- This topic is empty.
-
AuthorPosts
-
2024-04-24 at 17:30 #447512Nat QuinnKeymaster
Orania Beweging 36ste ledevergadering goed bygewoon
Orania Beweging is Orania se “idee-organisasie”. Ondersteuners van regoor die wêreld wat die Orania-idee ondersteun en groeiende selfbeskikking vir Afrikaners wil help ontwikkel dra by tot Orania Beweging as aktiewe lede.
Die tema van die Beweging se 36ste ledevergadering was “Orania – Die alternatief”. Volgens Joost Strydom, uitvoerende hoof van hierdie organisasie, is die Orania-idee nog altyd ‘n “derde opsie”, ‘n ware nuwe alternatief binne die groter konteks van die land en wêreld. Orania is ‘n ware alternatiewe plan ter bevordering van Afrikanervryheid.
Die ledenaweek sluit die jaarlikse vergadering van die Raad van Orania Beweging en die algemene jaarvergadering van die lede van Orania Beweging in. Oor die afgelope jare is daar ‘n toenemende fokus op ‘n sosiale geleentheid sodat lede mekaar, en Orania (vir die lede van vêr) beter kan leer ken.
Vaardige sprekers het waarde toegevoeg tot die gesprekke oor Orania en die toekoms.
Vanjaar se kundige sprekers was Bastiat en Dane Viljoen van Troygold, ‘n geprivatiseerde goudstandaard-kredietstelsel; Hendrik le Roux, kundige in die finansiële sektor: en professor Dieter Holm, emeritus professor in argitektuur en voormalige fakulteithoof by die Universiteit van Pretoria.Die aanbiedinge is hieronder te sien.
Tydens die ledevergadering is terugvoer gegee oor die Beweging se suksesse oor die afgelope jaar, die geouditeerde finansiële state is voorgehou en lede is tot die Orania Beweging se raad verkies.
Die verkose lede is:1. Mnr AS Coetsee. 2. Mnr HC Conradie. 3. Mev CAS Jacobs. 4. Mev M Kleynhans. 5. Mnr WD Spies. 6. Mnr GP van Zyl. 7. Mnr CM Kriel. 8. Mnr JD Kemp. 9. Barend Uys. 10. Ds Ronald Bain. Foto’s van bo na onder.
Foto 1 : VLNR: Dane Viljoen, Hendrik le Roux, Bastiat Viljoen en Joost Strydom.
Foto 2: Prof Dieter Holm aan die woord.
Foto 3: Heerlike saamkuier.
Foto 4: Elize Ungerer is bedank vir 30 jaar van lojale diens aan die Orania Beweging!BELANGRIK: Gebruik die skakel heel onder “View entire message” indien dit afsny as gevolg van lengte.
Heel onder aan die nuusbrief is skakels na al ons sosiale media platforms.
Orania Sakekamer loods Kleinsake Ontwikkelingskoöperasie
Beskikbare besigheidsbystand vir kleinsake, ontwikkeling van entrepreneurswese, en bekostigbare finansieringsmodelle is uiters belangrik vir nuwe entrepreneurs met nuwe planne in Orania: die ruggraat van ‘n ekonomie. In hierdie konteks het die Orania Sakekamer pas die KSOK-inisiatief geloods.
Die Orania Sakekamer het die vorige Orania-besigheidsopname geëvalueer en daaruit ‘n behoefte vir die Kleinsake Ontwikkelingskoöperasie geïdentifiseer. Die behoefte aan kundiges om bystand te bied met besigheidsbestuur terwyl ‘n toeganklike finansieringsmodel vir entrepreneurs daargestel word, is groot en die Sakekamer wil graag ‘n oplossing bied.
“Toegang tot finansiering is vir nuwe entrepreneurs baie belangrik, maar soms is daar vir sulke entrepreneurs uitdagings om sekuriteit, of die regte tipe sekuriteit, te bied,” sê Tony Correia, voorsitter van die Sakekamer.
Volgens Tony is dit vir nuwe ondernemings of eenmansake ‘n verdere uitdaging om die innoverende entrepreneur, die besigheidsbestuurder en die tegnikus gelyktydig te wees. Soms kan twee van die drie gelyk gedoen word, maar die kombinasie van uitdagings het al baie ondernemings laat sink.
