Loving Life TV

Horner-monument: ‘Dis tyd vir saamstaan’-Horner-monument-It is time for us to stand together in Unity.

Home Forums ATTACKS AND MURDERS ON OUR SOUTH AFRICAN FARMERS. Horner-monument: ‘Dis tyd vir saamstaan’-Horner-monument-It is time for us to stand together in Unity.

  • This topic is empty.
Viewing 1 post (of 1 total)
  • Author
    Posts
  • #870
    Nat Quinn
    Keymaster

    Die monument wat vandag vir Brendin Horner opgerig is, is meer as net ‘n rots in die veld – dis die begin van die ‘omkeerbeweging’ want mense begin besef dat ons moet omdraai en saamstaan.
    Só sê Marissa Aucamp van Klerksdorp.

    “Brendin se moord is g’n uitsondering nie. Dis die nuwe norm; die nuwe reël dat plaasboere afgemaai sal word. Ek is seker dat baie ander mense in die land dieselfde hartseer beleef as wat ek nou voel, maar hy was bitter jonk. Hy is gebore ná 1994, en het niks geweet van apartheid nie.”

    Marissa staan verwese voor die standbeeld wat vroeër vandag onthul is.

    Sy vertel die gebeure was aangrypend. “Ek ken vir Brandin glad nie, maar het besluit om die funksie by te woon omdat ek hom wou vereer.”

    Trane wel op in haar oë en sy druk nog ‘n vrou wat self ook trane stort styf vas.

    Piet Karsten van Warrenton staan in ‘n groepie van vier mans.
    “Na dìt wat ek vandag gesien het, is ek oortuig dat daar ‘n nuwe begin moet wees. Dat Brendin se dood nie verniet moet wees nie. Dat dit ons as volk bymekaar moet bring en dat ons weer moet opstaan vir dìt waarin ons glo.
    “My vrou se vorige man is ses jare gelede in Groblershoop vermoor. Hennie Oosthuizen was sy naam. Die polisie het sy moordenaar, ‘n Zimbabwiër, help ontsnap. Hoe dan anders? Wie in hul regte verstand vervoer iemand vanuit Kimberley se hofselle terug na Groblershoop as hy weer in die hof moes verskyn? Die polisie is deel van die probleem in ons land.”

    Martin Deysel is deel van die groepie mans.
    “Ja,” sug hy. “Ek weet nie eintlik wat om te sê nie. Nee ek weet wat ek moet sê. My neef en nig is in 2011 in Dwaalboom vermoor. Ook deur ‘n Zimbabwiër.  Hoe kan ons die land omkeer? Deur terug te keer na geloof. Deur te bid!
    “Moenie die feit dat boere vir hulself begin opstaan sien as ‘n oorlogsverklaring nie. Geensins nie.
    “Dan moet ons ook veiligheid in dorpe begin terugbring. Kyk hoe goed doen Roland de Vries daarmee. Hy beywer hom vir mense se veiligheid. Meer mense moet dit doen. Betrokke raak.”

    Pieter Aucamp wou nie sê waar hy vandaan kom nie.
    “Daar moet ‘n gewaarwording onder ons volk, ons mense ontstaan. Kyk na al die opofferings wat ons voorgeslagte sedert 1652 gedoen het sodat ons vandag hier kan wees; al die grensmoorde, moorde op boere, op Piet Retief, die Slag van Bloedrivier…
    “Ek glo dat God jou in ‘n land op ‘n spesifieke plek plaas. Brendin se dood is simbolies van opoffering. Moenie dat dit verniet wees nie. Hy is opgeoffer vir die nageslag. Ons, die ouer boere, moet die stokkie aangee aan die jongeres. Toegegee, ons het dalk op plekke die stokkie laat val, maar ons moet dit optel en aangee.
    “Die kern van die Afrikanervolk is hul diep verhouding met die Skepper. Eer God! Dis ‘n voorreg!”

    Leon Pretorius, van Warrenton, het die volgende te sê: “Sien jy ‘n toekoms vir boere in ons land? Ek ken baie boere in die Warrenton en Hartswater omgewing. Hulle glo dat die land se boere positief kan raak mits daar hulp deur die regering aan hulle verleen word.
    “Daar moet meer polisiëring wees. Mense moet bewus gemaak word oor hoe om hul eie veiligheid te verseker. Dit beteken nie noodwendig om wapens op te neem nie.
    “Ek ken ‘n groot pampoenboer in Potchefstroom. Hy en ander boere vat hand, ongeag hul ras of velkleur. Hulle help mekaar. Hy self help een bruin boer om sy oes in te samel; teen betaling natuurlik, maar hulle help mekaar. Hý [die pampoenboer] sien beslis ‘n mooi toekoms vir boere in ons land. En ek ook.”

