Loving Life TV

VEILIGHEID VIR GEMEENSKAPPE IN SUID-AFRIKA-ROLAND DE VRIES-EEN KORT ARTIKEL

Home Forums GENERAAL ROLAND DE VRIES (RET)-SAFETY EXPERT VEILIGHEID VIR GEMEENSKAPPE IN SUID-AFRIKA-ROLAND DE VRIES-EEN KORT ARTIKEL

  • This topic is empty.
Viewing 1 post (of 1 total)
  • Author
    Posts
  • #680
    Nat Quinn
    Keymaster

    VEILIGHEID VIR GEMEENSKAPPE IN SUID-AFRIKA
    Deur Roland de Vries

    AARD EN OMVANG VAN DIE UITDAGING TEEN MISDAAD-TERREUR

    Ernstige kommer word elke dag deur weerlose gemeenskappe in Suid-Afrika uitgespreek oor die eskalerende misdaad situasie en politieke vergrype, wat ons land meedoënloos teister!

    Dit sluit plaasaanvalle, plaasmoorde, geweldsmisdaad, algemene misdaad, veediefstal, toenemende politieke onrus, onwettige grondbetreding en besetting en dreigende grondonteiening sonder vergoeding in. Almal is dit eens dat die situasie daagliks deterioreer en dat die regering nie vir die veiligheid van sy wetsgehoorsame burgers omgee nie.

    Dit het tyd geword dat gemeenskappe moet opstaan, saamstaan en saamwerk om ons moeilike omstandighede te oorkom. Hiervoor is ’n omvattende strategie en gepaardgaande veiligheidsbeplanning vir gemeenskappe nodig. Dit wil sê, om die talle uitdagings te trotseer en om ons self effektief teen misdaad-terreur te beskerm.

    Die aard en omvang van ons uitdagings in Suid-Afrika kan soos volg opgesom word:

    -Gemeenskappe is getraumatiseer, angstig, kwesbaar, moedeloos, radeloos en verdeeld.
    -Daar is ’n baie hoë voorkoms van misdaad en geweld, asook moeilike ekonomiese en maatskaplike omstandighede.
    -Daar is nie genoegsame samewerking en vertroue tussen gemeenskappe, plaaslike regerings en ander rolspelers soos die polisie nie.
    -Die regering en ander staatsorgane (soos die polisie) bied nie vir ons mense voldoende beskerming teen misdaad nie.
    Daar bestaan nie voldoende en toepaslike misdaadinligting, om misdaad-terreur effektief te beveg nie.

    FUNDAMENTELE UITGANGSPUNTE

    Bogenoemde uitdagings noodsaak gemeenskappe om dringend organisatoriese vermoëns daar te stel, om hulself doeltreffend teen misdaad-terreur en politieke vergrype te beveilig.

    Om bogenoemde te verwesenlik, is dit nodig om ons mense teen die bedreiging te mobiliseer en om nasionale én internasionale steun vir gemeenskapsveiligheid te verwerf in om ons mense toe te rus met die nodige kennis, vaardighede en gesindhede, om gemeenskap beveiliging suksesvol te doen. Hierdie grootse poging neem in ag dat die meeste van die werk deur vrywilligers uitgevoer sal moet word en dat hulpbronne beperk is. Vindingrykheid sal aan die orde van die dag wees.

    Die doel hiermee is om die veiligheid, vrede, voorspoed en selfbehoud van weerlose mense en minderheidsgroepe in Suid-Afrika te verseker. Daarmee saam integreer dié beoogde beplanning verskillende gemeenskappe, relevante belangegroepe en veiligheid strukture. Sodoende kan meer druk op die regering geplaas word, om meer doelgerig teen misdaad op te tree.

    Eenheid van poging en samewerking tussen gemeenskappe dien as onderliggende beginsels, om die strewe na veiligheid te verwesenlik!

    Die oogmerke van die strategie behels onder meer die volgende:

    -Om ʼn geïntegreerde operasionele vermoë vir gemeenskappe daar te stel, wat doeltreffend tot die bekamping van misdaad-terreur in Suid-Afrika sal bydra.
    -Om ʼn nasionale gemeenskapsveiligheid stelsel vir gemeenskappe in ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse Grondwet en gemeenskap polisiëring wetgewing daar te stel.
    -Om nasionale bewustheid teen misdaad-terreur te skep en groter positiewe gemeenskapsbetrokkenheid te verkry. Laasgenoemde moet daadwerklik tot die regering en al sy staatsdepartemente se daadwerklike toetrede tot die stryd teen misdaad, armoede en werkloosheid bydra.
    -Om nasionale en internasionale steun te werf vir: Die meer doeltreffende bekamping van misdaad-terreur in Suid-Afrika deur private instansies; en om die regering tot beter landsbestuur en die bekamping van misdaad-terreur aan te spoor.

