Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, het Vrydag met Willem Kruger (29) se familie vergader, berig Middelburg Observer.
“Die familie het ons formeel gevra om te help met die ondersoek,” het Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se private vervolgingseenheid, aan die nuusdiens bevestig.
Bateman sê hulle “sal ondersteuning bied deur hul deure te open vir die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sou hulle enige van ons kundigheid benodig.”
“Die familie is ook tevrede met hoe [die polisie] die saak tot nou toe ondersoek het.”
Hy noem dat sou dit gebeur dat daar nie kriminele vervolging is in die saak nie, sal hulle die familie ondersteun sodat ’n formele ondersoek gedoen word om die omstandighede vas te stel wat tot sy dood gelei het.
“Daarmee hoop ons dat ons die familie sal ondersteun sodat hulle afsluiting kan kry met die afsterwe van Kruger.”
Daar is die afgelope maand talle bespiegelinge op sosiale media oor wat moontlik tot Kruger se dood gelei het. In ‘n onderhoud met Mike Bolhuis vandeesweek, het hy gewaarsku teen die verspreiding van disinformasie, aangesien dit kan inmeng met die formele polisieondersoek. Bolhuis was oorspronklik by die ondersoek betrokke.

AfriForum tree in om Willem Kruger se familie by te staan (afrinuus.com)