Die KSOK bestaan uit drie dele, die Klub, die Broeikas, en die Groeikas.Die klub is die samebindende band vir die koöperasie. Die koöperasie verkoop aandele aan sy lede, en die kapitaal word in Groeikas belê. Hierdie kapitaal, saam met ‘n aanvanklike bydrae van die Sakekamer word die sekuriteit vir finansiering in ‘n rekening by OSK (Orania Spaar en Krediet, ons eie Orania Bank)
Groeikas, as filiaal van die Sakekamer, het dan ‘n diensvlak-ooreenkoms met Broeikas. Broeikas is ‘n eksterne entiteit om onafhanklikheid te verseker. Broeikas stap met die entrepreneur ‘n pad wat oorsig en goeie bestuurspraktyke insluit.
“Met die stigting van die Orania Kleinsake Ontwikkelingskoöperasie streef ons daarna om ‘n omgewing te skep waarin plaaslike ondernemings kan floreer en ons gemeenskap ekonomies kan versterk. Hierdie inisiatief is ‘n getuienis van ons verbintenis tot ekonomiese selfstandigheid en volhoubaarheid. Ons nooi alle gemeenskapslede uit om hierdie geleentheid te omhels, betrokke te raak, en saam te werk om ‘n welvarende toekoms vir Orania te bou.” So sê Tony Correia, voorsitter van die Sakekamer.
Aansoeke is reeds oop, veral vir kleiner besighede. Skakel gerus met die Sakekamer direk vir meer inligting.
Foto 1: Tony Correia, voorsitter van die Sakekamer aan die woord tydens die geleentheid.
Foto 2: Die KSOK-inisiatief se verskillende afdelings verduidelik.Interkollege-sportnaweek in Orania groot sukses
Die eerste interkollege tussen Bo-Karoo Opleiding (BKO) en Vrystaat Landboukollege, van Bloemfontein, het die afgelope Saterdag in Orania plaasgevind. Die naweek het sport, kultuur en kuiergeleenthede gehad.
Die eerste (hopelik van vele!) interkollege is in Orania aangebied. Die lei ‘n nuwe era van georganiseerde studentelewe in Orania in. Die Vrystaat Landboukollege vanuit Bloemfontein het Orania besoek en daar is gekompeteer op die vlugbal- en netbal- en tennisbane, sowel as rugby- en hokkievelde. Op die kultuurfront het die kolleges kragte gemeet met koorsang, en die naweek is afgesluit met ‘n Cantus, ‘n tradisionele saamsing en kuieraand uit die Dietse tradisie.Marike Labuschagne, wat studentesake by BKO koördineer, het gesê die naweek was ‘n groot sukses. Paul Vogel, hoof van BKO, het tydens die afsluiting die Vrystaatse landboukollege bedank vir hulle besoek en sportmangees.
Foto’s: Rugby, netbal en sosiaal. Daar is ook hokkie, vlugbal en tennis gespeel.
Vorderingsverslag: installering van Orania se nuwe battery
Die volgende tree op pad na Orania se jarelange droom van energieonafhanklikheid is gegee met die aankoop van ‘n 4,8 MWu-battery in ‘n poging om die dorp van 06:00 soggens tot 22:00 saans beurtkragvry te hou.
Orania Beweging het vroeër berig dat dié battery vanaf Sungrow in Sjina verskeep word, en dat die battery reeds op die see is, op pad na Orania toe. Die battery het intussen pas by sy Suid-Afrikaanse hawebestemming aangekom! Hy sal van daar af per pad na Orania vervoer word.
In Orania gaan die voorbereindingswerk volstoom voort. Die aardmatte en fondasie waarop die battery sal staan, word tans voltooi.
Hierdie is ‘n belangrike projek vir Orania se vooruitgang en word in groot geloof aangepak.Foto: Riaan Jacobs, uitvoerende direkteur, by die battery voetstuk wat pas gegiet is. Die battery kom binnekort in Orania aan.
Bokkietoernooi bring sportgeleenthede vir Orania-jongmense
Doret le Cornu
Die O/23 Bokkietoernooi het weereens vir die jongmense van Orania die kans gebied om ‘n naweek van gesonde kompetisie, sport- en kultuurvieringe saam met talle ander spelers van regoor die land te geniet.
