MARBLE HALL, LIMPOPO. – ‘n Plaaseienaar (79) is op Saterdagoggend 19 Augustus 2023 omstreeks 03:00 glo deur ‘n groot groep gewapende rowers uit sy huis gelok, waarna hy vasgebind is en vee ter waarde van R320 000 gesteel is.
Kol. Malesela Ledwaba sê die boer het na bewering geslaap toe die verdagtes hom roep en voorgee hulle jaag ‘n verdagte wat die plaas betree het. Die boer het glo die deur oopgemaak, waarna ‘n geweer op hom gerig en hy met drade vasgemaak is.
Nog verdagtes het in vermoedelik vier bakkies, waarvan een ‘n wit Ford Ranger is, aangery gekom. Die vermeende rowers het glo 68 bokke en 40 skape gebuit voor hulle van die plaas af gevlug het.
Die bejaarde boer is deur sy werkers ontset waarna die polisie verwittig is.
‘n Huisroof word ondersoek en die provinsiale veediefstaleenheid is ook by die ondersoek betrokke.
Adjudant-offisier Samuel Mohlala kan by 082 318 9861 met inligting gebel word.
SOURCE:Plaasaanval – polisie soek ‘rowers’ wat bejaarde aanval en vee steel (find-it.co.za)