    Dit maak nie saak hoe klein die groeperinge van ons onderskeie gemeenskappe is wat teen misdaad-terreur en die regering se onvermoë veg nie! As ons saamstaan en doelgerig optree, kan ons wen.

    Die uitgangspunt is dat doeltreffende misdaadvoorkoming as belangrike voorvereiste vir vooruitgang en vrede in Suid Afrika dien.

    STRATEGIE TEEN MISDAAD IN BREË TREKKE
    Ons hardloop nie weg nie … Die strategie teen misdaad-terreur maak voorsiening vir die stelselmatige en doelgerigte vestiging van gemeenskapsveiligheidsteunkringe en veiligheidseenhede. Dit word beoog, oral waar daar misdaad brandpunte is en waar groei-areas geïdentifiseer is. Die veiligheidskonsep moet soos ʼn spinnerak landswyd ontplooi, soos oliekolle wat spoedig verder gaan versprei. John J. McCuen beskryf die benadering in sy bekende boek The Art of Counter-Revolutionary Warfare. Laasgenoemde word inderwaarheid as ‘n belangrike beginsel in die stryd teen misdaad-terreur voorgehou.

    In die verband word daar uitgereik na alle belangstellende gemeenskappe, persone en belangegroepe om saam te werk.

    Dit word beklemtoon dat alles wat die gemeenskap ter selfbeskerming aanpak, professioneel korrek en wettig is. Hier is ook geen sprake van bedreiging van inkomste van persone en organisasies wat reeds in die sekerheidswêreld opereer en hulle inkomste daaruit verdien nie. Dit gaan hier oor hande vat om almal se kennis en vermoëns uit te brei en te versterk.

    Optredes teen misdaad is nie bedoel vir geweld of oorlog nie. Dit is bloot vir paraatheid en die bereidwilligheid om die self, die omgewing en die gemeenskap te beskerm teen ‘n gemeenskaplike vyand. In die geval is die vyand onbeheerste misdaad en die primêre bedreiging misdaad-terreur en onwettige politieke vergrype. Waar proaktiewe aksies van die gemeenskap se kant af ter sprake is, word daar grootliks na die benutting van effektiewe inligting, tydige paraatheid en doelgerigte optrede verwys.

    Dit is die doel om ons mense op alle vlakke te ondersteun om beter inligting te bekom oor hulle eie omgewing en om die bedreigings beter te verstaan. Daar is opwinding oor die gemeenskappe, dorpe en gebiede wat reeds die leisels in hande geneem het; formele en informele gemeenskapsleiers wat reeds na vore tree en verantwoordelikheid aanvaar vir hulle omgewing; vroue en kinders wat begin verstaan dat kennis en begrip vir wat in ons land gebeur en hoe dit hulle raak vir elkeen belangrik is; mense wat besef dat bewustheid van gevare nie tot angs hoef te lei nie, maar die sleutel tot paraatheid is. Noel M. Tichy, het ʼn besonder goeie boek in die verband geskryf, getiteld Control Your Destiny or Someone Else Will.

    Te veel van ons mense bly passief vasgevang in ʼn greep van angs en ʼn belewenis van hulpeloosheid, magteloosheid en kragteloosheid. Dit is voorwaar trauma. Enige trauma sielkundige sal vir jou sê die pad uit trauma is om op te staan, te verstaan wat jou bedreig of jou getraumatiseer het, en dan proaktief beheer oor jou situasie en omstandighede te neem. Jy moet jou self (met die nodige ondersteuning) help om daardeur en daaruit te kom.