Met trots was Orania in staat om twee netbal- en rugbyspanne, en ook vir die eerste keer ‘n hokkiespan, op die veld te sit. Van 21 tot 23 Maart het hulle saam met ongeveer 250 spelers, 63 afrigters en meer as 1 200 ondersteuners kragte gemeet en hulle sportmanskap getoets.
Die Bokkietoernooi, ʼn inisiatief deur Afrikaner Volkseie Sport (AVS), het die dorp elke jaar aan die gons met mededingende energie, ‘n sportiewe gees en feesvieringe. So word daar die geleentheid aan die Afrikanerjeug gegee om deel te neem sonder diskriminasie en inmenging van politiek.Orania se rugbyspan het as die oorwinnaars weggestap en daarby is drie spelers vir die Bokkiespan gekies, en een vir die Gazelle-span. Hierdie spanne word vanuit al die unies wat aan die Bokkietoernooi deelneem gekies om aan verdere wedstryde by sportgeleenthede deel te neem. Groot opgewondenheid en trots het geheers, en die span sien uit na wat voorlê.
Mevrou Nel, koördineerder en bestuurder van Orania se netbalspan, sê dat alhoewel hulle die “semis” naelskraap gemis het, hulle hul koppe nog steeds hoog hou en uitsien na 2025 se Bokkietoernooi. “Ons wil ook geluk sê aan Amoné Nel met haar verkiesing tot die Gazelle 0/23 span. Dankie aan elke toeskouer wat ons telkens ondersteun het!” sê Nel.
Bo-Karoo Opleiding het weereens ‘n rugby- en netbalspan ingeskryf. Hendri Labuschagne, die rugbyspan se afrigter, sê dat hul hierdie jaar in elke wedstryd kompeterend was, met naelskraap neerlae en op die tweede dag ‘n wen teen die Griekwas. Dit was ook die eerste jaar wat twee spelers van BKO vir die Gazelle-span gekies is. “Ons is trots op ons spelers se positiewe gees, goeie sportsmanskap en selfdissipline deur die naweek,” sê Labuschagne. Ook by BKO se rugbyspan is twee spelers gekies vir die Gazelle span.Net so het BKO se netbalspan aan studente die kans gegee om hulle passie op die baan uit te leef en die spanbou en fiksheid wat hulle vooraf ingeoefen het, teen hul opponente te toets. So word daar ‘n platvorm vir studente geskep om hulle sportmanskap op Orania uit te leef..
Geskiedenis is hier in Orania gemaak toe daar vir die eerste keer by die O/23 Bokkieweek ook hokkie aangebied is, genaamd Woemahokkie. Orania kon deur Bo-Karoo Opleiding ook hier ‘n span lewer. Ds. Peter Stans, Hoof Uitvoerende Beampte van AVS, sê die terugvoer wat hulle gekry het oor die hokkie was baie positief. “Daar was ‘n ongelooflike lekker gees onder die Woemahokkiespanne, al was hulle vanjaar nog min.”So is nog ‘n suksesvolle O/23 Bokkietoernooi afgehandel, met mooi vooruitsigte en verwagtinge vir volgende jaar wanneer die toernooi weereens sal terugkeer na Orania, die tuiste van Afrikanersport.
Vasbyt! Atlete neem weer deel aan die100 km en 250 km geleenthede in Orania
Die Bo-Karoo Vasbyt is vir die agtste keer in Orania aangebied. Hierdie hare-op-die-tand- wedren/wedloop-kombinasie gee atlete ‘n keuse tussen fietsry en hardloop vir lang afstande oor ‘n tydperk van vier dae.
Die Vasbyt is ‘n unieke geleentheid wat een keer per jaar, oor die loop van vier dae in Orania aangebied word, en het hierdie jaar weer fietsryers, stappers en drawwers gelok om hul litte in die natuur te kom losmaak.
Hardlopers kan kies tussen die klipharde 100 km veldwedloop: Vasbyt of die (effens ligter) 55 km Ligloop, terwyl fietsryers dit uitspook oor 250km (Vastrap) en 116km (Ligtrap). Hierdie byeenkoms het in 2016 onder die leiding van dr Danie Brink en Johan Nel begin met die doel om deur ‘n informele en gesellige, maar klipharde, wedloop atlete te kry om Orania te besoek en as gesinne saam deel te neem.
