Loving Life TV

VERBONDE – DEEL 2 – Verbond Adam voor die Val – Pieter de Klerk

Home Forums PIETER DE KLERK-OP DIE RADAR VERBONDE – DEEL 2 – Verbond Adam voor die Val – Pieter de Klerk

Viewing 1 post (of 1 total)
  • Author
    Posts
  • #402424
    pieterdeklerk
    Moderator

    DIE VERBOND VAN ADAM/EDEN VOOR DIE VAL

    In Deel 1 het ek die fondasie gelê vir die gesprek rondom Verbonde en wil begin met die eerste een.

    Hierdie is ‘n Voorwaardelik Verbond tussen God en Adam voor die Val, dus geld die grondbeginsel van “As jy doen dan sal Ek”

    Génesis 1:28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.
    29 Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees.
    30 Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin ’n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel. En dit was so.

    Génesis 2:15 Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.
    16 En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,
    17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

    Hoséa 6:7 Maar hulle het soos Adam die verbond oortree, daar het hulle troueloos teen My gehandel.

    IN BEHEER TEENOOR BEHEER

    Terwyl God altyd In Beheer is het Hy die Beheer oorgegee aan Adam.

    DIE DEELNEMERS AAN DIE VERBOND

    Die Verbond van Eden is gesluit tussen God en Adam, met Adam wat as die verteenwoordigende hoof van die hele mensdom opgetree het. Adam se optrede word dus aan die hele mensdom toegeskryf. Onthou, daar was toe nog geen Irsael nie, net die mensdom wat nog sou kom.

    DIE BEPALINGS VAN DIE VERBOND

    Daar was altesaam sewe bepalings in die Verbond van Eden.
    1) Die mens het die opdrag gekry: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde (Gén 1:28a). Die aarde is geskep met die doel om die mens se woonplek te wees, en die mens is daarna op die sesde dag geskape.

    Die mens is aangesê om die aarde te vul; die vermeerdering van die bevolking is dus deel van sy opdrag. Die mensdom moes die aarde vul.

    2) Die mens moes die aarde onderwerp (Gén 1:28b). Satan het vroeër gesag en beheer oor die aarde ontvang enn toe sy val.

    Eség 28:11 Verder het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
    12 Mensekind, hef ‘n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here Here: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid.
    13 Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei.
    14 Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes.
    15 Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is.
    16 Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut!
    17 Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien.
    18 Weens die menigte van jou ongeregtighede, deur die onreg van jou koophandel, het jy jou heiligdomme ontheilig; daarom het Ek ‘n vuur uit jou binneste laat uitgaan; dit het jou verteer, en Ek het jou tot as gemaak op die aarde voor die oë van almal wat jou gesien het.
    19 Al jou bekendes onder die volke is ontsteld oor jou; jy het ‘n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.

    Maar toe Satan geval het, het hy sy gesag oor hierdie aarde verloor. Dit is waarom Génesis 1:2 die aarde beskryf deur te sê dat dit met water bedek was, en dat daar duisternis … op die wêreldvloed was.

    Daarna het God die aarde nuut begin vorm en voor te berei om dit bewoonbaar vir die mens te maak, en hierdie keer het Hy die gesag oor die aarde aan die mens/Adam gegee.

    Die mens moes dit onderwerp; hy moes die aarde se natuurlike hulpbronne en kragte gebruik wat God vir hom voorsien het. Dit het egter nie beteken dat hy toegelaat is om dit te besoedel nie!

    3) Die derde bepaling het die mens het heerskappy oor alle lewende dinge ontvang (Gén 1:28c). Die vroeëre bepaling het aan die mens gesag gegee oor die aarde in soverre dit nie-lewende dinge betref het. Hierdie bepaling het die mens se gesag uitgebrei oor alle lewende skepsels.

    Die hele diereryk op die aarde, in die lug en in die see is onder die mens se gesag geplaas. Die eerste uitoefening van hierdie gesag was die mens se benoeming van die diere (Gén 2:19-20).

    4) Die vierde bepaling het oor die mens se dieet gehandel (Gén 1:29-30; 2:16). Die mens was in hierdie stadium bestem om ’n vegetariër te wees.

    Daar is geen bepaling in hierdie verbond wat hom toegelaat het om van die diereryk te eet nie, hoewel hy gesag daaroor moes uitoefen. Geen bloed van enige aard mag gestort geword het nie.

    5) ’n Vyfde bepaling het die mens aangesê om die Tuin van Eden te bewerk en te bewaak (Gén 2:15).

    Selfs in sy sondelose staat was die mens nie veronderstel om ’n lewe van suiwer ontspanning te lei nie; werk was selfs voor die Sondeval al deel van die menslike etos. Toe was werk egter maklik, en die grond het maklik voortgebring; werk was nie swaar en moeilik nie.

    Net so moes die mens dit ook bewaak, maar het nie, en so het die slang ingesluip. Die afleiding kan dus gemaak word dat Adam en Eva bewus moes gewees het van gevaar. Anders waarvoor bewaak? Hierdie is slegs my mening

    6) Die sesde bepaling was dat die mens verbied was om te eet van die boom van die kennis van goed en kwaad (Gén 2:17a).

