Loving Life TV

Die Wit Troon Oordeel – Deel 1 – Pieter de Klerk

Home Forums PIETER DE KLERK-OP DIE RADAR Die Wit Troon Oordeel – Deel 1 – Pieter de Klerk

Viewing 1 post (of 1 total)
  • Author
    Posts
  • #400288
    pieterdeklerk
    Moderator

    In vorige skrywes het ek die volgende oordele behandel 1) Regterstoel/Bema Oordeel en 2) Die Bok en Skaap Nasies Oordeel.

    Ek gaan nou kyk na die volgende oordeel in die Bybel wat so verskriklik is dat die meerderheid predikers dit vermy. Om eerlik te wees sou ek ook en eerder net oor die aangename dinge skryf, maar hierdie onderwerp is egter te belangrik.

    Het julle geweet dat Jesus, toe Hy nog op aarde was, meer oor die Hel as die Hemel gepraat het? Hy het meer gewaarsku oor dié wat nie die gawe van Sy offer aan die kruis wil aanvaar nie.

    Die vraag dus, hoekom dink jy was dit? Was Hy behep met die Hel? Die antwoord is ‘n besliste nee. Jesus was nie behep nie en het later selfs aan ‘n kruis gehang om my en jou die kans te gee om die Hel vry te spring en daarom het hy bly praat en waarsku.

    So van watter Oordeel praat ek hier?
    Die Wit Troon Oordeel.

    Johannes skets ‘n verstommende prentjie in Openbaring 20

    Openbaring 20:11 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.

    Ek gaan die volgende punte aanraak

    1) Wanneer vind hierdie oordeel plaas
    2) Waar vind hierdie oordeel plaas
    3) Wie sal hier verskyn
    4) Wie is die Regter
    5) Wat is die MAATSTAF van die OORDEEL?
    6) Watter bewyse word voorgelê
    7) Wat is die Straf

    1) Wanneer vind hierdie oordeel plaas.

    Die Wit Troon Oordeel vind plaas aan die einde van die Duisendjarige Vrederyk waar die sondaar voor Jesus sal moet rekenskap gee vir sy/haar dade.

    Hebreërs 9:27 En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel.

    En net hier val die leer van die Rooms Katolieke Kerk se Vage Vuur, sowel as die sogenaamde reïnkarnasie, plat. Die oomblik wanneer ‘n persoon die laaste asem uitblaas is dié se lot verseël; dan is dit of Regterstoel of Wit Troon. Daar is nie ‘n tweede kans nie en dit is hoekom hierdie skrywe so uiters noodsaaklik is.

    2) Waar vind hierdie oordeel plaas.

    Dit is op aarde en in Jerusalem.

    3) Wie sal hier verskyn.

    Al die goddelose mense vanaf die vroegste eeue tot die jongste dag sal daar vergader wees. Van die goddelose bedelaar tot die goddelose koning staan almal daar sonder onderskeid voor die Een wat nooit ‘n aansiener van die persoon was nie en nie een sal daar afwesig wees nie.

    Openbaring 20:12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan.

    Hierdie goddelose mense is vergader voor die Groot Wit Troon om deur Christus geoordeel te word volgens hulle werke.

    Daar kom definitief ‘n oordeelsdag! Niks in die Heilige Skrifte is duideliker as hierdie ontsettende waarheid nie! Net so seker as wat daar eenmaal loon sal wees vir gereddes wat Hom in die genade tydperk aangeneem en gedien het, sal daar ‘n dag kom waarop die goddelose geoordeel sal word TOT STRAF.

    Prediker 12:13 Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. (Hier word nie verwys na die 10 gebooie nie)
    14 Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.

    Dus: die plek waar die goddelose sal verskyn, sal wees voor die Groot Wit Troon.

    Ons moet onderskei tussen die Regterstoel van Christus en Die Groot Wit Troon. Die Regterstoel van Christus is die plek waar gereddes sal verskyn na die salige opstanding, nie tot straf nie, maar waar Christus hul volgens hul werke sal toets en die krone en loon sal ontang volgens hul werke vir Hom op aarde. Dit is die eerste opstanding.

