Loving Life TV

Die Bok En Skaap Nasies Oordeel – Deel 2 – Pieter de Klerk

Home Forums PIETER DE KLERK-OP DIE RADAR Die Bok En Skaap Nasies Oordeel – Deel 2 – Pieter de Klerk

Viewing 1 post (of 1 total)
  • Author
    Posts
  • #399995
    pieterdeklerk
    Moderator

    In die vorige skrywe het ek na die eerste 3 vrae gekyk

    Die 6 vrae wat bespreek gaan word.

    1) Wat is die tyd en plek van hierdie oordeel
    2) Wie word geoordeel in hierdie gedeelte
    3) Hoekom word hulle geoordeel
    4) Wie is die “broers en susters” waarna Jesus verwys
    5) Wat is die gevolge van hierdie oordeel
    6) Hoekom haat die wêreld Israel en die Jood

    Kom ons begin by Vraag 4

    4) Wie is die “broers en susters” waarna Jesus verwys in hierdie gedeelte,

    Ek gaan nou die rede gee hoekom hierdie Bybel gedeelte so verdraai word Matthéüs 25:40 En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.

    Hierdie verhaal is baie bekend in Christelike kringe. Gewoonlik word dit in die sin van welsynswerk en menslikheid aangehaal, maar in werklikheid handel dit uitsluitlik oor die gebeure gedurende en nà die wederkoms en nie die die hede nie. Weereens Konteks en Verband. Ons kan nie net enige teksvers neem en sê dis op ons van toepassing nie. Hierdie is so n tipiese voorbeeld

    So die vraag aan Jesus dan: “wanneer het ons dit aan U gedoen?” En hier antwoord Jesus die vraag wat deur altwee groepe aan Hom gevra is: “AAN die geringstes van hierdie broeders van My het julle dit aan My gedoen”. Hierdie antwoord van Jesus is duidelik, ondubbelsinnig en direk.

    Hier verskyn al die nasies, (Nie enkele persone nie, maar nasies en volke as sulks.) voor die Regter Jesus Christus, direk na die slag van Armageddon. (Na die sewe jaar verdrukking.)

    Jesus sê: “hierdie broeders van my.” Dit kan dus net die Kerk of die Jood beteken, en aangesien die kerk/bruid alreeds weggevoer is in die lug voor die 7 jaar Groot Verdrukking, bly net die Jood oor. Maar soos ek bo genoem het, om dit by anti-Semitisme te laat uitkom, word dit eenvoudig omgeswaai na vleeslike welsyn.

    Die boknasies is dan die nasies en volke wat geen barmhartigheid aan die Jode bewys het nie, maar eerder sal probeer om hulle van die aarde te verdelg. Hulle sal as totale nasies vernietig word, en nie een van hulle sal in die Vrederyk ingaan nie. Ons moet die volgende in ag neem

    a) Die wedergeborenes van die Genade Despensasie is alreeds sewe jaar weggeneem met die wegraping
    b) Die wat in die Groot Verdrukking tot bekering kom, sal deur die Anti-chris magte onthoof word en is diegene wat onder die altaar in die hemel is, wat roep om wraak
    c) Die mense wat oorbly is almal ongelowiges wat nooit die ewige lewe beërwe het nie.

    Kom ons staan so bietjie stil hier: Die omstandighede van Jode, tydens die Groot Verdrukking, sal toenemend slegter en slegter word totdat hulle later net aangewese sal wees op die goedheid van ander mense om te kan oorleef. Ons praat hier van die Anti-chris se tyd.

    Die gevolge hiervan sal wees dat jy gesien sal word as ʼn vyand van die staat omdat jy dit waag om ʼn internasionaal verklaarde vyand van die staat te help. Hierdie oortreding van sulke mense sal strafbaar wees met die dood. Om sake te vererger sal daar diegene wees wat dit hulle werk sal maak om mense wat Jode help, te verkla by die staat.

    Wie dan sal die nasies wees wat wel hulp aan die Jood sal verleen?

    Dit is die nasies wat nie onder die Herstelde Romeins Ryk se duim is nie. My OPINIE is dat dit lande sal wees wat ver van Europa is.

    Ek het op ‘n geleentheid iets baie interresant gehoor. Ek het gesels met ‘n man wie se oupa uit die Levitiese stam kom. Die oupa het aan hom gesê dat dit sy oortuiging is dat God die blanke aan die suidpunt van Afrika geplaas het om juis so ‘n gebied vir die Jood in daardie tyd as so ‘n veilige hawe te dien.. Ek maak geensins so ‘n siening nie, maar laat my wel dink.