    Nou kom ons by die Voorwaardelik deel van die Verbond van “as jy doen dan sal Ek”.

    So wat moes Adam DOEN? Hy moes homself weerhou om van die boom te eet. Dit was al wat God van Adam verwag het. Niks anders, niks meer. Niks laste en swaar werk nie. Nee, net een eenvoudige ding. Solank hy dit gedoen het, het God hom geseën.

    Dít was die enigste negatiewe gebod in die hele Verbond van Eden, en was die één punt wat die mens se gehoorsaamheid sou toets. Dit was die één toets om te sien hoe die mens op die wil van God sou reageer; dit was ’n toets van die erkenning van en onderwerping aan God se wil.

    Die mens was nie veronderstel om aan te neem dat hyself onafhanklik van God was, en van God se wet vrygestel was, omdat daar aan hom gesag en beheer oor die aarde en die diereryk gegee is nie.

    Die vraag wat hieruit ontstaan, is: ‘Sal die mens, soos Satan voor hom, God se reg om te regeer verwerp en verklaar dat hy onafhanklik van God is?

    En hoe kom ons nie vandag nog steeds in opstand teen God nie. God word uit die wêreld verban en die mense probeer om God te wees. Maar wat eintlik gebeur is dat die mens bly die beheer teruggee aan Satan.

    Jesus het daardie BEHEER van Satan weggeneem op die kruis. Maar die mens, net soos Adam, bly die BEHEER teruggee aan Satan.

    7) Die sewende bepaling het ’n straf vir ongehoorsaamheid bevat: die geestelike dood (Gén 2:17b). Dit kan nie na fisiese dood verwys nie, want die mens het nie op dieselfde dag gesterf as wat hy die gebod oortree het nie. Die dood waarvan hierdie gedeelte praat, moet dus geestelike dood wees. Op die dag wat hy eet van die boom van die kennis van goed en kwaad, sal hy van God geskei word en geestelik sterf.

    DIE STATUS VAN DIE VERBOND

    Die Voorwaardike Verbond van Eden het die grondslag van die Bedeling van Onskuld gevorm. Die verhaal oor hoe die Verbond van Eden verbreek is, word in Génesis 3:1-8 aangetref.

    SATAN SE LEUEN

    Satan het in die Tuin van Eden as ’n gevalle skepsel verskyn. Dit wys dat die mens nie in ’n perfekte heelal geskep is nie, want sonde het reeds bestaan. Hoewel dit nog nie in die mens bestaan het nie, was dit reeds in Satan teenwoordig. Satan het sy taak om die mens te versoek op dieselfde drie terreine aangepak as wat ons in 1 Johannes 2:16 aantref.

    Die eerste frase van Génesis 3:6, Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet, stem ooreen met die eerste frase van 1 Johannes 2:16: die begeerlikheid van die vlees.

    Die tweede frase van Génesis 3:6, en dat hy ’n lus was vir die oë, stem ooreen met die tweede frase van 1 Johannes 2:16: die begeerlikheid van die oë.

    En die derde frase van Génesis 3:6, wat ’n mens kan begeer om verstand te verkry, stem ooreen met die derde frase van 1 Johannes 2:16: en die grootsheid [trots] van die lewe.

    Kan julle sien dat Satan altyd dieselfde taktiek gebruik en elke slag val die mens van voor af weer daarvoor.

    Eva het geswig voor die versoeking en die één negatiewe gebod verbreek. Adam het besef wat gebeur het, maar nog steeds gekies om sy vrou in ongehoorsaamheid te volg.

    Hul eerste reaksie was om te probeer wegkruip vir God, wat bloot die waarheid van Génesis 2:17 beklemtoon. Die mens het op daardie juiste oomblik geestelik gesterf, en kon nie meer dieselfde gemeenskap met God geniet wat hy voor sy ongehoorsaamheid gehad het nie.

    Met daardie daad het die Verbond van Eden, wat voorwaardelik was, geëindig.

    Dit kon alles daar geeindig het, God kon Adam en Eva daar ook met vleeslike dood getref het, maar weet julle, God is lief vir jou en my dat Hy ons ‘n kans gegee het.

    Johannes 3:16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
    17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

    Die mensdom was van daar verlore maar God het ‘n plan gehad, ‘n plan wat oor 7000 jaar sou sterk. Ons is nou so naby aan die einde van 6000 jaar.

    Instede daarvan dat God Adam veroordeel het, het Hy ‘n tweede Verbond met Adam aangegaan en die mensdom ‘n verder kans gegee.

    Vir 6000 jaar leef ons in die Moeder Belofte.

    Genesis 3:14 Toe sê die Here God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe.
    15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.

    Daar in die tuin het God Satan se lot bepaal en dit is wat vandag die oorsaak is van al die gebeure rondom ons.

    Deel drie volg

Viewing 1 post (of 1 total)
  • You must be logged in to reply to this topic.