Loving Life TV

SHARPEVILLE

Home Forums NATS NIBBLES SHARPEVILLE

  • This topic is empty.
Viewing 1 post (of 1 total)
  • Author
    Posts
  • #397399
    Nat Quinn
    Keymaster
    (Vandag, 63 jaar gelede, het Sharpeville om tragiese redes deel van ons woordeskat geword. 21 Maart 1960… Ek (Dana Snyman – skrywer) het verlede jaar gesels met oom Jerry Oosthuizen, een laaste polisiemanne wat daardie dag daar was wat nog leef.)
    ALLES IN ‘N PAAR SEKONDES VERBY
    Oom Jerry begin nie dadelik oor Sharpeville praat nie. Hy sit eers ’n rukkie stil voor hom en uitkyk en tel dan sy pyp van die tafel voor hom af op.
    “Jy moet onthou,” sê hy. “Ek was maar 23 jaar oud, ’n jong sersantjie.”
    Hy sit die pyp weer neer en vryf met ’n hand vol are oor sy wange.
    In die kombuis is tannie Hettie, sy vrou, doenig.
    “Ek het lankal kontak verloor met die ander wat daar was.” Hy trek sy skouers op. “Miskien is ek al een wat nog leef.”
    Hy praat van die ander polisiemanne wat saam met hom by die polisiekantoor in Sharpeville naby Vereeniging was die dag toe ’n paar duisend mense daar opgedaag het om te protesteer teen die land se paswette. 21 Maart 1960. Daardie dag.
    Oom Jerry Oosthuizen kan moontlik die enigste van daardie groepie dienders wees wat nog leef. Die meeste is beslis al oorlede.
    In Mei sal oom Jerry 85 wees. Hy woon al jare hier op Kleinbaai naby Hermanus
    By die polisie se hoofkantoor in Pretoria kon of wou niemand my met inligting help nie.
    Op die ou end het ek oom Jerry met behulp van Facebook opgespoor en nou sit ons hier op die toegeboude stoep van sy huis op ’n kusdorp in die Wes-Kaap waar hy al vir jare afgetree is.
    Die oë sien nie meer so mooi nie, maar met sy geheue skort weinig.
    “Ek was in daai tyd in Soweto gestasioneer. By Moroka. Ek was nog ongetroud en het in die polisiebarakke in Kliptown gebly.” Hy vat weer na sy pyp, bedink hom, los dit weer.
    “Dit was rustig by ons, daai tyd. Jy’s jonk, jy stel nie belang in die politiek nie. Ek het nie soos nou die koerant gekoop nie.
    “Saam met my in die barakke was ’n sersant Roos. Tielman Roos. Hy kom toe daar aan en sê hulle verwag probleme Vereeniging se kant toe. Toe sê ek, reg, ek sal soontoe gaan as ek moet.”
    Dit was die dag voor die protesaksie in Sharpeville. ’n Sondag.
    Die veldtog is die vorige week deur die Pan-Africanist Congress aangekondig. Die plan was dat mense, swartmense, hulle was destyds verplig was om ’n pasboek te dra, oral in die land hul pasboeke by die huis sou los en na bepaalde polisiekantore gaan en daarop aandring om gearresteer te word.
    Die Maandagoggend, 21 Maart, gebeur dit toe ook:’n polisievragmotor kom laai ’n jong oom Jerry en nog so twintig manne – die meeste was swart konstabels – in Soweto op en neem hulle Sharpeville toe, minder as ’n uur se ry daarvandaan.
    Almal van hulle wat die oggend soontoe is, was bewus van wat twee maande tevore, op 8 Januarie, in Cato Manor naby Durban gebeur het toe nege polisiemanne – vyf swart, vier wit – wreedaardig deur inwoners mense doodgemaak is. Party van die lyke was so vermink dit kon nie uitgeken word nie.