    Dit is hierdie nasies wat in alle felheid op die Jood afkom wat Jesus se woede sal laat ontvlam teen hulle. Hitler se dade sal slegs ‘n skaduwee wees van dit wat vernaam vir die Jood wag.

    Watter gevaarlike tyd gaan dit nie wees nie! Amos 5:19 Soos wanneer iemand vlug vir ‘n leeu, maar ‘n beer loop hom raak; of hy kom in die huis en leun met sy hand teen die muur, en ‘n slang byt hom!”

    5) Wat is die gevolge van hierdie oordeel

    Matthéüs 25:41 Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.

    Hierdie skaap- en boknasie-oordeel is dus gebasseer op die optrede teenoor en die behandeling van die Joodse volk deur die ander volke en nasies.

    Matthéüs 25:34 Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: (dié wat die Jood goedgesind is) Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.

    En hier gee God se Woord ‘n duidelike vooruitskouing en dit is duidelik dat die Skaap nasies nie Hemel toe gaan nie, maar bewoon die aarde vir duisend jaar. Bok nasies gaan die verdoemenis in en gaan verlore.

    Israel is God se volk en Sy beloftes en verbond met Abrahan sal nooit verander nie, want dit is ‘n Onvoorwaardelike Verbond.

    6) Hoekom haat die wêreld Israel en die Jood?

    Israel is vandag nie perfek nie en word nie bewoon deur baie gelowiges nie. Dit was egter die afgelope vier duisend jaar die geval en dwarsdeur hierdie tyd staan God se onvoorwaardelike belofte aan Abraham nog steeds vas: “En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word”. Dit is so eenvoudig as wat dit is.

    Weereens, Israel is nie vandag perfek nie, maar nasies moet hul buitelandse beleid op die beginsel van Genesis 12:3 skoei. Dit is of seën of vloek maar ons sien presies die teenoorgestelde: in plaas daarvan om Israel te sëen, mislei Satan die nasies om Israel onder groot druk te plaas om haar land te verdeel, en Jode-haat neem dwarsoor die wêreld toe.

    Interresant is die gevalle van Engeland en Amerika. Toe Engeland swig voor die wêreld druk om die Balfour Deklerasie af te skaal en Israel se beloofde grondgebied vir ander te gee, verander hulle voorspoed en is hulle vandag slegs ‘n skadu van hul vroeëre glorie. Toe Amerika totaal vir Israel ondersteun het, het hulle die magtigste land ter wêreld geword. Stadig het hulle weg gedraai van Israel, vernaam onder die Demokrate en hoe meer dit gebeur het, hoe meer het Amerika verval. Daar het ‘n opswaai gekom met die pro-Israel ondersteuning Trump. Ons weet die totale verval van Amerika onder Biden.

    Biden is die een groot oorsaak vir die verbrokkeling in die Midde Ooste. Dis egter ‘n skrywe vir later.

    Die toestand in Suid Afrika vandag

    Kyk ek na ons land dan sien ek Anti-Semitisme, of Joode haat floreer. Ek hoor die vreeslikste en vieslikste uitsprake en dit is nie net onder die swart volke nie.

    Die blanke bevolking is meerendeels anti-semitiste en skaar hulle aan die kant van die Muslim en verbind hulself tot die Palestyne, Dit terwyl Jesus uit die Joodse volk gebore is. Daar is so baie van die blanke bevolking wat verkondig dat ons afstam uit die 10 verlore stamme van Israel en die nuwe Israel is. Dan wonder ons hoekom ons in so ‘n vervalle toestand is.

    God het ‘n belofte (Verbond) aan Abraham gedoen dit sal so uitgevoer word, God sal nooit verander nie. Ek glo dat ons ernstig sal moet besin. Ek sou dink dat indien Suid Afrika vandag die Bok en Skaap Nasies oordeel moes ondergaan, ons as ‘n Bok nasie sou geklasifiseer word.

    ʼn Eindtydse profesie wat vandag relevant raak gaan juis oor Jerusalem.

    Die eerste verwysing in die Bybel na hierdie stad kom in Genesis 14 voor waar Melgisedek optree as ʼn koning-priester in wat as die stad van geregtigheid, vrede, aanbidding, offerande en vreugde beskou word.

    Abraham het na die Berg Moria gegaan om Isak te offer (Genesis 22) en hierdie berg is waar Jerusalem is.

    In Deuteronomium 12:5 sê God deur Moses vir die Israeliete dat ‘die plek wat die HERE julle God uit al julle stamme sal uitkies om sy Naam daar te vestig om daar te woon, moet julle opsoek en daarheen moet jy kom’.