Vanaf 25 tot 28 Maart het die deelnemers elke oggend net voor sonop weggespring en in die verskillende afstande meegeding.
Marieta Combrinck, een van Bo-Karoo Vasbyt se organiseerders, sê dat hierdie die ideale geleentheid is om Orania van ‘n ander perspektief af op ‘n avontuurlustige manier te leer ken.
Dit is ook ‘n unieke geleentheid waar besoekers wat deelneem die gasvryheid van Orania en sy mense kan leer ken, en die natuur waardeur die roete hulle neem, geniet kan word.
Aangesien deelname aan die Bo-Karoo Vasbyt die ideale geleentheid skep om nader kennis te maak met Afrikanerkultuur en -herkoms, het die organiseerders van die Vasbyt besluit om elke jaar ‘n prominente leier uit ons geskiedenis as tema te kies. Hiervoor is die borsbeelde van verskeie leiers uit die Afrikanergeskiedenis wat op Monumentkoppie in Orania staan, as bron vir die jaartema gebruik.
Vanjaar was daar weer ‘n goeie opkoms van stappers, trappers en drawwers en al het die wind en reën ook opgedaag, het dit nie die vasberade deelnemers gerem nie.
Van haastige en ernstige atlete wat vir ‘n eerste plek kompeteer, tot rustige deelnemers wat stap of rustig ry om die natuurskoon te geniet; daar is plek vir ieder en elk! Oor die jare is verskeie tradisies gevestig. Op eg Boeremanier word die wegspring met ‘n sweepslag afgesit. Daar is saambraai-geleenthede, die jaarlikse ‘selfie’ of ‘onsie’ op Monumentkoppie as deel van die wedloop, en die bibberkoue vragmotorrit (vanjaar luuks in ‘n skoolbus!) na dag twee se wegspringplek.
Só vorm die Bo-Karoo Vasbyt ‘n unieke, fisiek uitdagende byeenkoms, deurvleg met Afrikanergeskiedenis en Afrikanertrots.Orania studente verryk hul kennis
Doret le Cornu
Bo-Karoo Opleiding het weereens inisiatief geneem om uit te reik na buite om studente se kennis nog ‘n vlak hoër te neem deur aanvullende dagkursusse.
‘n Voorbeeld hiervan is die Boran-inleidingskursus, aangebied deur die Boran Telersgenootskap, wat vroeg in Maart deur die boerderybestuurstudente bygewoon is.
Margaret-Jean van Niekerk, ‘n tweedejaar boerderybestuurstudent, sê dat sy die Boran-dag vreeslik geniet het. “Ons het geleer hoe om eienskappe van goeie genetika te identifiseer wat kwaliteit in jou beestrop sal verseker. Daarby het hulle ons ook toegerus met kennis van verskeie maniere om jou stoetdiere te versorg en te onderhou sodat daar optimale teelomstandighede in jou trop kan wees.”
Die kursus het begin met ‘n teoretiese afdeling waar studente lesings bygewoon het oor Boran-teling, aangebied in die GBK Sentrum in Lückhoff. Daarna het hulle vertrek na die gasheer se plaas waar die teoretiese kennis prakties op die diere toegepas is.
Bo-Karoo Opleiding streef daarna om studente toe te rus met nie net teoretiese kennis nie, maar ook met praktiese kennis en vaardighede rakende plant- en veeproduksie asook instandhouding in die Suid-Afrikaanse landbou-omgewing. Dagkursusse soos die Boran-inleidingskursus is een van vele geleenthede waar studente die geleentheid kry om ekstra vaardighede aan te leer en toe te pas.Foto: Die BKO studente by die Boran-dag.
BKO verwelkom landboukenner
Jasper Dreyer sluit vanjaar by Bo-Karoo Opleiding (BKO) in Orania, Noord-Kaap aan as departementshoof van landbou.
Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, sê hy is baie opgewonde om Dreyer te verwelkom. “BKO het ‘n sterk fokus op landbouopleiding en ons wil dit verder uitbou. Jasper se aanstelling bring vir ons baie kundigheid en vaardighede wat ons uitbreidingsplanne uitstekend aanvul.”
