GAUTENG. – Reneé Lea is Vrydagaand tydens ‘n beweerde huisroof in Standerton, Mpumalanga, vermoor. Haar liggaam is Saterdagoggend in haar gesteelde voertuig se kattebak in Moreleta Park in Pretoria gevind.
Kol. Mavela Masondo sê ‘n man (21) is in hegtenis geneem nadat die vrou se liggaam en items wat vermoedelik tydens die huisroof gesteel is in die kattebak van die voertuig ontdek is.
“Die verdagte(s) het na bewering die huis geplunder voordat hulle die slagoffer vermoor en haar liggaam in haar Range Rover gesit en weggery het.”
Masondo sê volgens rapportering het ‘n beampte van ‘n opsporingsmaatskappy die slagoffer se voertuig geoek en dit by die vulstasie in Moreleta Park gevind. Tydens deursoeking van die verdagte en die voertuig is op die vrou se liggaam, asook items soos skootrekenaars, selfone, juwele en die oorledene se bankkaart afgekom.
“Twee vuurwapens en een replika vuurwapen is ook in die motor gevind.”
Die polisie is na die toneel ontbied, waar die verdagte in hegtenis geneem is. Hy is van moord, ontvoering, besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen, besit van ‘n gesteelde motorvoertuig en besit van vermoedelik gesteelde eiendom aangekla.
Masondo sê die verdagte sal Maandag in die Pretoria-landdroshof voorkom.