    Baie jare later kies God om die tempel in Jerusalem te plaas: ‘In hierdie huis en in Jerusalem wat Ek verkies het uit al die stamme van Israel, sal Ek vir ewig my Naam vestig’ (2 Konings 21:7b; sien ook 1 Konings 11:36; 2 Kronieke 33:4).

    Die profesie wat vandag reeds relevant begin raak, staan in Sagaria 12:1 GODSPRAAK. Die woord van die HERE oor Israel. Die HERE spreek, wat die hemele uitsprei en die aarde grondves en die gees van die mens in sy binneste formeer:
    2 Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke RONDOM tot ʼn beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem.
    3 En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ʼn baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word.

    Die inleiding van hierdie profesie in Sagaria 12:1-9 beklemtoon dat God die Skepper is van die hemele, van die aarde en ook van alle mense. Selfs die wat ons nou se dae so maklik aborteer.

    Die almagtige God sê dat Hy Jerusalem ʼn beker van bedwelming sal maak vir al die volke rondom, ʼn baie swaar klip vir al die volke. Uiteindelik sal al die nasies van die aarde teen Jerusalem vergader word. (Slag van Armagedon)

    Hierdie profesie is nog nooit vervul nie. Dit sal vervul word aan die einde van die Groot Verdrukking, die beleëring en stryd van Armagéddon.

    Alhoewel hierdie profesie eers in die toekoms vervul gaan word, kan ons vandag reeds sien hoe die nasies van die wêreld teen Israel draai en selfs ontken dat Jerusalem die stad van die groot Koning is.

    Dit terwyl die Woord dit so stel Matthéüs 5:35 ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning;

    En nou wil die wêreld Jerusalem verdeel. Vandag verkondig die Britse Israel Visie dat Jesus nie Israel toe gaan kom nie maar na die Nuwe Jerusalem naamlik Buckingham Paleis waar Jesus daar op die troon van Sy vader David sal sit. Maar dit is volslae dwaasheid, want God het vir altyd sy Naam in Jerusalem gevestig.

    Hierdie skaapnasies is dus al die nasies wat die Jood goedgesind was gedurende die verdrukkingstydperk. Uit die skrif is dit duidelik dat hierdie nasies nie eens geweet het dat hulle Jesus gedien het deur aan die Jood guns te bewys nie. So die Skaapnasies was nie gered omrede hulle volgens Bybels voorskrifte geleef het nie, maar omrede hulle beloon word deur Jesus vir hulle omgee en hulp aan God se volk.

    Die koninkryk waarvan Jesus in Matt 25:34 praat simboliseer die Duisendjarige Vrederyk of Millenium. As gevolg van hul verhouding met die Joodse volk, word die skaapnasies toegelaat om toe te tree tot die Vrederyk. [Die Joodse sendelinge sal dan ook gedurende die Vrederyk hierdie skaapnasies evangeliseer.]

    Ek wil weereens waarsku en ‘n beroep op mense doen om terug te gaan na die Woord en sonder vooroordeel te gaan kyk na die verhouding tussen God en Abraham se nagslag.

    Dan gebeur die volgende

    Openbaring 20:2 En hy het die draak (Satan) gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank,
    3 en hom (Satan) in die afgrond (bodemlose put =Abussos) gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie.Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.

    Satan word dan vrygelaat vir ‘n kort rukkie waar hy weereens hierdie nasies verlei. Dan word die aarde deur vuur vernietig, die Nuwe Jerusalem daal op die Nuwe Aarde neer en die ewigheid begin.

    Alles het begin met God se ernstige waarskuwing in Genesis 13:3 “En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word”.

    Die Bok en Skaap Nasies Oordeel voltooi hierdie waarskuwing van God.

    Om af te sluit

    Hoekom hierdie totale aanslag teen Israel en die Jood?

    Die wêreld is in die mag van die bose. Daar word kant gekies vir die globaliste, Muslim Radikaliste wat wil hê Israel moet ‘n sekulêre en nie ‘n godsdienstige staat wees nie.

    Hulle wil nie dat die Jood moet deel in die Skrifte nie, of om beheer te neem oor die Tempel gebied, om dan die Tempel te herbou nie.

    Daar is 2 wat deur die wêreldmagte gevrees word en dit is Donald Trump en Benjamin Netanyahu. Altwee vir Israel.

    En dit die rede van hierdie aanvalle op hierdie 2 manne.

Viewing 1 post (of 1 total)
  • You must be logged in to reply to this topic.