    Sersant Jopie Engelbrecht, ‘n oorlogsveteraan is duidelik hartseer.
    “Daar is baie Brendin Horners. Dis hartseer en so onnodig. Die regering moet toelaat dat die veterane plase beskerm. Dis al hoe plaasmoorde gestop gaan word. Alles is deesdae net ‘n politieke spel. En die polisie is by plaasmoorde betrokke.
    “Vat byvoorbeeld motorkapings. As jou kar gekaap word, betaal jou versekering uit. Die regering kry belasting daarop. Dan koop jy ‘n ander kar, en die regering staan weer bakhand vir nog belasting. Motorkapings het ge-eskaleer sedert 1994. Dit is politiekery-werkskepping.
    “Alles is nou op ‘n spits gedryf. Die regering kan nie meer hul beloftes aan hul mede-rampokkers vervul nie. Ons is nader aan ‘n burgeroorlog as aan ons volgende bord kos.
    “Ons veterane was op die grens om ons land mooi en veilig te hou. Meeste van die veterane is nog vlymskerp. Sit hulle op plase. Gee hulle ‘n dak oor hulle kop en kos. En julle sal veilig wees.
    “Toegee, van die veterane is kaksleg omdat hulle aan PTSD ly, maar die meerderheid is nog uiters goed. In die Kimberley area is nog baie ou koevoete, spoorsnyers. Gebruik hulle! Ons kan die ding [plaasmoorde] stop. Waar daar ‘n wil is, is ‘n weg. Al probleem is, die regering wil nie.
    “In 1994 was die dollar omtrent $3.40 teen ons rand. Waar staan dit vandag? Selfs die swartmense sê dat dinge voor 1994 beter gewerk het. Ons paaie is nie meer voertuigwaardig nie. Hospitale is ‘n nagmerrie. Mense gaan nou na staatshospitale en gaan daar dood.
    “Die polisie doen niks om die mense te beskerm nie want hulle vrees nog ‘n Marikana.
    ” ‘n Vriend van my het nou die dag afgetree na 42 jaar in die diens, en die swart generaal kon nie glo dat hy met ‘n skoon rekord uit die polisie gestap het nie.”

    Esther Badenhorst is ‘n boervrou van Kroonstad.
    “Al wat ek wil sê,” kry sy uit voordat ‘n vraag in haar rigting gegooi word, “is dat ek jammer is vir Brendin se ouers. Werklik jammer. Hoe sou my hart gewees het as dit my kind was wat so wreed vermoor was? Hoe oorleef jy dit? My hart breek vir hulle! Ouers is nie gemaak om hul kinders te begrawe nie.”

    Anoniem, ook ‘n boer, het die volgende te sê: “Daar moet meer sulke geleenthede wees met élke liewe plaasmoord. Daar moet ‘n intense bewusmaking in die media wees, nes met hierdie geleentheid. Die regering en die skelms moet kennis neem dat die boere nie net meer gaan terugsit nie. Wet en orde moet herstel word.
    “Ons land is nou ‘n rampokkerstaat en word regeer deur militia.
    “Ons op die plaas het ‘n goeie voor-waarskuwing-sisteem. Ons het kameras oral, alarms asook ‘n radiosisteem. Die boere in ons omgewing meld elke oggend aan sodat ons kan seker maak dat almal veilig is.
    “Aanvallers sal nie sommer wegkom by ons nie. Ek glo dat aanvallers summier doodgeskiet moet word sodat dit as afskrikmiddel vir ander kan dien. As die doodstraf nie terugkom nie, gaan plaasmoorde nie stop nie.

    “Ons begin nou Zimbabwe se neigings in ons land sien, met ander woorde die staat laat militia toe om boere uit te wis. Daar móét ‘n groot bewusmaking in die land gebeur sodat die aanvallers kan sien dat boere begin opstaan. Dit gaan op ‘n kol bars.
    “As daar ‘n Derde Wêreld-Oorlog uitbreek, gaan daar ‘n tekort aan alles wees. Die massas gaan dan van oral aanval en daar gaan totale anargie wees.
    “Ek hoop nie dit gebeur nie. Ek hoop eerder dat die reënboognasie-ideaal oor almal sal skyn, nes Mandela dit wou hê. Dis haalbaar, maar andersins kan kriminele verantwoordelik wees vir anargie.”

    André van Rensburg van Krugersdorp meen hy het vandag besef dat Afrikaners leierloos is.  “Wie is daar vir ons wat die leierskap-leisels kan oorneem? Niemand nie!
    “Ons kan ook nie saamstaan nie. Selfs by vandag se byeenkoms kon ek mense hoor stry. Ek kon nie mooi hoor waaroor nie.
    “Koerante moet baie meer oor plaasmoorde verslag doen. Om bloot net in opstand te kom gaan nie help nie. Ons moet ‘n plan hê.
    “Ek het my eie besigheid. Ek verloor tans vyf ure se produksie as gevolg van beurtkrag. Alternatiewe energie kos my R200/uur. Nou het ek een van twee keuses: maak ek alles toe en dan verloor agt mense hul werk? Of pak ek alles op en skuif my besigheid Orania toe waar ek vir óns mense werk gee?

    “Daar sit mens dan met ‘n soortgelyke probleem. Wittes wil nie vir ‘n kleinerige salaris werk nie. Hulle wil min doen vir baie geld. Boonop sien hulle sekere werk as benede hulle.”

    Horner-monument: ‘Dis tyd vir saamstaan’ – Die Waarheid

Viewing 1 post (of 1 total)
  • You must be logged in to reply to this topic.