    MANIFESTERING VAN DIE BEDREIGING
    Misdaad-terreur en georganiseerde misdaad in Suid-Afrika kan met onkonvensionele oorlogvoering of vierdegenerasie-oorlogvoering vergelyk word. Dit beteken die vyand is in ons midde, maar in die meeste gevalle onsigbaar en onidentifiseerbaar. Uitgebreide netwerke van kriminele dade, soms onder leiding van georganiseerde misdaad en aktiviste groepe, word dikwels met militêre presiesheid uitgevoer. Dit is gewoonlik wreed en onderduims verby! Vra maar vir mense wat onmenslik wreed deur hulle aanvallers gemartel is. Daar is reeds te veel sulke gruwelstories om enkeles uit te sonder.

    Vierdegenerasie-oorlogvoering verwys ook na ʼn vorm van anargie, waar staatsinstellings óf deel van die probleem geword het óf magteloos daarteenoor staan; waar nié staatsinstellings ʼn land lamlê soos ISIS en Al-Qaeda in die Midde-Ooste; waar terreur aanvalle daagliks teen plase geloods word; waar openbare vervoerstelsels deur opstande soos taxi stakings en onluste tot stilstand gebring word; waar onwettige grond besettings, onwettige immigrasie en opstande voorkom; en waar eiendom vernietig word.

    Die regering gee skynbaar nie veel hieroor om nie; dit blyk veral uit die Minister van Polisie se onverskillige uitlatings wat gereeld gebeur en die polisie se onvermoë, en in sommige gevalle gebrek aan wil, om iets hieraan te doen.

    Onluste is ook besig om hand uit te ruk. Dit is onrusbarend en ook tragies dat Suid-Afrika in dié verband die pas in die wêreld begin aangee. Dit verwys na gereelde oproere wat onlangs in vele stedelike areas plaasgevind het en steeds plaasvind, wat as nasionale tragedies bestempel kan word. Hordes onwettiges, aangejaag deur aktiviste wat dorpe doodeenvoudig bestorm, begin plunder en huise en winkels aan die brand steek. Dit is hartverskeurend en skandalig dat die huidige regering en sy polisiemag dikwels teruggestaan en versuim om wet en orde te handhaaf en sy mense te beskerm.

    Die polisie erken self dat hulle nie hulle mandaat kan uitvoer nie!

    Daar is altyd verskonings van die regering se kant af. Luister maar na die sogenaamde ministers in dié opsig. Die reëlmaat van die ontkenning en ontduiking hou net nie op nie. Wat het geword van die begrip dat iemand wat in ʼn gesagsposisie aangestel is verantwoordelik en aanspreeklik gehou moet word vir sy uitsprake, optrede en versuim? Die vraag begin ontstaan of hier meer agter hierdie versuim skuil as wat op die oog af sigbaar is.

    Almal van ons weet dat kriminaliteit, en veral misdaad-terreur, soos ʼn bose swaard oor al die vrede-liewende mense in Suid-Afrika se koppe hang. Dit maak nie saak of jy op ʼn plaas, in ʼn krotbuurt, township of gegoede buurt bly nie, die kanse dat jy kan deurloop is ‘n werklikheid.

    Om heeltyd waaksaam te bly en om te weet wat om jou aangaan, het ʼn leefwyse in Suid-Afrika geword; dit is in skerp teenstelling met ʼn eens veilige, vreedsame en voorspoedig lewe. Selfs buitelandse toeriste loop deur en word geen genade betoon nie!

    Die kriminele is oral in ons oënskynlik vreedsame wêreld teenwoordig. Hulle word net moeilik raak gesien, want hulle lyk soos gewone mense. Hulle is ook daar waar ons kinders onder begeleiding skool toe geneem word. Hoe dan anders, in ʼn land waar die hoogste regeringsgesag die staatskas listig en lustig leeg plunder en korrupsie en wanbestuur goedsmoeds toelaat?

    GEMEENSKAPPE MOET SAAMSTAAN
    Wat maak goeie mense as oorlewing ter sprake is? Hulle staan saam en beveilig hulself en hulle gemeenskappe teen die euwels van ons tyd! As ons nie seker is nie is dit nou tyd dat ons uitvind hoe. Dit het tyd geword dat alle goeie mense saamstaan en vir die regering wys genoeg is genoeg!

    Eenheid van poging, wettige optrede, integrasie van vermoëns en samewerking met alle belangstellendes is wagwoorde, wat die gesamentlike stryd teen misdaad-terreur onderskraag.

    Dit is gebiedend noodsaaklik dat gemeenskappe in Geloof moet saam werk!

Viewing 1 post (of 1 total)
  • You must be logged in to reply to this topic.