    “Ek sal nie sê ek was toe al gespanne nie.” Oom Jerry skuif tot op die punt van sy stoel. “Ek het net ’n broek en ’n hemp aangehad. ’n Kêp ook. Polisieklere.”
    “Toe ons in Sharpeville aankom, toe is daar al heelwat mense. Dit was seker so tienuur se kant. Ons het redelik maklik by die hek ingekom. Daar het twee of drie konstabels gestaan wat die hek oop en toe gemaak het.”
    Rondom die polisiekantoor was ’n lae draadheining.
    “Hierdie gewone heinings wat jy by huise kry, ogiesdraad. En ’n hek, een van hierdie plaashekke, met ’n staalraam.
    “Ons gaan sê toe vir hulle in die polisiestasie ons is daar, en toe staan ons daar rond. Ek kan nie onthou hoeveel offisiere daar was nie. Daar was ook…” Oom Jerry bly ’n rukkie stil. “Wat’s die naam nou weer van daai panservoertuie wat ons gehad het?”
    Saracens?
    “Saracens, ja. Daar was van hulle ook.”
    Intussen het al meer mense daar aangekom om te protesteer, mans, vroues, oud, jonk, selfs kinders. Hoeveel mense op die ou end daar was, is moelik om te sê as jy nie self daar was nie. Tussen 5000 en 7000, sê die meeste bronne. Ander praat selfs van 20 000.
    “Daar was baie,” sê oom Jerry. “En hulle het al meer lawaaierig geword.
    “Toe hoor ek die ouer manne praat van ’n kolonel Pine Pienaar van Newlands. Laat Pine Pienaar net kom, sê hulle, hy vat nie nonsens nie.
    “Die mense staan toe daar en skree en so. Ek was toe al so ’n uur of twee daar. Kyk, toe is daar al baie. Die voorste klomp staan met hulle hande so bo-op die heining en skree en so. Toe’s daar al massa’s.
    “Toe kom hierdie kolonel Pienaar daar aan, in ’n gewone mouterkar, nie ’n polisiebakkie nie. Toe hy by die hek kom, toe maak die polisiemanne die hek oop, en terwyl hulle die hek oopmaak, toe storm die mense op die voertuig af. Hulle vat die voertuig alkante en gooi die voertuig so heen en weer. Ek sweer die wiele het opgelig. Maar hy kom darem deur en hulle druk weer die hek toe en al daai goed.
    “Maar die mense is toe teen die heining. Die voorstes het nie ’n keuse nie, die ander druk hulle van agter af dat die draad so ombuig, tot omtrent so hoog.” Oom Jerry beduie omtrent heuphoogte.
    “Maar, kyk, toe het dinge so vinnig gebeur. Blitsig! Kolonel Pienaar spring uit die voertuig en skree: “Tree aan!”
    “Oukei, toe tree ons aan. Ek raai nou maar daar was seker vyftien, twintig van ons gewees. Dalk meer. Blankes. Met gewere. Die swart polisiemanne is nie daai tyd toegelaat om vuurwapens te hê nie. Hulle het ’n entjie agtertoe gestaan.”
    Oom Jerry bly vir ’n rukkie stil. “Dit vat lank om dit te vertel. Maar dit het blitsig gegaan. Pienaar in ingekom, ons het aangetree. Ek het ’n Sten-geweer gehad. Outematies. Die ou goed was bekend daarvoor, in elk geval, hulle jêm die meeste van die tyd.
    “Ek het redelik na die linkerkant toe gestaan, daar was nog so drie, vier ouens links van my. Soos ek sê: Toe tree ons aan, toe brul die skare harder, en toe gooi hulle ons met klippe en goed. Ek het net gehoor, ’n geluid. Die ou links van my wat iets sê soos ‘Ouch!’ ’n Klip of ’n steen het hom in die maag getref.
    “Daar was nooit ’n bevel om te skiet nie. Almal was maar gespanne. Ek dink daai skok wat die ou gekry het toe die ding om in die maag tref, toe trek hy die sneller. Toe klap die skoot. En toe daai skoot klap, toe gaan dit kirrrrr.”
