbaar is, en Orania se veiligheidsnetwerk wat swaar op tegnologie steun is belangrike voorbeelde.  Ons moet “progressiewe denke” oor kwessies soos ekonomie, veiligheid, landbou en dies meer handhaaf, nie om ons oorspronklike doel te versaak nie, maar juis te ondersteun!

    Foto’s Die dOra is ‘n digitale weergawe van die Ora, wat gebruik kan word om daaglikse transaksies en meer te doen.

    Orania vlag in Antarktika gehys

    Nee, Orania is nie besig om die grootste yswoestyn in die wêreld te koloniseer nie en ons het ook nie planne om Afrika te verlaat nie! Dit keer ons egter nie om die Orania vlag op dié ysige kontinent te hys nie!

     

    Ds (Emerentius) Sarel en Irma Roets is tans op ‘n ekspedisie-skip wat die Antarktika skiereiland wat na Suid-Amerika uitsteek te verken. Die foto hierbo is op die Peterman-eiland geneem. Sarel en Irma het dit ‘n goeie geleentheid geag om hulle Orania-patriotisme ten toon te stel, en die Kleine Reus vlag te hys!

     

    Die Orania Beweging span het met hulle gesels, en hulle het terugvoer gegee dat die toer heerlik is, en dat die weer mooi saamspeel wat sigbaarheid betref. Hulle is die enigste Afrikanertoeriste op die skip, maar blykbaar is baie van die bemanning wel Afrikaans!

    Foto Ds Sarel en Irma Roets met die Orania vlag in Antarktika.

    Die grondvraag van Suid-Afrika

    “Die grondvraag is die GRONDvraag,” was een van Prof Carel Boshoff se bekende gesegdes.

     

    Grondbesit in Suid-Afrika is histories ‘n groot bron van konflik. Huidige grondhervormingsdebatte verwys gereeld terug na Suid-Afrika se geskiedenis, wees dit nou oor die koloniale tydperk, Anglo-oorloë of Apartheid – konsensus rakende aan wie watter grond behoort, is nog nie bereik nie.

     

    “Die grondvraag is die GRONDvraag” kan in ander woorde gestel word: “’n Volk moet ‘n plek hê, maar waar?”

     

    ‘n Onlangse video van die Orania Beweging behandel hierdie vraag uit drie verskillende hoeke:

     

    1. ‘n Gesprek met Carel Boshoff, oorspronklike lid van die Volkstaatraad, oor Artikel 235 en die Afrikanerakkoord.

    2. Dr Wynand Boshoff, VF+ Parlementslid, brei uit oor grondgebied en -regte.

    3. Die uitvoerende hoof van die Orania Dorpsraad, Gawie Snyman, oor die praktiese bou van ʼn Afrikanergrondgebied.

     

    Hierdie video is nou beskikbaar en kan gekyk word deur hier onder te klik:

    Afrikaners wil in Suid-Afrika bly

    Die Orania Beweging het sy eie meningsopname op YouTube geplaas, waar ʼn ander prentjie geskets word. Hierdie keer was die vraag anders:

     

    “As jy vandag kon trek na net waar jy wil, waarnatoe sou jy verhuis en waarom?”

     

    Van die 421 deelnemers (ten tye van die skryf van dié artikel) het 60% aangedui dat hulle na Orania sou verhuis. Hierdie keer is die VSA die tweede grootste opsie met 19%.

     

    Deelnemers is die opsie gegun om verder kommentaar te lewer oor hulle keuse. Vanuit die kommentare blyk deelnemers se bekommernisse oor die toekoms van Afrikaners, en word die belangrikheid van Afrikanerselfbeskikking beklemtoon.

     

    Hierdie meningsopname is steeds beskikbaar en jy kan daaraan deelneem deur op die volgende knoppie te klik:

     

     
     

    Orania-infrastruktuur word opgradeer

    Een eienskap van ʼn groeiende gemeenskap is wanneer die huidige infrastruktuur nie meer in staat is om almal te akkommodeer nie. Daarom is die Dorpsraad besig om die hooftoevoer pyplyne na Kleingeluk vir rou- en suiwerwater op te gradeer.

     

    Kleingeluk se woongebied het die afgelope tyd geweldig uitgebrei en die bestaande pyplyne kan nie meer aan die groeiende waterbehoefte voorsien nie. Die bestaande 80 mm pyplyne word vervang met 200 mm diameter uPVC pyplyne.

     

    “Die projek is die eerste fase van die opgradering en ons voorsien dat daar reeds ’n verbetering met die vloei en druk vir Kleingeluk sal wees,” sê André van Heerden, Hoof: Ingenieursdienste by die Dorpsraad.

     

    ʼn Gereelde uitdaging van ontwikkeling in Orania is harde grond en rotsbanke wat die proses vertraag. Dit is nie ongewoon dat ʼn ontwikkelingsprojek se einddatum uitgestel word sodra die span ʼn klipbank tref en nuwe planne moet maak nie. In hierdie geval is daar ook verskeie bestaande infrastruktuur waar versigtig gewerk moet word om dit nie te beskadig nie. André vertel egter dat Oraniërs teen die tyd al geleer het hoe om sulke uitdagings te hanteer.

     

    “Gelukkig het Herman Grotius en die siviele konstruksiespan al baie ervaring om in moeilike omstandighede dienste te installeer. Orania het ook al goed gevorder met middele om dié tipe uitgrawings te hanteer en groot meganiese brekers het gesorg dat die uitgrawings suksesvol voltooi kon word.”

    Foto 1 Die helling van die sloot word gemeet en teen presies 6 grade afwaarts gegrou.

    Foto 2 Die siviele konstruksiespan het al ervaring om met harde grond en tussen rotsbanke te werk.

    Jong Oraniër presteer by Top 20 byeenkoms

    Mígael Murphy, ʼn blitsige jong atleet (en ster-skaakspeler!) uit Orania het by die skole Top 20 byeenkoms in Bloemfontein vir homself naam gemaak.

     

    Daar was skole van so ver soos Kathu, Upington en Sasolburg wat deelgeneem het. Elke skool mag hulle “Top 20 atlete” inskryf en alle skole in die Noord-Kaap en Vrystaat kon inskryf.

     

    Mígael het by hierdie byeenkoms ʼn derde plek behaal, maar kwalik op vars bene. Dit volg nadat hy die vorige dag by sy eie skool se streeksatletiek in een dag die 3000 m (10:03), 1500 m (4:40) en 800 m (2:12) kafgedraf het!

    Foto 1 Migael ontvang sy medalje.

    Foto 2 Migael wen derdeplek met ‘n tyd van 2:11:28.

     
     
     
     
     
     
    Facebook icon
    Instagram icon
    X icon
    YouTube icon
    Email icon

Viewing 1 post (of 1 total)
  • You must be logged in to reply to this topic.