Dreyer het voorheen vir 15 jaar in Potchefstroom gewoon, waar hy 12 jaar lank ’n dosent in grondkunde was. Hy is tans besig met sy PhD-graad in digitale grondkartering vir presisieboerdery aan die Noordwes-Universiteit. Hy wil graag sy kennis en ervaring gebruik om die landboukurrikulum uit te brei en meer gespesialiseerd te maak.
Verder wil hy verseker dat die Leer-my-hoe-proefplaas optimaal gebruik word, ten voordeel van landbou in Suid-Afrika en veral die Noord-Kaap. Sy droom vir BKO is dat die instelling nie net in getalle sal groei nie, maar ook as top hoëropleidingsinstelling erken sal word.“Ons het groot planne vir landbou by BKO,” sê Dreyer. “Eerstens wil ons die departement se kapasiteit uitbrei en verder ontwikkel om volhoubare groei en gehalte te bevorder. Tweedens beplan ons die uitbreiding van die Leer-my-hoe-proefplaas om studente aan praktiese landbouaktiwiteite binne ons streek bloot te stel. Verder beoog ons om ondersoek in te stel na vakrigtings soos agronomie en veekunde en ons eie kurrikulums en modules te ontwikkel,” brei Dreyer uit.
BKO bied tans verskeie kwalifikasies aan. Dit sluit boerderybestuur, bou- en siviele konstruksie, loodgieter, elektries en tuisversorging in. Die fokus word op praktiese vaardighede geplaas, nadat die teorie afgehandel is. BKO is trots daarop om studente nie net met ’n kwalifikasie die arbeidsmark in te stuur nie, maar as roepinggedrewe volwassenes.
BKO het in 2019 met slegs vyf studente tot stand gekom. Vanjaar spog die instelling met 130 studente en het ook vroeër vanjaar ‘n nuwe handelsmerk en werkswinkels bekendgestel. Jasper Dreyer se aanstelling sal die instelling in staat stel om nog verder uit te brei en nog hoër hoogtes te bereik.Foto : Jasper Dreyer.
Huppelkind besoek ORANIAMED
Huppelkind is ‘n dagsorgsentrum in Orania vir kindertjies van enkele maande oud tot skoolgereed. ORANIAMED is Orania se eie mediese instelling waar dienste deur ‘n dokter, aptekers, verpleegsters, paramedici en meer gelewer word. Kinders van Huppelkind het ORANIAMED besoek om die personeel te bedank vir hulle diens aan die gemeenskap.
Kinders van die “Boekwurms”-klassie by Huppelkind, het ORANIAMED baie vrolik en opgewonde besoek. Die idee vir hierdie dankie-sê inisiatief het by Byekorf (‘n eiendomsagentskap in Orania) se kantoor ontstaan en hulle het die reëlings met Huppelkind se personeel verder geneem.
Die kinders het ‘n liedjie geleer om vir die dokter en sy span te sing en ook ‘n skilderdoek met die kinders se vingerafdrukke daarop, oorhandig.Foto 1: Die Huppelkinders by Karoomed se ambulans en paramediese beampte.
Foto heel 2 & 3 Die Huppelkind personeel en kinders oorhandig die skilderdoek.Stigtingsdag in Orania gevier
Orania vier sy eie vakansiedae; dit is deel van die gemeenskap se doelwit om homself so duidelik as moontlik as ‘n unieke Afrikanergemeenskap te identifiseer en te onderskei, en terselfdertyd trou te bly aan die idee dat Orania die Afrikanerkultuur bewaar en uitbou.
Die verantwoordelikheid om vakansiedae aan te bied roteer tussen instellings in Orania. Vanjaar was dit Orania CVO-skool se beurt om voor te vat met die reëlings rondom Stigtingsdag. Stigtingsdag op 6 April vier nie net die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap nie, maar ook die Stigting van Orania (die aankoop van die dorp in 1991).
Die Orania CVO-skool het ‘n lekker vol program aangebied met ‘n Stigtingsdagmark, Volkspele, ‘n skeepvaartresies, Jan-en-Maria kompetisie, en vele meer lekker aktiwiteite.
‘n Groep Nederlandse joernaliste het Orania tydens Stigtingsdag besoek en het hierdie geleentheid verfilm.Foto’s: Stigtingsdagvieringe en Nederlandse joernaliste (heel onder).
-
AuthorPosts
- You must be logged in to reply to this topic.