    Oom Jerry raak weer stil. “Die skietery het net ’n paar sekondes geduur. Ag, man, seker tien of twintig sekondes, ek weet nie, dalk bietjie langer, veertig sekondes of so, toe skree die offisiere: ‘Stop! Stop!’ Meer as een. Verskillende stemme. ‘Stop! Stop!’
    “Toe raak dit stil. Toe is almal doodstil. Net die dooies en swaar gewondes wat daar voor lê in die Transvaalse gras.”
    Nege en sestig dood. Honderd nege en sewentig gewond of beseer.
    “Een van hulle wat platgeval het, spring op en begin hardloop. Een van ons ouens skreeu: ‘Daar gaan hy!’ en lig sy geweer weer. Maar daai een offisier klap hom skoon uit sy geweer uit, dat die geweer val.”
    “Ek…” Oom Jerry druk sy vingerpunte teen mekaar. “Ek weet nie van die ander ouens nie. Dit was verskriklik. Ek sal dit nooit vergeet nie. Die een vrou. Sy was groterig gewees. Sy het op haar maag gelê. Op haar rug so ’n rooi kol, soos ’n roos, waar die koeël in of uit is.”
    “Voor die tyd het ’n ou swarte oorkant die pad by ’n gebou gesit. Hy was reg in lyn van die skietery. Wragtig, hy het niks oorgekom nie. Toe die mense daar dood lê, toe sit hy nog net so daar by ’n paal. Toe sit hy en kyk.
    Oom Jerry sluk-sluk asof hy die woorde probeer terughou.
    “Hulle het ook eintlik maar niks vir jou gevoel nie, jou eie mense. Ek het nie skoon klere by my gehad nie. Toe gaan laai hulle my by mense op Vereniging af, want elke dag moet ons patrolleer. Ek het sowaar as die Here meer as ‘n week daar gebly, dat ek nie ander klere kry nie.”
    Tannie Hettie kom by die deur in, met ’n foto-album in die hand. Sy blaai dit oop. Die een bladsy is leeg. Op die ander blad is foto’s van oom Jerry en heel onder, in die hoek, ’n gedeelte van ’n koerantberig, met die opskrif: “Hy het laag gemik, sê polisiesersant.”
    Die berig het destyds in die koerant verskyn toe oom Jerry getuig het voor die Wessels-kommissie wat die tragedie ondersoek het. Niemand is ná die ondersoek krimineel vervolg nie.
    “Hulle het ons op kollege geleer jy mik vir die voete en die bene as daar moeilikheid kom en jy moet skiet.” Oom Jerry kom stadig uit sy stoel orent. “Ek was seker maar ’n softie.” Hy maak vlugtig of hy ’n masjiengeweer in sy hande het. “Ek het net so gestaan met die Sten en die sneller getrek. Dit het twee keer so geruk-ruk in my hand. Dit was sekondes.”
    Hy het daarna in die polisie aangebly, maar ná ’n paar jaar het hy bedank en ’n vervoeronderneming begin. Later het hy vir die ou Buro van Staatsveiligheid begin werk en daarna, tot met sy aftrede, vir Nasionale Intelligensie.
    Hy leun vorentoe en tel sy pyp van die tafel af op, suig-suig daaraan, en vat na die dosie vuurhoutjies waar die album nou lê. In die album was nog Sharpeville-berigte, maar hulle het dit eerder uitgehaal en weggesmyt.
    Hy dink nog van tyd tot tyd aan daardie dag. “Ek dink altyd aan daai vrou as ek aan Sharpeville dink – die een wat daar op haar maag lê. Als het so vinnig gebeur. Dit was in sekondes verby.”
    Twintig of veertig sekondes wat nou al vir 60 jaar aanhou.
    (Hierdie storie verskyn in my jongste boek, In die Tyd van die Gif.)
Viewing 1 post (of 1 total)
  • You must be logged in to reply to this topic.