    Openbaring 20:5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. …….. (Tweede opstanding.)

    Openbaring 20:13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.

    Net interresant, hier praat die Woord van die Doderyk. Dit maak dit weereens duidelik dat tot op daardie stadium is daar geeneen in die Hel nie behalwe die Anti-chris en die Vals Profeet. Verwys na die skrywe oor die Hel.

    Daar is diegene wat die leer verkondig dat die drie oordele gesmanetlik na die 1000 jaar plaasvind ensovoorts, dit terwyl die Woord so duidelik is Openbaring 20:5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Hierdie vers bots nou direk met hulle siening en word doodeenvoudig verswyg.

    4. WIE SAL DIE REGTER WEES

    Johannes 5:22 Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee,

    Johannes 5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.
    25 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.
    26 Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê.
    27 En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.
    28 Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor
    29 en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.

    Vers 29 word nou gebruik om te bewys dat “Werke” saligheid beerwe. Hierdie leerstelling het ek alreeds in detail bespreek met die Regterstoel Oordeel.

    Die skrif leer dat Jesus Christus self die Regter sal wees. Die Een wat nou die Middelaar vir ons is, word dan die Regter. Die Een wat nou pleit by die mense om hul te bekeer, sal in daardie dag die oordeel uitspreek.

    Die feit dat Jesus self die Regter gaan wees, neem alle hoop op verskoning weg, want dan is Hy nie meer die middelaar nie, maar die Regter wat die oordeel uitspreek. Sy toorn sal so vreeslik wees dat die natuur voorgestel word as vlugtende voor Sy aangesig.

    Openbaring 20:11 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.

    So vreeslik sal die Regter wees dat die veroordeeldes sal uitroep:”……. berge en … rotse ….: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam;”

    Terwyl ek glo dat die wie hierdie skrywes lees, alreeds die reddende genade aangeneem het, is dit dalk moontlik dat ‘n familielid of geliefde nog verlore is. Mag hierdie beskrywing van hierdie oordeel as aansporing dien om hierdie verlore siele te probeer bereik sodat hulle hierdie oordeel mag vryspring en eerder saam met jou voor die Regterstoel van redding sal staan.

    Dit is die rede hoekom ek hierdie skrywe plaas, hoe skrikwekkend ookal, want die oomblik dat iemand die laaste asem uitblaas, is die finale keuse gemaak, daar is geen tweede kans nie.

    Net soos in die geval van Bélsasar, sal die gelaatskleur van die mense wat voor die Groot Wit Troon van God verskyn, verander. Hulle gedagtes sal hul verskrik, want op daardie groot dag van die oordeel van God sal niemand vergeet wat hy of sy gedoen het nie! Die gewrigte van hulle heupe sal losraak op daardie vreeslike dag. Dit sal ‘n verskriklike dag vir almal wees wat die skepsel bo die Skepper vereer en gedien het! Op daardie dag sal die knieë van die sterkste manne teen mekaar slaan! Ja, daardie knieë wat nie voor God wou buig in die welaangename tyd nie.

    Die mens kan doen wat hy wil en lewe soos hy verkies, maar God het die “laaste” woord in die “laaste” oordeel!

    Die uitspraak van die Regter, Jesus Christus.

    Lukas 13:27 En Hy sal sê: Ek sê vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid!

    Matthéüs 7: 21 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.
    22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?
    23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

    Openbaring 11:18 En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf.

    Openbaring volg die prinsiep van Herkapitulasie. Dit beteken slegs dat daar meer detail geopenbaar word as wat voorheen gegee is. Dit kleur meer stukkies in.

    Openbaring 20:11 EN ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.
    12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.
    13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.
    14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.
    15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.

    Ek wil hierdie skrywe afsluit met die volgende: wees baie versigtig om net te glo wat mense vir jou wil wysmaak. Ondersoek alles want dit is my en jou saligheid wat op die spel is. Timótheüs waarsku ons daarteen.

    2 Timótheüs 4:2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;
    3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
    4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

    In Deel 2 gaan ek voort met skrywe.

Viewing 1 post (of 1 total)
  • You must be logged in to reply to this topic.