Loving Life TV

Die Wegraping Deel 4 – Pieter de Klerk

Home Forums PIETER DE KLERK-OP DIE RADAR Die Wegraping Deel 4 – Pieter de Klerk

Viewing 1 post (of 1 total)
  • Author
    Posts
  • #2413
    pieterdeklerk
    Moderator

    Laat ek begin deur te sê dat wanneer ons met die Woord omgaan, ons baie versigtig moet wees. Ons moet só versigtig wees om nie net ‘n sekere teks of paar tekste te gebruik en dan tot ‘n gevolgtrekking te kom nie.

    Die Bybel is ‘n unieke geskrif en so opgestel dat daar oor ‘n lang tyd en deur verskeie skrywers sy beslag gekry het.

    Wat die Bybel so besonders maak, is dat elke skrywer iets nuuts byvoeg wat dan later ‘n totale en duidelike uiteenlegging daarstel vir ons.

    Wat ons moet verstaan, is dat die Nuwe Testament verborge was in die Ou Testament, maar dat die Ou Testament nou geoppenbaar is in die Nuwe Testament. Altwee testamente is in werklikheid die volledige plan van God.

    Dit is juis hier waar ons so maklik verdwaal raak, want ons het nie almal die tyd om diepe studies te doen nie. Die Bybel vermaan ons wel soos volg:

    2 Tim 3:15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.
    16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,

    Verder 2 Petrus 1:19 En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte;
    20 terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie;
    21 want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.

    Wat ons in gedagte moet hou, is dat Openbaring nie net ‘n profesie nie, maar direk deur Jesus aan Johannes gegee is en ons mag nie probeer om ‘n ander uitleg te gee nie. En tog doen so baie dit.

    Om te begin plaas ek weer die 2 groepe tov die Wegraping:

    1) Die wat ‘n probleem het met die wegraping
    Hieronder val die volgende opinies:

    a) Geen wegraping,
    b) Die wegraping is slegs vir die ongereddes,
    c) Die wegraping is slegs vir die Jode
    d) en dan die wat glo dat die wegraping slegs n tipe is. Vir hulle is dit dat wanneer iemand sterf, word so ‘n persoon “weggeraap”. Hulle glo dus dat dit slegs van toepassing is vir enkelinge by die dood.

    2) Die tweede groep is die wat wel glo dat daar ‘n Wegraping is, maar verskil oor die tyd daarvan.
    a) Die wat glo dis net voor die Groot Verdrukking (Pre Trib).
    b) Die wat glo dit is Mid Tribulasie maw na 3.5 jaar (Mid Trib).
    c) Die wat glo die Tribulasie is na die koms van Jesus. Maw Christene gaan dus ook deur die Groot Verdrukking.

    Ons is nog besig met groep 2.

    So kom ons gaan kyk wat Jesus self gesê het.

    Begin ons kyk na Openbaring, dan val daar iets opvallend op. In hoofstuk 2 en 3 word die Kerkdespensasie beskryf. In Openbaring 1 tot 3 kom die woord “gemeente” of “gemeentes” negentien keer voor, maar nie een keer weer daarna nie, dit terwyl Israel glad nie in hoofstuk 2 en 3 genoem word nie. Dus, hoekom het ons hier vele verwysings na die Kerk en dan skielik nie een keer daarna nie? Indien die Kerk nog op die aarde sou wees, dan sekerlik sou Jesus dit aan Johannes genoem het.

    Nog ‘n insiggewende gedeelte is Openbaring 4 en 5. Hierdie 2 hoofstukke vind in die hemel en nie op die aarde plaas nie. Dis die tyd van die Regterstoel Oordeel en die Bruilof van die Lam.

    Graag wil ek ook die volgende uitwys.

    Sou die Kerk gedurende Openbaring 4 tot 19 gedurende die tyd van die Groot Verdrukking nog op die aarde wees, moet ons haar tog kan identifiseer. In stede daarvan maak Israel sy verskyning.

    Daar is nog ‘n ander probleem en dit is dat die Genade Despensasie en die Wet Despensasie, nie saam kan funksioneer nie. Dis onmoontlik.

    Nou ontstaan die situasie rondom die Tempel. Na 3.5 jaar gaan die Antichris die Tempel binne. Dit meen daar sal beslis ‘n Tempel wees. Weereens kan die Kerk en die Tempel nie saam bestaan nie.

    Wat dit beteken is dat daar 2 verskillende groepe mense in Openbaring is wat in twee verskillende tydperke afspeel. Van Openbaring 2 tot 5 is dit die Kerk wat eindig met die Wegraping en dan Israel vanaf Openbaring 6 tot 19.

    Nog ʼn bewys dat die Kerk die Groot Verdrukking sal ontvlug voordat die Verdrukking begin, is Openbaring 19

    Openbaring 19:7 Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.
    8 En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.
    9Toe sê hy vir my: Skryf — salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God.

    Waar vind dit plaas? In die Hemel.

    Openbaring 19:4 En die vier-en-twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval en God aanbid wat op die troon sit, en gesê: Amen, Halleluja!

    Waar is die Bruid? In die Hemel

    Openbaring 19:8 En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.

    En wanneer is die sigbare Wederkoms van Jesus? Eers heelwat later.

    Openbaring 19:11 TOE het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.

    So volgends die kronologiese gebeure kom Jesus na die Regterstoel Oordeel en die Bruilof van die Lam.

    Indien ons ʼn noukeurige ondersoek van die Skrifte doen, sal dit duidelik gemaak word dat daar ‘n tussenpose is tussen Christus se koms in die lug, naamlik die Wegraping en Christus se sigbare wederkoms na die aarde.

    Wegraping

    1 Thessalonisense 4:16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.
    17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.

    Jesus se sigbare koms na die aarde.

    Sagaria 14:3 En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog.
    4 En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide

    Om op te som

    Daar is ten minste twee dinge wat moet plaasvind tussen die twee gebeure van die Wegraping en die Wederkoms.

    a Die Regterstoel Oodeel waar daar loon en krone sal wees.

    b Die bruilof van die lam.

    Hierdie twee gebeurtenisse, moet gedurende die sewe jaar Groot Verdrukking, plaasvind. Hierna vind die 1000 jaar Vrederyk plaas.

    Derhalwe aanvaar ons dat die Kerk nie deur die Groot Verdrukking sal gaan wat hoofsaaklik gaan oor Daniel se 70ste Jaarweek nie.

    Die Wederkoms en Wegraping is twee verskillende gebeurtenisse, maar is wel verbind met ‘n goue draad.

    Daar is nog vele ander tekse wat oor hierdie onderwerp handel, maar ek glo dat hierdie bespreking van 4 dele wel ‘n agtergrond sal verskaf.

    Ek het heelwat verwys na die Regterstoel Oordeel en begin dit volgende week bespreek.

Viewing 1 post (of 1 total)
  • You must be logged in to reply to this topic.